Ons nuwe normaal: Die gebruik van Zoom vir oorlegpleging in die afleggingsproses.
“O brave new world” (Shakespeare)
Die COVID-19 pandemie sal ongetwyfeld heelwat nuwe ontwikkelinge in die regswêreld teweegbring.
Een voorbeeld hiervan kan in ’n belangrike nuwe uitspraak van die Arbeidshof gevind word. Met die realiteit van ’n sukkelende ekonomie waar die aflegging van werknemers al hoe meer algemeen voorkom, moet alle werkgewers, werknemers en vakbonde van hierdie uitspraak kennis neem. Die Arbeidshof het beslis dat elektroniese konferensie- metodes (“remote conferencing”) gebruik mag word in oorlegpleging tydens die afleggingsproses.
Die (onderbreekte) proses van oorlegpleging
- ’n Werkgewer het gedurende Januarie 2020 besluit om sy sakebedrywighede te herstruktureer. In hierdie proses het die werkgewer uiteindelik ook die aflegging van werknemers op grond van bedryfsvereistes oorweeg.
- Ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge was die volgende stap om ’n ernstige proses van oorlegpleging met werknemers en/of hul verteenwoordigers te begin. Die doel hiervan is om moontlike alternatiewe tot aflegging, die vermindering in afleggings, uittreelone en dies meer te bespreek en te poog om konsensus daaroor te bereik.
- Aangesien hierdie ’n grootskaalse aflegging behels het, het die werkgewer ’n formele kennisgewing uitgereik met ‘n uitnodiging tot oorlegpleging en ook om fasilitering in die proses van oorlegpleging te versoek. ’n Fasiliteerder is aangestel en ’n aantal fisiese vergaderings is gehou.
- Net voordat die finale oorlegplegingsvergadering kon plaasvind, is die proses skielik deur die Nasionale Ramptoestand onderbreek en die daaropvolgende inperkingsperiode en inperkings op byeenkomste wat gevolg het.
- Die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (CCMA) het metodes voorgestel waarop die proses kon voortgaan. Dit het die gebruik van Zoom ingesluit, maar die betrokke vakbond het geweier om deur middel van Zoom deel te neem. Die werkgewer het in die vakbond se afwesigheid met die oorlegplegingsessie voortgegaan.
- Toe die werkgewer daarna afleggingskennisgewings uitreik, het die vakbond dringend by die Arbeidshof aansoek gedoen om die proses prosedureel onbillik te laat verklaar.
Ons “nuwe normaal”
“With the advent of the outbreak of the Covid-19 pandemic, the “new normal” presented itself” (Deel van die Arbeidshof uitspraak.)
Die Hof het opgemerk dat dit ironies was dat die vakbond beswaar gemaak het oor “die doeltreffendheid en betroubaarheid” van Zoom, terwyl die vakbond hul eie dringende Hofaansoek deur middel van Zoom gebring het. Die Hof het verder daarop gewys dat die fasiliteerder, wat by magte is om ’n finale en bindende bepaling oor die prosedure te maak, nie onwillig was om Zoom vir die oorlegplegingsessie te gebruik nie. Die Hof het gevolglik beslis dat die werkgewer nie verantwoordelik was vir die feit dat die vakbond geweier het om aan die proses van oorlegpleging deel te neem nie.
Soos die Hof dit gestel het: “Met die nuwe normaal – die periode van inperking gedurende die Covid-10 pandemie – is Zoom die aangewese vorm waarin vergaderings kan plaasvind. Oorwegings van gesondheid en veiligheid is hier ter sprake ... Dit is ’n belangrike hulpmiddel waardeur ons kan verseker dat maatreëls soos sosiale afstand nagevolg word om die verspreiding van die virus te voorkom.”
Gevolglik was daar geen prosedurele onbillikheid nie en die vakbond se aansoek is van die hand gewys.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.