Drie stappe vir die aankoop van jou eerste huis
“Geluk is om jou eerste huis te koop” (Anoniem)
Min dinge in die lewe bring soveel vreugde as jou eerste tree oor die drumpel van jou eerste huis. Baie van ons droom vir baie jare van hierdie spesiale oomblik. Die tyd is dalk nou reg vir jou om hierdie droom te verwesenlik.
Uit ‘n finansiële oogpunt neem jy terselfdertyd een van die belangrikste beleggingsbesluite van jou lewe.
Hier is 'n paar riglyne om jou te help om wyse besluite te neem -
Stap 1: Wat is jou prysklas?
Die eerste stap is om te bepaal in watter prysklas die eiendom wat jy wil koop, gaan val. Jy moet vasstel hoeveel fondse jy beskikbaar het en hoeveel jy elke maand sal kan betaal vir die voorreg om jou eie huis te besit.
Jy mag dalk in die versoeking wees om ‘n groter bedrag te spandeer as wat jy werklik kan bekostig. Dit is egter nie nou die tyd om met oordrewe bedrae in jou begroting te werk nie. Jy moet deurentyd realisties met jouself wees wanneer jy jou maandelikse inkomste en uitgawes bereken.
Dit is ook ‘n goeie idee om op hierdie stadium jou kredietrekord na te gaan. Dit sal keer dat jy onaangename terugvoering kry wanneer jy aansoek doen vir ‘n verbandlening.
Wat gaan jou maandelikse uitgawes wees?
- Jou verbandpaaiement: Jou grootste uitgawe gaan waarskynlik jou maandelikse verbandpaaiement wees. Begin by een van die vele beskikbare aanlyn rekenaars om vas te stel wat die huislening is wat jy op jou maandelikse begroting kan bekostig. Dink mooi of jy gelukkig sal wees met die leefstyl wat jy kan bekostig nadat jy elke maand jou verband betaal het.
Jy sal by verskillende instansies navraag doen vir die beste rentekoers. Die koerse begin reeds om te styg. Jy moet dus realisties wees en seker maak dat, indien rentekoerse op 'n stadium terugkeer na die hoë vlakke wat ons in die verlede gesien het, jy steeds die maandelikse terugbetalings kan bekostig.
Kry voor die tyd skriftelike goedkeuring van die bank vir die maksimum bedrag waarvoor jy kwalifiseer. Daar is beperkings op kredietverleners wanneer dit kom by verantwoordelike uitleenpraktyke. As jy weet wat die maksimum bedrag is waarvoor jy kwalifiseer, sal jy weet watter koopbedrag jy kan bekostig. Dit plaas jou ook in ‘n sterk posisie om te onderhandel wanneer jy gereed is om ‘n aanbod te maak.
- Ander maandelikse koste: Jy moet al die ander maandelikse uitgawes wat met eiendomsbesit gepaardgaan, in jou begroting byreken. Dit is 'n belangrike aspek wat maklik misgekyk word met al die opwinding met jou aankoop. Dink aan huiseienaarsversekering, eiendomsbelasting, gebruikstariewe, heffings, sekuriteitsdienste, en dienste soos elektrisiteit, water, riool en dies meer.
Wanneer jy vir huis- en tuinonderhoudskostes begroot, maak ook voorsiening vir langtermynuitgawes soos verfwerk, dakherstelwerk, ensovoorts.
Hoeveel kontant sal jy vooraf benodig?
- Die kontantdeposito: Tensy jy die volle koopprys in kontant kan betaal, sal jy ’n huislening (verband) moet aangaan. Hoewel jy dalk vir 'n 100% verband kwalifiseer, sal die meeste kopers ten minste 'n 5% tot 10% kontantdeposito moet betaal.
- Verbandkoste: Jou verband moet deur die bank se prokureurs in die Aktekantoor geregistreer word. Maak voorsiening vir beide die registrasiekoste en die bank se aanvanklike verwerkingsfooi.
- Oordragkoste: Tensy jou verkoopsooreenkoms anders bepaal (baie onwaarskynlik), sal jy die oordragkoste aan die transportbesorger ("oordragprokureur") wat die registrasie van die eiendom in jou naam in die Aktekantoor hanteer, moet betaal.
- Hereregte: Tensy dit ‘n BTW-transaksie is, sal die verkoopooreenkoms bepaal dat jy die hereregte betaal, wat 'n staatsbelasting op eiendomsverkope is. Geen belasting is betaalbaar op 'n eiendom met ‘n waarde van minder as R1 miljoen nie. Die hereregte wat wel betaalbaar is, word ingevolge ‘n glyskaal bereken op die koopprys van die betrokke eiendom. Die tabel hieronder sit die toepaslike hereregte uiteen.
