Elektroniese Handtekeninge vir Eiendom en ander Transaksies
“To sign a document means to authenticate that which stands for or is intended to represent the name of the person who is to authenticate” (Aanhaling uit hierdie uitspraak hieronder).
Dit is algemeen bekend dat hoewel mondelinge ooreenkomste in die meeste soort transaksies ten volle bindend is, dit ook die deur ooplaat vir onsekerheid en geskille. Dit is nie net ’n kwessie of die partye mekaar vertrou of nie. Selfs waar niemand opsetlik oneerlik is oor dit wat ooreengekom is nie, kom onskuldige misverstande dikwels voor. Mense het ’n natuurlike neiging om te hoor wat ons wil hoor en te onthou wat ons wil onthou. ’n Behoorlik opgestelde, skriftelike ooreenkoms behoort enige onsekerhede uit die weg te ruim.
Daarom is dit wys om op ’n skriftelike en getekende dokument aan te dring, selfs al is dit nie ’n vereiste nie. In die meeste gevalle kan die partye self besluit of hulle ’n skriftelike dokument vereis. Sekere tipes dokumente moet wel op skrif wees om aan die vereistes van ons reg te voldoen. Algemene voorbeelde hiervan is ooreenkomste vir die verkoop van eiendom (“grond en geboue”), testamente, borgstellingsooreenkomste, huweliksvoorwaardekontrakte en kredietooreenkomste. (Daar is ook minder bekende voorbeelde – verkry professionele advies indien jy onseker is of ’n skriftelike dokument in jou situasie vereis word.)
Die COVID-19 inperking in besonder het die uitdagings hieraan verbonde sterk beklemtoon. Om al die partye bymekaar te kry vir ’n oorspronklike “ink op papier” handtekening, is nie altyd ’n maklike taak nie. Die elektroniese ondertekening van dokumente is nie net meer gerieflik nie, dit hou ook heelwat ander voordele in; selfs wanneer sosiale afstand eendag nie meer die norm is nie. Dink sommer aan gevalle waar jy en die ander party/e julle in verskillende huise, kantore, stede, lande of selfs kontintente bevind.
Ons bepaal eers, wanneer is ’n digitale ooreenkoms “skriftelik”; en mag testamente en ooreenkomste vir die verkoop van eiendom elektronies wees?
Die geldigheid van digitale dokumente word oor die algemeen deur ons reg erken en word deur die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (WEKT) gereguleer. ’n “Dokument of inligting” voldoen aan die vereiste dat dit “skriftelik” moet wees, mits dit –
- “in die vorm van ’n databoodskap is; en
- “toeganglik is op ’n wyse wat vir latere verwysing bruikbaar is”.
Let egter dat daar wel spesifieke uitsonderings op hierdie algemene reël is. Sekere situasies vereis steeds fisiese (“ink op papier”) dokumente. Die bekendste en belangrikste hiervan is ooreenkomste vir die verkoop van eiendom, langtermynhuurkonrtrakte (10 jaar of langer) en testamente. (Daar is nog ander uitsonderings – verkry professionele advies indien jy onseker is.)
Tweedens, word “ondertekening” altyd vereis?
Formele “ondertekening” is nie altyd nodig nie. Die WEKT bepaal dat waar die partye by ’n elektroniese transaksie nie spesifiek ’n elektroniese handtekening vereis nie, “’n wilsuitdrukking of ander verklaring nie sonder regskrag en werking is bloot op grond daarvan dat dit –
- in die vorm van ’n databoodskap is nie; of
- nie bewys word deur ’n elektroniese handtekening nie, maar bewys word op ’n ander wyse waarvan so ’n persoon se bedoeling of ander verklaring afgelei kan word.”
Derdens, hoe kan jy ’n dokument elektronies onderteken?
Waar “ondertekening” vereis word, erken die WEKT die begrip van “elektroniese handtekeninge”. Dit word omskryf as “data wat aangeheg of geïnkorporeer word by, of logies geassosieer word met ander data en wat deur die gebruiker bedoel is om as ’n handtekening te dien.” Dit word as geldig beskou, behalwe in gevalle waar werklike, fisiese handtekeninge deur ’n wet (soos byvoorbeeld die wette oor eindomsverkope, testamente, ensovoorts waarna hierbo verwys word) of deur die partye self vereis word.
