“Breek Af Of Gaan Sit Agter Tralies” Hof Aan Ontwikkelaar
Dertig dae – dit is hoe lank hierdie ontwikkelaar tronk toe moet gaan as hy nie sy onwettige bouwerk afbreek nie.
Wysiging aan die planne …..
- ‘n Eiendomsontwikkelaar het munisipale toestemming verkry om ‘n woning op sy eiendom op te rig.
- Die munisipaliteit het die bouwerk kom inspekteer en gevind dat die bouwerk wesentlik afgewyk het van die goedgekeurde bouplanne. Die munisipaliteit het toe ‘n hofbevel verkry om die bouwerk tot ‘n halt te bring.
- Die ontwikkelaar het hom nie aan die hofbevel gesteur nie, ook nie aan kennisgewings om sy posisie te verduidelik nie. ‘n Kennisgewing dat hy met die bouwerk moet staak en uiteindelik ‘n kennisgewing dat hy in stryd met die hofbevel optree, het ook nie die voortsetting van sy bouwerk gestuit nie.
- Die saak het weer voor die hof gedien. Hy het die hof probeer oortuig dat, aangesien hy aansoek gedoen het vir ‘n vergunning om van sy bouplanne af te wyk, hy geregtig was om met sy bouwerk voort te gaan.
- Die hof was nie beïndruk met hierdie argument nie. Die hof weier om hierdie optrede te aanvaar of te kondoneer en bevind hom skuldig aan minagting van die hofbevel.
- Die hof maak dit duidelik dat hierdie hofverrigtinge nie net ten doel het om die hof se waardigheid te beskerm nie, maar ook moet toesien dat hofbevele in die algemeen uitgevoer moet word. Die hof vonnis die ontwikkelaar dan tot gevangenisstraf van dertig dae, wat opgeskort word vir ‘n periode van twee jaar. Die opskorting van die gevangenisstraf is onderhewig daaraan dat die ontwikkelaar die onwettige bouwerk binne dertig dae moet afbreek en dat hy die oorspronklike hofbevel in geheel moet eerbiedig en nakom.
Wat staan jou te doen indien jou buurman onwettig bou?
Ons het in vorige Nuusbriewe aangedui dat jy regshulp moet inroep sodra dit duidelik is dat daar onwettig in jou omgewing gebou word. Vinnige en gepaste regsoptrede is noodsaaklik.
Die hof het dit hier ook duidelik gestel dat afgesien van hul statutêre plig het munisipaliteite ook ‘n morele plig om toe te sien dat die wet nagekom word en dat daar aan bouregulasies en hofbevele voldoen word. Die howe sal munisipaliteite ook deeglik bystaan om hierdie pligte na te kom.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.