Sluiting van die aangrensende Gastehuis : Inligting vir Huiseienaars en Bure
“You can be a good neighbour only if you have good neighbours” (aldus die toneelskrywer Howard E. Koch)
Jy kom tot die gevolgtrekking – vir watter rede ook al – dat jou buurman se nuwe gastehuis beslis nie tot voordeel van jul stil en rustige woonbuurt is nie. Jy besluit om die situasie te ondersoek.
Eerstens stel jy vas dat die plaaslike munisipaliteit se soneringskema nie toelaat dat enige iemand ‘n gastehuis mag bedryf sonder dat ‘n spesiale afwyking hiervoor goedgekeur word nie. Jou buurman beskik nie oor so ‘n permit nie.
Wat is jou regte en wat moet jy aan die hof bewys voordat die hof jou van hulp kan wees? Moet jy byvoorbeeld bewys dat skade berokken is, of is die blote gebrek aan ‘n permit voldoende?
Rusverstoring – wilde partytjies en steurende gaste
-
Inwoners van ‘n rustige woonbuurt (met ‘n sonering van enkel residensieel) het die Hof versoek om ‘n interdik teen die bedryf van ‘n gastehuis in hul buurt te verleen.
-
Hul klagtes het verskeie gevalle van rusverstoring ingesluit, asook ‘n wilde partytjie met meer as 50 gaste. Die gebruik van drank, ‘n vloekery, geskreeu en urinering op straat is in die hofstukke uiteengesit. Die deurnag partytjie is kortstondig gestuit deur ‘n besoek van die SAPS om 3 uur die oggend. Die partytjie het om 7 uur die oggend finaal tot ‘n einde gekom met SAPS se finale besoek. Daar was ook ander klagtes van steurende gedrag deur gaste wie gebruik gemaak het van busse, taxi’s en ook konstruksievoertuie, om hul na en van die gastehuis te vervoer.
-
Die gastehuis is sonder die voorgeskrewe spesiale permit wat die plaaslike ordinansies voorskryf, bedryf.
-
Die eienaars van die gastehuis het verklaar dat hul twee keer in die korrekte formaat aansoek gedoen het om spesiale toestemming. Hulle sou twee keer toestemming verkry het om met hul bedrywighede voort te gaan, hangende finale goedkeuring. Hierdie was ‘n punt van hewige dispuut. Die hof verklaar dat sulke informele toestemming nie die goedkeuring kan wees wat in die betrokke reëls en regulasies voorsien is nie. Die korrekte prosedures moet gevolg word. Dit beteken dat die nodige kennis aan die grondeienaars in die omgewing van die gastehuis gegee moet word en dat die voorgeskrewe kennisgewing in die plaaslike koerant moet verskyn. Dan moet die aansoek oorweeg word en eers na behoorlike oorweging, mag toestemming gegee word vir die spesiale gebruik van ‘n gastehuis. Tot op daardie stadium word die gastehuis onwettig bedryf.
-
Die hof het ook verklaar dat dit nie vir die eienaars van die gastehuis van hulp kon wees om hul bure se aantygings van klagtes van rusverstoring en steuring te ontken nie. Dit verander nie die feit dat die gastehuis onwettig bedryf was nie.
-
Die eienaars het aangevoer dat klaende bure geen reg het om die hof se ingrype te versoek as hulle nie kan bewys dat spesiale skade gely is nie. Die hof het nie met hierdie argument saamgestem nie. Die geldende soneringskemas verleen reeds regte aan die grondeienaars. Die hof bevind dat grondeienaars geregtig is om te vereis dat hul buureienaars aan die regulasies van die spesifieke sonering skema moet voldoen. Dit is ‘n belangrike beslissing en dit maak dit makliker vir bure wat negatief geraak word, om in hierdie omstandighede hulp te verkry.
-
Die gastehuiseienaars het ook gevra vir die opskorting van die interdik, hangende die oorweging van hul aansoek vir ‘n permit. Die hof het dit van die hand gewys.
- Die eindresultaat was dat die gastehuis moes sluit. Die hof het ‘n kort oorgangsperiode toegelaat sodat langertermyn-inwoners alternatiewe verblyf kon vind.
Die oopmaak van ‘n gastehuis? Dit kom neer op die volgende:
Elke munisipaliteit het sy eie ordinansies wat bepaal wat in elke soneringskategorie toegelaat word en wat nie. Waar ‘n formele munisipale permit vereis word om ‘n gastehuis te bedryf, moet jy aansoek doen en moet die permit toegestaan word voordat die gastehuis oopgemaak mag word. Indien daar nie aan hierdie bepalings voldoen word nie, kan jou bure aansoek dat die gastehuis gesluit word as gevolg van die ontbrekende permit.
Die beste plan is om van die begin af met die buureienaars te onderhandel, sodat hulle van dag een af aan jou kant is. Dit is ook die moeite werd om regsbystand te kry wanneer jy vir jou permit aansoek doen om seker te maak jy in die bes moontlike posisie verkeer.
Op ‘n finale noot vir lankmoedige bure
Staan op vir jou regte. Jy mag dalk 100% geregtig daarop wees,maar soms is dit beter om oorlog met die bure as die heel laaste opsie te oorweeg. Daar is geen wenners en dikwels vele verloorders in so ‘n stryd. Indien jou beleefde versoeke om “asseblief die deure toe te maak” of om “asseblief op te hou om die rus te versteur” nie help nie, moet jy dan onmiddellik regsadvies verkry.
Ns. Wat van Airbnb?
Daar is grys areas rondom soneringsbeperkings en hoe dit betrekking het op kort termyn verhuring in Suid-Afrika. Munisipaliteite het ook almal hul eie reëls en regulasies vir bed-en-ontbyt fasiliteite asook vir ander tipes gaste akkommodasie. Vind gerus uit wat jou plaaslike munisipale owerheid se vereistes en beperkings mag wees.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.