’n Elektroniese handtekening kan verskeie vorme aanneem. Waar ’n elektroniese handtekening deur die partye vereis word, maar hulle nie op die tipe elektroniese handtekening wat gebruik moet word, ooreengekom het nie, sal ’n elektroniese handtekening geldig wees indien –
- “’n Metode gebruik word om die persoon te identifiseer en die persoon se goedkeuring van die inligting wat gekommunikeer is, aan te dui; en
- in die lig van al die toepaslike omstandighede ten tyde van die gebruik van die metode, die metode so betroubaar was as wat geskik was vir die doeleindes waarvoor die inligting gekommunikeer is.”
“Gevorderde” elektroniese handtekeninge
Hierdie begrip is ontwikkel om ’n elektroniese handtekening meer betroubaar te maak. Dit word gebruik waar ’n wet ondertekening vir spesifieke dokumente of transaksies vereis, maar nie ’n spesifieke tipe handtekening vereis nie.
Goeie voorbeelde hiervan kan in die Akteswet en die Wet op Kredietooreenkomste gevind word.
Selfs waar dit nie spesifiek vereis word nie, is daar een goeie rede om dit in elk geval te gebruik. Gevorderde elektroniese handtekeninge word as geldig beskou. Enigiemand wat die geldigheid daarvan wil aanveg, sal eers die ongeldigheid daarvan moet bewys.
Sekuriteitsoorwegings en bedrog; aan die hand van die R804 000 voorbeeld
Soos altyd is kubermisdadigers altyd gereed om toe te slaan. Daarom is al die gewone waarskuwings met betrekking tot elektroniese kommunikaise ook hier van toepassing. Boonop moet mens ook seker maak dat elektroniese dokumente nie gewysig kan word nadat dit voltooi en onderteken is nie.
’n Voorbeeld van “bedrieglike elektroniese handtekeninge” behels ‘n onlangse saak oor aanlyn bedrog. In hierdie saak is ‘n praktyk van finansiële adviseurs vir R804 000 gedagvaar, nadat hul kliënt se Gmail rekening deur bedrieërs gekraak is.
- Die bedrieërs het die belegger se daadwerklike e-posadres en besonderhede bekom. Hulle het dit gebruik om drie e-posse aan die finansiële adviseurs te stuur, met die instruksie om die totale bedrag van R804 000 na die bedrieërs se bankrekeninge oor te plaas. Twee van die e-posse het afgesluit met die woorde, ‘Groete, Nick’, en die derde een met ‘Dankie, Nick’.
- Die finansiële adviseurs het die oorplasings gemaak. Die belegger het hulle gedagvaar op grond daarvan dat die betalings teenstrydig was met die skriftelike mandaat wat hy aan hulle gegee het. Ingevolge hiervan moes ‘Alle instruksies met die kliënt se handtekening daarop per faks na [011 *** ****] of per e-pos na [***@***.co.za] gestuur word.’
- Die finansiële adviseurs het aangevoer dat hulle ingevolge die mandaat opgetree het aangesien die afsluitings ‘Groete, Nick’ en ‘Dankie, Nick’ geldige elektroniese handtekeninge kragtens die WEKT was.
- Die Hoogste Hof van Appèl het egter die Hooggeregshof se bevinding dat die finansiële adviseurs aanspreeklik was, bekragtig. Hulle het nie ingevolge die mandaat opgetree nie. Die mandaat het “’n ‘handtekening’ vereis wat in beide die alledaagse en kommersiële konteks vir doeleindes van waarmerking en bevestiging gebruik word.” Die Hof het daarop gewys dat die woord ‘elektroniese’ opvallend afwesig was uit die mandaat. Die Hof het bevind dat die Hooggeregshof reg was om te beslis dat ’n handtekening in die gewone sin, naamlik in geskrewe vorm, hier vereis was vir doeleindes van waarmerking en bevestiging, selfs al was dit elektronies versend.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.