Kruis of munt? Die wetlike limiet vir betalings in munte (en iets oor bitcoin)
Neem die volgende scenario – jy wen ‘n groot hofsaak. Ingevolge die hofbevel moet jou teenstander ‘n groot geldbedrag aan jou oorbetaal. Dan daag hy by jou op om die geldbedrag aan jou oor te betaal. Die fondse is egter in munte in ‘n konvooi vragmotors in navolging van die Apple / Samsung geval hierbo.
Scenario 2: Jy is ‘n verhuurder van ‘n perseel. Jou huurder is vir een of ander rede baie ongelukkig met jou. Dan daag hy by jou kantoor op om volgende maand se huur aan jou oor te betaal. Alles in sakke met 10 sent stukke. Wat is jou regte?
Scenario 3: Jy is die eienaar van ‘n supermark. ‘n Klant kom doen aankope en wil dan vir sy trollie goedere R500 se R1 munte aanbied – moet jy dit aanvaar?
Of jy is ‘n motoris wat ongelukkig is oor ‘n verkeersboete wat jy nooit moes kry nie. Uit moedswilligheid kom jy by die munisipale teller aan met ‘n ingewikkelde versameling van alle Suid Afrikaanse munte waarop jy jou hande kon lê. Moet die teller vir die volgende uur of wat jou versameling munte tel?
Wat is "wettige tender”?
Ons moet die antwoord gaan soek by die Suid-Afrikaanse Reserwebank se beleid oor “wettige tender”. As die betaling in wettige tender is, moet jy dit aanvaar. As jy met banknote betaal, kan enige bedrag betaal word, of dit nou met R10 of R200 note of enige kombinasie daarvan betaal word.
Daar is darem duidelike beperkinge as dit by betaling van geld in klinkende munt kom, en wel as volg vir elke individuele transaksie -
- Met R1, R2 of R5 munte is die beperking R50.
- Met 10c, 20c of 50c munte is die beperking R5.
- Met 5c munte of selfs kleiner munte (alhoewel dit nie meer gemunt word nie, is dit steeds wettige tender) is die beperking 50c.
“Bitcoin”: Waaroor gaan dit?
Bitcoin vind ons heel aan die ander kant van die betalingspektrum. Dit is ‘n digitale geldeenheid en ook ‘n virtuele en informele betaalstelsel. Dit spook regoor die wêreld by regerings en reguleerders. Gedesentraliseerd. Sonder grense. Sonder enige verbintenis met enige bank of sentrale bank wat dit beheer. Anonieme bankwese. ‘n Wilde Weste kuberbankier sonder enige reguleerder in sig. Dit mag dalk met tyd verander soos wat die internasionale owerhede probeer om ‘n mate van regulasie in te bring. Owerhede sal ten minste transaksies kan monitor vir finansiële misdade soos geldwassery, die befondsing van terrorisme, belastingontduiking en verbreking van regulasies oor die uitruil van internasionale geldeenhede. Net die tyd sal leer of daar enige vordering hierin gemaak gaan word.
In Suid-Afrika is Bitcoin –
- In geheel ‘n wettige manier om iemand te betaal of betaling te ontvang. Dit is egter nie wettige tender nie, so niemand kan jou dwing om betaling in Bitcoin te aanvaar nie. Indien jy in Bitcoin betaling ontvang gaan jy steeds aan FICA wetgewing en ander regulasies moet voldoen (indien jy onseker is wat dit behels, verkry advies hieroor).
- ‘n Moontlike beleggingsgeleentheid vir diegene wat kans sien vir risiko en onsekerheid en wat dit kan bekostig om hulle hele belegging in Bitcoin te verloor. Vir elke een persoon wat dit as ‘n beleggingsgeleentheid gaan sien, sal daar waarskynlik een honderd persone wees wat die gepaardgaande onsekerhede en risiko aan jou gaan uitwys en beklemtoon. Indien jy ten spyte hiervan steeds oorweeg om in Bitcoin te belê, moet jy ook kennis neem van moontlike grys gebiede rondom die hantering van belasting en wetgewing oor buitelandse valuta.
- Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet jy duidelik weet dat jy Bitcoin in geheel op jou eie risiko gebruik. Jy geniet geen regsbeskerming nie; jy het geen waarborg van intrinsieke waarde, omskakeling of stabiliteit nie; en jy het ook die risiko van bedrog, diefstal en ongemagtigde aanwending. Diegene ten gunste van die gebruik van Bitcoin is weer van mening dat die risiko’s deur gevestigde belange heeltemal oordryf word. Vir nou lyk dit egter of ‘n skeptiese houding die veiliger opsie gaan wees – jy kan alles in ‘n oogwink verloor of jy kan binne ‘n oogwink ‘n fortuin maak – ons weet net nie watter een dit gaan wees nie.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.