Direkteure en die gevaar van misdadigheid
“Directors have clear responsibilities to the public in the form of investors, creditors, shareholders, employees to perform in a fashion wherein not only does the company behave in an accountable manner to these stakeholders but that it adheres to a level of transparency which ensures that the principle of accountability is vindicated” (Uit die uitspraak hieronder.)
Daar is baie uitdagings vir direkteure, veral die voortdurende gevaar om persoonlik aanspreeklik gehou te word vir enige versuim om aan hul statutêre pligte te voldoen. Direkteure dra die risiko om siviele aanspreeklikheid op te doen vir verliese, om strafregtelik aanspreeklik gehou te word en ook die meegaande risiko dat hul as misdadig verklaar sal word of op die proef gestel word. (Laasgenoemde woordgebruik kom direk uit die Afrikaanse weergawe van die 2008 Maatskappywet.)
Die aansoek om ‘n direkteur as misdadig (“delinquent”) te laat verklaar of op proef te laat plaas (“probation”).
Ernstige wangedrag kan meebring dat ‘n persoon gediskwalifiseer word om enige direkteurskap of enige senior bestuursposisie te beklee. Die termyn van sodanige diskwalifikasie kan wissel van ‘n tydperk van sewe jaar tot lewenslank.
Daar is ook ‘n verskeidenheid van minder ernstige kategorieë van wangedrag wat daartoe kan lei dat ‘n direkteur op die proef gestel word. Dan loop so ‘n persoon die risiko van diskwalifikasie vir tot vyf jaar, toesig deur ‘n mentor, remediërende opleiding, gemeenskapsdiens en ‘n moontlike verpligting om skadevergoeding te betaal.
Wie kan aansoek doen om ‘n bevel van misdadigheid te maak?
‘n Aansoek om ‘n bevel van misdadigheid is ‘n effektiewe (dog drastiese) manier om ‘n direkteur verantwoordbaar te hou. Die meeste aansoeke word deur die geaffekteerde maatskappy self, die aandeelhouers, die beamptes of vakbonde of werknemersverteenwoordigers gebring. So ‘n aansoek kan ook deur die Oorname Reguleringspaneel, sekere staatsorgane en die CIPC (Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom) gebring word.
7 jaar in die woestyn nadat ‘n plan vir ‘n internasionale lughawe misluk het
Die CIPC het nou self die bul by die horings gepak en het suksesvol aansoek gedoen om ‘n direkteur misdadig te laat verklaar. Dit mag ‘n teken wees dat meer aansoeke in die toekoms gaan volg.
- Die CIPC het gevra dat ‘n lewenslange misdadigheidsbevel teen ‘n direkteur toegestaan word. Hy was ‘n direkteur van ‘n publieke maatskappy wat eiendom ter waarde van R140 miljoen gekoop het vir die oprigting van ‘n internasionale lughawe teen ‘n voorsiene koste van R1 miljard.
- Die maatskappy het aansienlike bedrae geld ingesamel met die verhandeling van openbare aandele subskripsies. Die maatskappy het egter nie oor die noodsaaklike lisensie van burgerlugvaart beskik om met die beplande lughawe voort te gaan nie. Dit was selfs onduidelik of die maatskappy ooit vir die vereiste lisensie aansoek gedoen het.
- Na bewering het die maatskappy voortgegaan om sake te doen terwyl dit kommersieel insolvent was. (Aan die einde van verhandelinge het die maatskappy R600 in die bank gehad.) Die direkteur het deurentyd groot bedrae vanaf die maatskappy se bankrekening na sy persoonlike bankrekening oorgeplaas. Die maatskappy het ook nie ‘n behoorlike rekeningkundige stelsel in plek gehad nie.
- Die hof gee die CIPC gelyk. Die hof bevind dat die direkteur op ‘n growwe nalatige manier opgetree het. Die direkteur het toegelaat dat die maatskappy in haglike en insolvente omstandighede aanhou sake doen het. Hy het fondse onttrek om direkteursgelde te betaal terwyl hy geweet het dat die Burgerlugvaartowerheid nie bereid was om die kardinale toestemming te verleen waarsonder die besigheid geen bestaansreg gehad het nie. Die hof bevind ook dat hierdie publieke maatskappy geen behoorlike rekeningkundige stelsel in plek gehad het nie.
- Die hof was bereid om die direkteur misdadig te verklaar. Die termyn was vir sewe jaar, nie vir die lewenslange termyn wat deur die CIPC aangevra is nie. Dit is sewe jaar in niemandsland vir die direkteur, waar hy nie as direkteur mag dien nie of enige senior bestuursposisie mag beklee nie.
Let daarop dat hierdie bepalings van toepassing is op alle direkteure van alle tipes maatskappye, nie net op ‘n publieke maatskappy soos in hierdie geval nie.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.