Dis Trouseisoen! Jy het ‘n HVK nodig (of jy hier trou of oorsee)
“He was a dreamer, a thinker, a speculative philosopher... or, as his wife would have it, an idiot” (Dis nou aldus “The Hitchhiker's Guide to the Galaxy” se Douglas Adams )
Nota: Ons kyk nou wel na die die geval van ‘n internasionale huwelik, maar selfs waar Suid-Afrikaners in Suid-Afrika met mekaar in die huwelik tree, beveel ons aan dat dit met ‘n HVK gedoen word.
Daar is natuurlik uitdagings met ‘n rand wat nie meer so ver strek nie; tog is daar nog paartjies wat ‘n droomhuwelik oorsee wil sluit. Daar is ook Suid-Afrikaners wat oorsee werk en terugkeer om in Suid-Afrika te trou. ‘n Mens moet dan duidelikheid hê oor watter regstelsel op jou huwelik van toepassing gaan wees. Klop by jou prokureur aan om duidelikheid hieroor te kry.
Wat is ter sprake?
In Suid-Afrika is die verstekposisie met ‘n huwelik een van in gemeenskap van goedere. Dit is dikwels nie die gepaste opsie nie. Dan eerder die moeite doen om ‘n huweliksvoorwaardekontrak te laat opstel vir julle huwelik. Julle trou dan buite gemeenskap van goedere en julle het die keuse om die aanwasbedeling in te sluit of uit te sluit. Die gepaste keuse gaan van geval tot geval verskil; maar die huwelikspartye moet darem verstaan wat die verskille is en dan ‘n ingeligte keuse maak; nie net blindelings eindig met die verstekopsie nie.
Moet ook nie net aanvaar dat jou huwelik buite gemeenskap van goedere gaan wees as jy trou in ‘n land waar dit die verstekopsie is nie. Netso is dit nie jou nasionaliteit of jou burgerskap wat die situasie reguleer nie.
Dit maak nie saak waar julle in die huwelik tree nie, ook nie wat julle burgerskap is nie; die bepalende faktor is die man se “domisilie” tydens die sluit van die huwelik – kortliks die land van sy permanente woning.
Die uitdaging met domisilie
Hoe bepaal ‘n mens waar die man gedomisilieer is tydens huweliksluiting?
“’n Persoon verkry ‘n domisilie van keuse wanneer hy binne die raamwerk van die wet op ‘n plek teenwoordig is en hy die bedoeling het om vir ‘n onbepaalde periode daar te woon.” Dit is die plek waar jy woon, waar jou huis is, waar jy jou vir die afsienbare toekoms permanent gaan vestig. Die reg vereis dat jy altyd ‘n domisilie het, al dink jy nie so nie; jy kan ook net in een land op ‘n slag gedomisilieerd wees. Jy kan nog sonder ‘n land wees, maar nie sonder ‘n domisilie nie. Jy kan oor dubbele burgerskap beskik, maar nie oor ‘n dubbele domisilie nie.
Hier is twee ooglopende grys areas ter sprake:–
-
Die “bedoeling” om êrens te woon. Wat as jy onlangs na Suid–Afrika getrek het? Of jy is ‘n buitelandse burger wat hier woon? Wat van Suid-Afrikaners wat vir ‘n jaar of twee in die buiteland woon? Miskien is jy van plan om binnekort na ‘n ander land te emigreer?
Hier is heelwat onsekerhede wat kan opduik. In die geval van dispute, gaan ‘n hof hieroor moet beslis. Dit is al moeilik genoeg om te weet wat ‘n ander persoon se “bedoeling” is, wat nog te sê wat die bedoeling jare terug was op die tydstip toe die partye in die huwelik getree het. Dit is meestal jare terug en dikwels dekades terug. Hierdie sake is nooit maklik nie; dikwels is dit morsig met erge emosie en groot bedrae geld ter sprake.
-
Die “man” se bedoeling is bepalend. Om slegs te kyk na die bedoeling van die man is natuurlik ‘n verouderde benadering wat uit ‘n vroeër era kom. Dit is diskriminerend en ooglopend in stryd met ons Grondwet. Wat doen mens as die partye van dieselfde geslag is, wie se domisilie is dan bepalend? Totdat hierdie situasie deur opgedateerde wetgewing gereguleer gaan word, sal daar onsekerhede hieroor bestaan.
Die oplossing – vermy alle twyfel en sluit ‘n HVK
Gelukkig is daar ‘n eenvoudige manier om enige twyfel uit die weg te ruim.
Maak seker dat julle genomineerde prokureur – voor datum van huweliksluiting – vir julle ‘n huweliksvoorwaardekontrak (HVK) opstel om aan julle spesifieke behoeftes te voldoen. Julle moet die ooreenkoms voor die datum van die huwelik onderteken en julle ooreenkoms moet ook voor ‘n Notaris verly (formeel onderteken) word. As dit gedoen is, kan julle met geruste harte vertrek om julle huwelik op die eksotiese plek van jul keuse te gaan sluit, wetende dat jul regsformaliteite aangespreek is.
Provided by Simpson Inc
© DotNews. All Rights Reserved.