Huurder en Verhuurder : Oorweeg die Tribunaal as ‘n dispuut ontstaan
“Skik eerder want die reg is ‘n duur proses.” (So het Marcus Tullius Cicero, Romeinse regsgeleerde en staatsman duisende jare gelede al aanbeveel.)
Ons weet almal hoe maklik ‘n misverstand of dispuut tussen ‘n huurder en verhuurder kan ontstaan. Dikwels is gesonde kommunikasie of ‘n mate van onderhandeling voldoende om die geskil op te los. As dit nie werk nie kan ‘n onafhanklike tussenganger dan nodig wees.
Die Verhuringstribunaal is die aangewese tussenganger wat die Wet op Huurbehuising gebruik om dispute tussen verhuurder en huurder spoedig op te los. Die tribunaal moet beide partye se belange balanseer en moet ook beide kante teen onbillike praktyke en uitbuiting beskerm.
Hou in gedagte dat hierdie wet en tribunaal slegs van toepassing is op residensiële eiendom soos ‘n woonhuis of woonstel. Dit is nie op huurkontrakte vir kommersiële en nywerheidspersele van toepassing nie.
Wat beloop die kostes en hoe werk dit?
Hierdie dienste is gratis en verniet. Die proses begin wanneer een van die partye die geskil na die plaaslike Tribunaal verwys. ‘n Onpartydige mediator sal dan aangestel word om die partye te help om die aangeleentheid aan te spreek en tot ‘n skikkingsooreenkoms te kom. Indien die partye nie tot ‘n vergelyk kan kom nie word die dispuut formeel aangehoor. Aan die einde van die verrigtinge word ‘n bevinding gemaak. Die bevinding is bindend en moet nagekom word en kan strafregtelik afgedwing word. Enige van die partye kan die bevinding op hersiening na die Hooggeregshof neem.
Jy kan self die klagte opstel en self die saak by die Tribunaal voer. Dit is egter veiliger om jou regsverteenwoordiger opdrag te gee om dit te hanteer, veral as daar baie op die spel is.
Die Tribunaal is nie by magte om ‘n uitsetting te gelas nie; slegs ‘n hof kan so ‘n bevel uitreik. Daarom sal ‘n verhuurder dikwels eerder dadelik wil begin met ‘n formele hofsaak.
Vir die meeste dispute behoort huurders en verhuurders ernstig te kyk na die vinnige, maklike en goedkoper opsie van ‘n verwysing na die Tribunaal.
Voorkoming is beter as genesing…
Dit is natuurlik die beste om enige dispuut in geheel te vermy. Begin met ‘n huurooreenkoms wat volledig en duidelik opgestel is. Maak seker dat jy aan die basiese voorskrifte voldoen soos gesamentlike inspeksies vir enige skade aan die perseel, belegging en terugbetaling van die huurdeposito en vermyding van enige onbillike huurpraktyke.
Verkry bystand van jou prokureur. Om bloot ‘n standaard huurooreenkoms te gebruik sonder om toegepaste advies te verkry is nie aan te beveel nie.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.