Verhuurder en Huurder – Wie betaal vir herstelwerk wat nie gemagtig is nie?
Jy huur ‘n huis en die geiser pak op of die swembad begin lek, terwyl die verhuurder jou pleidooie om die probleme reg te stel ignoreer of bloot weier. Kan jy die herstelwerk self laat doen en die herstelkostes van jou huurgeld aftrek?
‘n Onlangse saak in die Hoë Hof wys die risiko’s met so ‘n benadering.
Die huurder wat die herstelkostes van sy huurgeld afgetrek het
- ‘n Huurder het beweer dat hy kostes aangegaan het om ‘n lang lys van gebreke te herstel, insluitende deure sonder sleutels, elektriese herstelwerk, herstelwerk aan die swembadmotor, nuwe pleisterwerk aan die swembad, ‘n hekmotor, installasie van ‘n geiser en ander gebreke. Die huurder het selfs die verhuurder vir vyf ure se arbeid gefaktureer toe hy glo ‘n waterpyp herstel het (dit was teen ‘n verdubbelde tarief omdat dit in die middernagtelike ure gebeur het).
- Die huurder het hierdie kostes en uitgawes met die herstelwerk van sy huurbetalings afgetrek. Sy huurgeld was met meer as Tweehonderdduisend Rand agterstallig. Die verhuurder het aansoek gedoen vir ‘n uitsettingsbevel. Die huurder het die aansoek teengestaan. Hy het aangevoer dat die herstelwerk en kostes deur die verhuurder gemagtig was en dat die aftrekkings gevolglik toelaatbaar was.
- Die verhuurder het ontken dat hy die herstelwerk gemagtig het. Dit het ook nie die huurder se saak gehelp dat die voorafgaande inspeksie van die perseel (gesamentlik met die verhuurder se agent) nie enige van die beweerde gebreke openbaar het nie.
- Die verweer was verder lynreg in stryd met die skriftelike bepalings van die getekende huurooreenkoms-
- Geen veranderinge aan die huis of die toebehore mag gemaak word nie, behalwe met die verhuurder se voorafgaande skriftelike toestemming. Die huurder kon nie enige bewys van sodanige skriftelike toestemming lewer nie. Die huurder kon ook nie die hof oortuig dat daar selfs mondelinge toestemming was nie.
- Die huurder kon nie enige vergoeding eis vir enige veranderinge of toevoegings tot die perseel nie, hetsy met die verhuurder se toestemming of daarsonder.
- Huurgeld en enige ander bedrae wat betaalbaar is, moet stiptelik, maandeliks vooruit betaal word, sonder enige aftrekking of verrekening van enige aard.
- Enige veranderinge aan hierdie klousules moet skriftelik geskied en moet deur beide partye onderteken word om geldig te wees.
- Geen veranderinge aan die huis of die toebehore mag gemaak word nie, behalwe met die verhuurder se voorafgaande skriftelike toestemming. Die huurder kon nie enige bewys van sodanige skriftelike toestemming lewer nie. Die huurder kon ook nie die hof oortuig dat daar selfs mondelinge toestemming was nie.
- Die hof gee die huurder dus dertig dae om die perseel te ontruim, waarna hy deur die Balju uitgesit mag word.
So wie moet vir wat betaal?
Daar rus ‘n paar statutêre verpligtinge op verhuurders om die eiendom in ‘n goeie toestand in stand te hou. Vir die res word die situasie gereël deur die huurkontrak wat deur die partye onderteken word en die bepalings wat daarin vervat is.
Voordat jy as huurder enige iets teken moet jy seker maak dat jy presies verstaan waarvoor jy jouself inlaat. Let veral op na die klousules wat spesifiseer wie moet wat doen as dit kom by herstelwerk en instandhouding. Die huurder sal waarskynlik aanspreeklik wees vir klein dag tot dag instandhouding. Wees egter op jou hoede as ‘n verhuurder probeer om ‘n baie swaarder las op jou as huurder te plaas.
Twee verdere wenke
- Moet nie die fout maak wat die huurder in hierdie geval gemaak het nie. Jy moet al die gebreke in die perseel uitwys en op rekord plaas in die gesamentlike vooraf inspeksie.
- Beide die verhuurders en huurders behoort foto’s van elke deel van die huis te neem, voordat okkupasie geneem word en ook daarna wanneer die perseel ontruim is. Gebruik gerus die toepassing “Guard My Lease”; dit kan help om enige latere geskille op te los.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.