Hereregte is betaalbaar teen die volgende tariewe op transaksies wat nie aan BTW onderhewig is nie:
Verkryging van eiendom deur alle persone:
Bron: National Treasury
- Verhuisingskoste: Hierdie uitgawe word maklik oor die hoof gesien, maar jou totale verhuisingskoste kan baie hoër wees as wat jy verwag as jy al die "versteekte" uitgawes soos herversiering, meubilering, nuwe internetverbindings, ensovoorts insluit.
- Bou 'n gebeurlikheidsfonds op: Dit maak nie saak hoe noukeurig jy jou uitgawes beplan nie, iets kan onvoorsiens opduik. Of dinge kos meer as waarvoor jy begroot het. Of daar is 'n onvoorsiene noodgeval. Maak seker dat jy kontantreserwes opbou om hierdie gevalle te hanteer.
Stap 2: Kom ons soek daardie droomhuis!
Jy het jou prysklas bepaal. Nou begin jou opwindende soeke na jou droomhuis.
Hier is 'n kontrolelys om jou aan die gang te kry -
- Ligging, ligging, ligging: Op watter gebied gaan jy fokus? Waar wil jy woon? Na watter soort leefstyl soek jy? Beplan jy om van die huis af te werk? Moet jy 'n troeteldiervriendelike area vind? Watter geriewe wil jy naby hê? Is daar goeie skole in die omgewing? Doen navorsing oor die area – wat is die gemiddelde verkooppryse in die spesifieke gebied en hoe pas dit in jou begroting? Het huise in hierdie omgewing 'n geskiedenis van goeie groei in waarde? Hoe is misdaadvlakke en is dit veilig?
- Watter soort huis soek jy? Hoeveel kamers het jy nodig? Sal jou behoeftes in die toekoms verander? Het jy 'n tuiskantoor nodig? 'n Oumawoonstel? 'n Groot tuin? ‘n Swembad? Die moontlike vrae is legio. Dink aan die langtermyn sowel as aan jou onmiddellike behoeftes. Hou in gedagte dat jy vroeër of later weer sal wil verkoop, so dink nou al daaraan of die vereistes waarna jy soek ook in die toekoms by ander kopers aanklank sal vind.
- Die soektog: Met jou prysklas en teikenarea afgebaken, kan jy nou met erns met jou soektog begin. Aanlyn soektogte word al hoe gewilder, maar kies die kanaal waarmee jy gemaklik is. Jou prokureur sal waarskynlik waardevolle kennis van die plaaslike huismark hê en behoort jou na 'n betroubare eiendomsagentskap of twee te kan verwys.
- As jy in 'n gemeenskapskema koop: Kyk na die toepaslike Reëls en Regulasies – jy sal daaraan gebonde gehou word. Maak seker dat die Huiseienaarsvereniging of Regspersoon se finansies gesond is (vra vir geouditeerde finansiële en bestuursrekeninge). Vra oor enige spesiale heffings wat reeds in plek is of ander beplande uitgawes wat voorsien word (kry dit op skrif). Verkry professionele advies indien jy oor enigiets twyfel.
- Planne, gebreke en dies meer: Die nuwe Wet op Eiendomspraktisyns vereis dat die verkoper enige gebreke of tekortkominge skriftelik moet openbaar. Dit moet in 'n skriftelike dokument by die koopooreenkoms aangeheg word. Bestudeer dit noukeurig! Dit is raadsaam om ook jou eie huiswerk te doen. Vra vir afskrifte van goedgekeurde bouplanne (kyk vir enige onwettige strukture of afwykings van die goedgekeurde planne), soek en doen navrae oor defekte soos lekkende dakke en probleemfondamente. Oorweeg dit om 'n volledige professionele verslag te verkry, tensy jy baie seker is oor jou eie vermoëns en kennis oor bou-aangeleenthede en strukture.
Stap 3: Maak jou aanbod
- Noudat jy jou droomhuis gevind het, is dit tyd om jou aanbod te maak. Gaan die verkoper dit aanvaar, of dalk ‘n teenaanbod maak? Jy teken ‘n aanbod om te koop, (soms ook bekend as ‘n koopooreenkoms) met of sonder die hulp van ‘n eiendomsagent.
- Moenie enige kanse vat nie! Laat jou prokureur die papierwerk nagaan voordat jy jou tot enigiets verbind. Vra ook vir Aktekantoor en ander nasoeke oor enigiets wat jou besluitneming kan raak – dink aan beperkende titelaktevoorwaardes, serwitute (wat ander mense regte oor jou eiendom gee), veranderings wat sonder munisipale planne en goedkeuring uitgevoer is, soneringsvoorwaardes, ensovoorts.
- Maak seker dat enige mondelinge ondernemings of openbaarmakings wat aan jou gegee word, volledig in die skriftelike ooreenkoms verskyn. Dit is belangrik om hierdie ondernemings op skrif te hê.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.