Werkgewers: COIDA voldoeningsdatum is uitgestel na 31 Mei
In gevolge die bepalings van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (“COIDA”) moet jy by die Vergoedingsfonds geregistreer wees indien jy enigsins werknemers (uitgesonderd huishulpe) in diens het. COIDA (“the Compensation for Occupational Injuries and Diseases Act”) maak voorsiening vir die betaling van vergoeding aan werknemers wat as gevolg van ‘n werksongeluk of werksverwante siekte beseer is, gestremd is, of selfs gesterf het.
Werknemers kan slegs van die fonds eis en nie van hul werkgewer nie. Indien die werkgewer nie geregistreer is nie, word werknemers steeds deur die fonds gedek. In so ‘n geval sal die werkgewer egter ‘n boete aan die fonds moet betaal, wat waarskynlik gelykstaande sal wees aan die volle bedrag van die werknemer se eis.
Jy moet jaarliks ‘n opgawe indien vir die kontrolering van jou betaalbare bydraes aan die Fonds. Die Departement van Arbeid het aangekondig dat die sperdatum vir indiening verleng is na 31 Mei 2016. Boetes gaan opgelê word, indien jy dit steeds nie nakom nie.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.