Besigheidsredding: Is Jou Borgskappe Afdwingbaar? ‘n Les van R5.5 Miljoen vir Direkteure en Skuldeisers
“Some people use one-half their ingenuity to get into debt, and the other half to avoid paying it” (George Prentice, skrywer en redakteur)
‘n Maatskappy wat aan jou ‘n aansienlike bedrag verskuldig is, word in besigheidsredding geplaas. Die besigheidsreddingsplan maak daarvoor voorsiening dat skuldeisers soos jy ‘n dividend van slegs ‘n paar sent in die Rand sal ontvang ter vereffening van die skuld. Jy is op die punt om ernstige verliese te ly.
Dalk is daar wel hoop – ‘n direkteur wat oor bates beskik het ‘n persoonlike borgskap vir die skuld onderteken. Kan die direkteur nou bloot sê “jammer, jy het ingestem tot die besigheidsreddingsplan so jou eis bestaan nie meer nie”, en weier om jou te betaal?
Die direkteur se verweer
- ‘n Skuldeiser word R6.5 miljoen geskuld vir die verhuring van myntoerusting aan ‘n maatskappy wat in besigheidsredding geplaas is. Ingevolge ‘n besigheidsreddingsplan, wat deur die skuldeiser goedgekeur is, word die skuldeiser slegs ‘n gedeelte van sy eis betaal, en verbeur sodoende sy reg om enige verdere bedrae van die skuldenaar-maatskappy te eis.
- Die twee direkteure van die skuldenaar het ‘n borgstellingsakte onderteken ingevolge waarvan hulle saam met hul maatskappy as mede-borge en mede-hoofskuldenaars aanspreeklik is vir bedrae wat deur die maatskappy verskuldig is.
- Die skuldeiser dagvaar die direkteure vir die tekort in die bedrag van ongeveer R5.5 miljoen. Die direkteure se verweer is dat hulle nie aanspreeklik is nie, aangesien–
- Die borgskap die skuldeiser slegs in staat stel om “enige bedrag wat ná ontvangs van sodanige dividend/e of betaling/s steeds deur die Skuldenaar verskuldig mag wees” (eie beklemtoning) van die direkteure te verhaal.
- Die skuldenaar ingevolge die besigheidsreddingsplan van sy skulde onthef is, en daar gevolglik geen bedrae (niks) meer deur die skuldenaar verskuldig nie.
Met ander woorde, die direkteure argumenteer dat daar niks deur die skuldenaar-maatskappy verskuldig is nie, en dat hulle daarom vir niks aanspreeklik is nie.
- Die Hof stem nie saam nie. Dit “sal die bepalings van die borgstellingsakte onsinnig/nutteloos maak. Dit is in stryd met die einste rede waarom ‘n skuldeiser sekuriteit verkry teen ‘n skuldenaar se skuld, om die risiko dat die skuldenaar nie in staat sal wees om sy verpliginge na te kom nie (as gevolg van, onder andere, besigheidsredding), te beperk.” Die besigheidsreddingsplan het geen voorsiening gemaak vir die posisie van borge nie, en daarom “word die aanspreeklikheid van die borge, in my opinie, voorbehou. En hoewel die skuld nie teen [die maatskappy] afdwingbaar mag wees nie, doen dit nie afbreuk aan die verpligting van die borge om te betaal in die omstandighede van hierdie saak nie.” Met ander woorde, ‘n borg se aanspreeklikheid word nie deur besigheidsredding beïnvloed nie, tensy die besigheidsreddingsplan uitdruklik met die posisie van borge handel.
- Die uiteinde – die direkteure moet persoonlik R5.5 miljoen (plus rente en koste) opdok.
Lesse vir direkteure en skuldeisers
Die uiteinde van hierdie aangeleentheid kon heeltemal anders gewees het indien die bewoording van die betrokke borgskap, of die besigheidsreddingsplan, die direkteure se verweer ondersteun het.
Skuldeisers – wanneer jy jou eis met ‘n borgskap van ‘n direkteur verseker, maak seker dat jy gedek word in gevalle waar die besigheid misluk. En maak ook seker dat ‘n besigheidsreddingsplan spesifiek bepaal dat die aanvaarding daarvan nie enige borge van hul verpligtinge onthef nie.
Direkteure – wanneer jy ‘n persoonlike borgskap onderteken, maak seker dat jy presies verstaan waarvoor jy jouself inlaat. As jy jouself ooit in die middel van ‘n besigheidsredding bevind, wees pro-aktief met die bestuur van jou persoonlike aanspreeklikheidsrisiko’s – veral wanneer dit kom by die bewoording van die besigheidsreddingsplan.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.