Maatskappye: Is handelsbeperkings geldig in 'n tyd van Covid?
“For him to be forced out of a career of choice to start working in a different field at a time when many businesses are closing down, retrenchments and lay-offs being commonplace and individuals doing everything possible to survive and cope with the health and economic devastating effects of the covid 19 pandemic, is plainly unreasonable and contrary to public policy and constitutional values” (direk geneem uit hierdie uitspraak)
Oorweeg hierdie ongelukkige scenario: Jou paaie skei met ‘n mededirekteur/ aandeelhouer (of miskien 'n sleutel werknemer), wat dadelik by jou grootste mededinger gaan werk of hy of sy begin hul eie besigheid wat in direkte mededinging met joune is.
Nou het jy 'n ernstige probleem: hy/sy was vertroud met al jou handelsgeheime en vertroulike inligting, en dit word nou gebruik om teen jou mee te ding. Jou besigheid kan groot verliese ly.
Gebruik die beproefde handelsbeperking
‘n Effektiewe en beproefde manier om jou besigheid teen so 'n risiko te beskerm, is om daarop aan te dring dat alle direkteure, aandeelhouers en sleutelmedewerkers vanuit die staanspoor handelsbeperking ooreenkomste sluit. Sulke beperkings word gewoonlik as klousules in dienskontrakte ingesluit en ook in ‘n mindere mate in aandeelhouersooreenkomste.
Dit is noodsaaklik om die beperkingsklousule reg te verwoord sodat dit afdwingbaar is. Ons reg erken al baie lank die reg van besighede om hierdie tipe kontrakte af te dwing, om hul belange te beskerm. Die reg is ook in die algemeen beskermend teenoor ooreenkomste wat mense sluit. Aan die ander kant het ons die grondwetlike reg van die werknemer om ekonomies aktief te wees en om geld te verdien, wat in ag geneem moet word.
Soos die Hooggeregshof dit onlangs gestel het: Dit is welbekend dat handelsbeperkings geldig en bindend is en afdwingbaar is. Daarteenoor erken ons reg ook die voormalige werknemer se vryheid om te werk of om te handel. Hierdie twee botsende belange moet dus opgeweeg word om vas te stel of dit dalk ‘n onredelike beperking is. Die hof dui ook weer aan dat die onus op die voormalige werknemer sal rus om aan te toon dat die handelsbeperking onredelik is.
Dit is ‘n algemene fout – beperking gaan “te wyd”
Die mees algemene fout wat ondernemings maak, is om die handelsbeperking te wyd te wil maak (in een of meer soorte handelsaktiwiteite, geografiese gebiede of tydperke). Hoe wyer die klousule is, hoe groter is die kans dat 'n hof dit of ongeldig of slegs gedeeltelik afdwingbaar sal bevind. Dit is dus beter om die klousules eerder in te perk en duidelik te stel, sodat jy dit sal kan afdwing.
Twee onlangse beslissings van die Hooggeregshof illustreer hierdie beginsel, en raak ook aan die impak van die Covid-19-pandemie op ons howe se benadering tot die vrae oor redelikheid en tydperke.
Die impak van die pandemie op die "redelikheidstoets"
- ‘n Direkteur, aandeelhouer en werknemer van 'n maatskappy wat spesialiseer in media- en advertensiedienste het as direkteur en werknemer bedank na 'n breuk in die diensverhouding. Die maatskappy het aan hom 'n salaris van R1,2 miljoen geskuld. Hy het egter sy aandeelhouding in die maatskappy behou.
- Hy was onderhewig aan handelsbeperkings (in sy diens- en aandeelhouers ooreenkomste). Hy was verbied om vir 'n mededinger te werk, en om vertroulike inligting en handelsgeheime met hulle te deel, vir ‘n periode van 18 maande in enige van die 29 Afrika-lande.
- Hy het nietemin by 'n direkte mededinger aangesluit (wat aktief was in 2 van die 29 Afrika-lande). Hierna het hy in stryd met die handelsbeperking opgetree deur klante en sakevennote te kontak. Toe hy in die Hooggeregshof gedagvaar word vir die afdwinging van die beperkingsklousule, was sy verweer dat die ooreenkomste onredelik was en dat dit hom verhinder het om te werk en om geld te verdien.
- Die hof bevestig dat dit noodsaaklik is om al die relevante omstandighede te oorweeg, eerstens op die tydstip waarop 'n beperking aangegaan word en later op die tydstip wanneer die besigheid probeer om die beperkingsklousule toe te pas. In hierdie geval was die tydperk Maart tot Julie 2020, met die inperking op ‘n hoogtepunt en ons ekonomie op ‘n laagtepunt as gevolg van die pandemie.
- Die gevolg - die hof het die voorstel van die maatskappy, dat die oud-direkteur ekonomies bedrywig sou kon bly in ’n ander terrein waarin hy gekwalifiseer is, verwerp en die volgende gesê “ Vir hom om uit ’n beroep gedwing te word en om in 'n ander veld te begin werk in 'n tyd waarin baie ondernemings sluit, terwyl afleggings alledaags is en individue doen wat hulle kan om te oorleef is duidelik onredelik. In die lig van die verwoestende effek van die Covid-19-pandemie op mense se gesondheid en op ekonomiese gebied is dit duidelik onredelik en teenstrydig met openbare beleid en grondwetlike waardes”. Die hof bevind dan dat die handelbeperkings onafdwingbaar was en dit word verwerp.
Die impak van die pandemie op die tydsduur van die inperkings
In 'n ander onlangse beslissing van die Hooggeregshof, het die hof 'n handelsbeperking van twee jaar op verkoopspersoneel wat in Maart en April 2020 bedank het, tot 14 maande verminder.
In hierdie saak het die hof beslis dat ’n redelike basisperiode in die omstandighede 12 maande was en toe 2 maande bygevoeg “as gevolg van die inperkingsperiode”. Die hof lewer dan die volgende kommentaar “... Ek is bewus daarvan dat ons samelewing in vreemde tye leef. Die COVID-19-pandemie het onder meer ons ekonomie verwoes. Besighede word verhinder om te werk. Die vermoë van die applikant om nuwe verkoopspersoneel aan te stel en op te lei, is ongetwyfeld deur die stand van die ekonomie teruggehou. Dit is van belang wanneer ons die periode van beperking in ag neem of wil vasstel ... ”.
Terug na die vraag - is handelsbeperkings geldig in tye van pandemie en omwenteling?
Nie een van die twee uitsprake van die Hof beteken dat handelsbeperkings noodwendig onafdwingbaar of slegs gedeeltelik afdwingbaar is tydens tye van ekonomiese onrus en hoë werkloosheid nie. Elke saak sal op sy eie meriete beslis word. Om te bepaal of jou eie beperkingsklousule as redelik en afdwingbaar beskou sal word, is dit duidelik dat jy alle faktore in ag moet neem.
Provided by Dekker Prokureurs/Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.