‘n Dertiende Tjek : Is Daar So ‘n Jaarlikse Verpligting?
As uitgangspunt moet ons aanvaar dat daar geen outomatiese reg op ‘n dertiende tjek of ‘n bonus in ons arbeidswetgewing is nie. Daar kan wel spesifiek voorsiening hiervoor wees in ‘n indiensnemingskontrak, maatskappybeleid of dalk in ‘n oorkoepelende kollektiewe ooreenkoms vir ‘n spesifieke bedryf. Wat sê hierdie dokumente of beleide oor bonusse? Is daar ‘n waarborg van ‘n bonus? Is daar voorwaardes hieraan verbonde soos maatskappywinste wat bereik moet word, werknemers wat sekere omsette moet bereik of ander bydraes wat vooraf ooreengekom is? Het die eienaars ‘n algehele diskresie oor bonusse?
Selfs waar daar nie ‘n spesifieke ooreenkoms hieroor is nie, moet jy ook kyk na die geskiedenis en na die betaling van bonusse in die verlede. Word daar skielik afgewyk van ‘n praktyk wat al oor jare met bonusse gevolg is, kan die werknemers aanvoer dat dit ‘n eensydige wysiging is van hul diensvoorwaardes, dat daar nie met hulle oor die wysiging gekonsulteer is nie en dat dit gevolglik ‘n onbillike arbeidspraktyk daarstel. Afgesien van die voorskrifte van die arbeidsreg, moet mens ook afvra wat dit aan die werknemers se moraal gaan doen as daar ‘n algemene verwagting van ‘n bonus is, wat dan nie materialiseer nie.
Wat van werknemers wat op ‘n vaste termynkontrak aangestel is?
‘n Onlangse arbitrasietoekenning van ‘n Bedingingsraad het bevind dat waar ‘n munisipaliteit ‘n dertiende tjek aan alle voltydse werknemers betaal, dit ‘n onbillike arbeidspraktyk is om nie ook bonusse te betaal aan werknemers wat op ‘n vaste termynkontrak aangestel is nie. Wees dus versigtig om met jou diensvoorwaardes tussen ‘n groep werknemers te onderskei, terwyl hulle dieselfde of soortgelyke werk verrig.
Werknemers : Finale gedagtes hieroor
Onthou dat Jan Taks ook geregtig is op ‘n gesonde porsie van jou bonus – dikwels meer as wat jy verwag het. Voordat jy jou bonus in jou geestesoog op feesaankope gaan spandeer, lees gerus “Warning: don't blow that bonus” op IOL.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.