Pasop wat jy op WhatsApp kwytraak – Die Saak van die R20m Lotery Wenner en die “Aanbod” van R1m
“Engage brain before hitting send” (Anoniem)
WhatsApp hou talle sake- en persoonlike voordele in. Die gebruik van WhatsApp in Suid-Afrika groei eksponensieel, soos in die res van die wêreld. Daar is wel ‘n moontlike nadeel; dit is moontlik om jouself tot ‘n geldige en afdwingbare ooreenkoms te verbind, sonder dat jy bedoel het om dit te doen.
Basiese beginsels: Aanbod + Aanvaarding = Kontrak
Hoe kom ‘n bindende kontrak tot stand? In sy eenvoudigste vorm is al wat jy nodig het ‘n aanbod van een persoon, en die aanvaarding daarvan deur ‘n ander persoon.
Daar is natuurlik baie ander vereistes – consensus ad idem (“ware bedoeling om ‘n ooreenkoms te sluit”), regmatigheid, bevoegdheid om te kontrakteer, voldoening aan enige nodige formaliteite, sekerheid van bepalings, moontlikheid van prestasie en dies meer. Prokureurs en regsskrywers raak opgewonde oor die fyner besonderhede van hierdie en verwante begrippe soos “kwasi wedersydse instemming” (meer hieroor hieronder, dit is wel ‘n belangrike begrip). Die kernbeginsel bly steeds in die meeste gevalle die volgende: Aanbod + Aanvaarding = Kontrak.
En natuurlik, met slegs ‘n paar uitsonderings (soos eiendomsverkope, testamente en voorhuwelikse kontrakte), is selfs mondelinge ooreenkomste ten volle bindend. Die bindende effek van elektroniese boodskappe is deur beide wetgewing (in besonder die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies) en deur ‘n reeks onlangse hofuitsprake bevestig.
‘n Meevaller van R20 miljoen via die lotery en ‘n WhatsApp “aanbod” van R1 miljoen
- ‘n Vader het onderhoud van R1,000 per maand aan die moeder van een van sy sewe kinders betaal.
- Kort nadat hy die gelukkige wenner van ‘n Nasionale Lotery meevaller van R20.8 miljoen geword het, het hy ‘n ontmoeting met die moeder van die kind gehad. Hy het haar meegedeel dat sy gesondheid agteruitgegaan het, en dat hy nie langer (by SARS) kon werk nie. Hy sou pensioenvoordele van ongeveer R600,000 ontvang.
- Hy bied haar R100,000 uit hierdie pensioenvoordele aan ter volle en finale skikking van sy onderhoudsplig teenoor sy kind. Die moeder het hierdie aanbod aanvaar en die bedrag is aan haar oorbetaal, ten behoewe van die kind.
- Tydens ‘n vergadering met die onderhoudsbeampte ontken hy dat hy R20 miljoen gewen het. Die moeder het egter bewyse gehad dat hy gewen het. Sy het aan hom ‘n WhatsApp boodskap gestuur wat hom laat verstaan het dat sy daarvan weet. Hy het geantwoord (ook op WhatsApp) – “as ek 20m kry kan ek vir elkeen van my kinders 1m gee en steeds 13m oorhê. Ek sal net by die huis bly en nie op en af ry op soek na tenders nie.”
- Die moeder dagvaar die vader vir R900,000 op die basis dat hy met haar gekontrakteer het om vir haar R1m te betaal, en dat hy net R100,000 betaal het. Die vader ontken aanspreeklikheid, en voer aan dat sy WhatsApp boodskap slegs ‘n poging was om “ontslae te raak” van die moeder en dat hy geen bedoeling gehad het om ‘n aanbod aan haar te maak nie.
Wanneer is ‘n “aanbod” nie ‘n aanbod nie? Die “bedoeling om te kontrakteer”.
Die moeder was suksesvol met haar eis in die Hooggeregshof, maar het op appèl na die Hoogste Hof van Appèl (HHA) die saak verloor. Die HHA het beslis dat die vader nie gebonde was nie, omdat dit uit die feite geblyk het dat sy boodskap ‘n ontkenning was dat hy R20m gewen het. Die boodskap het “verband gehou met wat hy moontlik sou kon doen, in die hipotetiese toekomstige geval indien hy R20 miljoen sou ontvang het. Die boodskap het duidelik nie ‘n aanbod bevat wat met aanvaarding daarvan in ‘n afdwingbare kontrak omskep kon word nie.”
Op die feite van die saak, het die vader “geen subjektiewe bedoeling gehad om te kontrakteer nie, en die boodskap dui nie op die teendeel nie.” Sy “moreel skandelike optrede” het hom sy eis vir regskoste gekos, maar dit het nie sy gebrek aan ‘n bedoeling om te kontrakteer beïnvloed nie. In hierdie geval het die vader dus skotvry daarvan afgekom en hy kon sy R1 miljoen hou.
Voordat jy daardie knoppie druk om te stuur
Op ietwat ander feite sou ‘n Hof kon beslis dat die WhatsApp boodskap wel ‘n geldige aanbod was, wat bindend sou word by die aanvaarding daarvan. Byvoorbeeld, the “kwasi wedersydse instemming” waarna ons hierbo verwys het, beteken dat dit nie nodig is dat jy ‘n werklike bedoeling moes gehad het om ‘n bindende aanbod te maak nie. In ons reg kan jy steeds by jou woord gehou word waar die ander party “as ‘n redelike persoon” deur jou aksies of dade gelei is om te glo dat jy bedoel het om ‘n kontrak te sluit. Jy het dalk nie bedoel dat jou boodskap ‘n aanbod moes wees nie, maar indien die ontvanger daarvan redelik geglo het dat dit ‘n aanbod was, is jy in die moeilikheid.
Ons kan almal hieruit leer. Alle gebruikers van elektroniese kommunikasies (of dit nou WhatsApp, Facebook, e-pos of enige van die menigte ander elektroniese platforms is waarmee ons boodskappe kan stuur) moet bedag wees op die risiko’s. Daar is ‘n goeie kans dat ‘n hof in die toekoms kan beslis dat jy wel gebonde gaan wees aan daardie haastige belofte wat jy onnadenkend gemaak het.
Dink voordat jy daardie elektroniese boodskap afstuur!
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.