Die “Groot Bedanking” is met ons – wat sê die reg?
“Signs of the "Great Resignation" are rippling across South Africa” (Business Insider, 22 April 2022)
Die pandemie het wêreldwyd aanleiding gegee tot die "Groot Bedanking". In die lig van hierdie tendens moet beide werkgewers en werknemers weer kyk na hoe ons regstelsel werknemers se bedanking hanteer.
'n Onlangse beslissing van die Arbeidshof gee waardevolle leiding -
‘n Werknemer het oor swak gesondheid bedank. Na sy "wonderbaarlike" herstel, het hy probeer om sy werk terug te kry.
- Die Adjunk Finansiële Beampte van 'n munisipaliteit wat onder administrasie geplaas is, het met onmiddellike effek bedank. Hy het sy swak gesondheid as die rede vir sy bedanking aangedui.
- Twee weke later het hy probeer om sy bedanking terug te trek en gesê: " Dit gee my plesier dat my gesondheid wat my bedanking veroorsaak het, wonderbaarlik verbeter het en dat ek normaal is om die temperatuur in die area te verduur ." (Letterlike vertaling van sy skrywe.)
- Die munisipaliteit het hom meegedeel dat hulle nie die terugtrekking van sy bedanking aanvaar nie.
- Hierna het hy by die Arbeidshof aansoek gedoen om 'n bevel om hom met volle salaris en voordele in sy pos te herstel.
- Baie van die feite was in dispuut. Tog bevind die hof dat die werknemer met sy aanvanklike bedanking 'n duidelike en ondubbelsinnige bedoeling getoon het dat hy nie met sy dienskontrak voortgaan nie. Die werknemer het sy posisie goed oorweeg voordat hy bedank het, daarna het hy ook nie meer vir diens aangemeld nie, wat sy subjektiewe bedoeling om te bedank bevestig het. Hy het sy bedanking aan die regte munisipale amptenaar gekommunikeer wat geen beswaar daarteen gemaak het nie en wat dit vermoedelik so aanvaar het. Sy latere versoek om sy bedanking terug te trek, is deur sy werkgewer geweier.
Die hof bevind dat die werknemer se bedanking bly staan. Die hof het 'n verskeidenheid belangrike vrae as volg beantwoord -
Die reg en bedanking: Ons beantwoord sewe belangrike vrae
- Wat is bedanking en hoe raak dit die dienskontrak? "Bedanking as 'n vrywillige handeling is 'n eensydige handeling wat die diensverhouding beëindig." (Die “vrywillige” deel is hier belangrik. In hierdie geval het die werknemer “...bewustelik gekies om te bedank. Die werknemer moet toegelaat word om op daardie vrylik gekose pad te bly.”)
- Wanneer tree bedanking in werking? "Bedanking tree in werking sodra dit aan 'n werkgewer gekommunikeer is ..."
- Aan wie moet bedanking gekommunikeer word? Wanneer dit by 'n korporatiewe werkgewer kom: “Na my mening is enige iemand wat oor iemand anders aangestel is, in staat om so ‘n bedanking te ontvang. Hy of sy verteenwoordig die werkgewer op een of ander manier.” (Sommige dienskontrakte sal duidelik bepaal hoe en aan wie 'n bedanking gekommunikeer moet word.)
- Moet 'n werkgewer die bedanking aanvaar om dit effektief te maak? Nee, "...daar is geen wetlike vereiste dat die bedanking aanvaar moet word nie."
- Wat as die werknemer 'n kennistydperk moet uitdien? Dit maak geen verskil nie; die bedanking is van krag sodra dit gekommunikeer is: "...Dit is so, selfs al is 'n werknemer kontraktueel verplig om 'n kennistydperk uit te dien en dit nie doen nie."
- Kan 'n werknemer 'n bedanking eensydig terugtrek? Nee, "... dit kan nie eensydig teruggetrek word nie, behalwe as die werkgewer daartoe instem."
- As 'n werkgewer wel 'n terugtrekking van bedanking aanvaar, is dit dan 'n heraanstelling? Nee, “... waar 'n werknemer 'n bedanking terugtrek, beteken dit net dat so 'n werknemer poog om weer in diens geneem te word of heraangestel te word … 'n Dienskontrak kan slegs op dieselfde manier herleef as wat dit aanvanklik tot stand gekom het, deur aanbod en aanvaarding.” (Die les vir werkgewers is om baie duidelik te wees met die verwerping van 'n versoek om 'n bedanking terug te trek. As dit nie duidelik gedoen word nie, kan dit dalk as ‘n herindiensneming vertolk word.)
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.