Vanaf 1 Maart 2022: Nuwe Verdienstedrempel en Nasionale Minimumloon
Werkgewers en werknemers moet die jaarlikse verhogings in beide die Nasionale Minimumloon en die Verdienstedrempel nagaan. ‘n Opsomming hiervan is hieronder beskikbaar vir jou gerief. Albei tree vanaf 1 Maart 2022 in werking.
Die verhoging in die Nasionale Minimumloon
Die Nasionale Minimumloon (NML) vir elke gewone uur gewerk is met 6,9% van R21,69 tot R23,19 per uur verhoog.
Om Minister van Indiensneming en Arbeid Thulas Nxesi aan te haal -
“Soos in vorige jare bied die aanpassing uitsonderings vir verskeie werkersgroepe, insluitend:
- Plaaswerkers is geregtig op 'n minimum loon van R23,19 per uur.
- Huiswerkers is geregtig op 'n minimum loon van R23,19 per uur.
- Werkers in diens van 'n uitgebreide openbarewerke-program is geregtig op 'n minimum loon van R12,75 per uur.
-
Werkers wat leerlingskapooreenkomste soos beoog in artikel 17 van die Wet op Vaardigheidsontwikkeling, 1998 (Wet No 97 van 1998), gesluit het, is geregtig op die toelaes soos vervat in skedule 2.
Dit is onwettige en onbillike arbeidspraktyke vir 'n werkgewer om werksure of ander diensvoorwaardes eensydig te verander om die NML te implementeer. Die NML is die bedrag betaalbaar vir gewone werksure en sluit betaling van toelaes (soos vervoer, gereedskap, kos of verblyf), betalings vir spesifieke uitgawes (soos losies of verblyf), fooitjies, bonusse en geskenke uit."(Vrylik vertaal)
Huiswerkers
Die lone van Huiswerkers is vir die eerste keer in lyn met die NML gebring deur 'n 21,5%-verhoging vanaf 2021 se R19,09 per uur. As 'n werkmaand van 21 dae x 8 uur per dag aanvaar word, is R23,19 per uur gelyk aan R3 895,92 per maand . Die Lewende Loon-sakrekenaar sal jou help om te kyk of jy jou huishulp werklik genoeg betaal om 'n huishouding se "minimum behoeftes" te dek.
Die verhoging in die Verdienstedrempel
Die jaarlikse verdienstedrempel waarbo werknemers sommige van die beskermings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes verloor, is verhoog van R211 596,30 per jaar tot R224 080,48 per jaar.
"Verdienste" (slegs vir hierdie doel) beteken "die gereelde jaarlikse vergoeding voor aftrekkings, d.w.s. inkomstebelasting, pensioen, mediese en soortgelyke betalings, maar uitgesluit soortgelyke betalings (bydraes) gemaak deur die werkgewer ten opsigte van die werknemer: Met dien verstande dat verblyf- en vervoertoelaes wat ontvang is, prestasietoekennings en betalings vir oortyd wat gewerk word, nie as vergoeding beskou word nie.”
Om weer uit die minister se aankondiging aan te haal: “Hierdie artikels van die wet beskerm kwesbare werknemers deur onder andere werksure, oortyd, … onbillike skedules, werktyd, gemiddelde werksure, etenstye, daaglikse en weeklikse rusperiodes, en betaling vir werk op Sondae te reguleer, asook nagdiens en werk op openbare vakansiedae.”
Die drempel het ook 'n impak op sommige van die beskerming wat in die Wet op Arbeidsverhoudinge voorsien word –
- Werknemers wat minder as die drempelbedrag verdien, wat vir langer as drie maande deur 'n tydelike indiensnemingsdiens (“arbeidsmakelaar”) aan 'n kliënt gekontrakteer word, word geag deur daardie kliënt in diens geneem te wees, tensy hulle werklik 'n tydelike diens verrig.
- Vastetermynwerknemers wat onder die drempel verdien, word geag na drie maande onbepaald in diens te wees, tensy die werkgewer 'n billike, aanvaarbare rede het om die termyn van die kontrak so vas te stel.
Wat die Wet op Gelyke Indiensneming betref, kan werknemers wat oor die drempel verdien, slegs onbillike diskriminasie-dispute (behalwe dispute gebaseer op seksuele teistering) na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys met die toestemming van alle partye. Andersins moet hulle hul dispuut na die Arbeidshof verwys vir arbitrasie.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.