Beskik die Maatskappydirekteur oor die Nodige Magtiging om met Jou te Kontrakteer? Maak Seker.
Eise van R3,8 miljoen word bevraagteken
- ‘n Maatskappy doen sake as eiendomsontwikkelaar met drie direkteure.
- ‘n Aansoek is geloods vir die likwidasie van die maatskappy.
- Die skuldeiser wat die aansoek vir likwidasie gebring het, doen dit op sterkte van eise vir ‘n lening en borgstelling van R3,8 Miljoen.
- Die probleem was egter dat die lenings- en borgooreenkomste net deur een van die ontwikkelingsmaatskappy se direkteure geteken is. Die tweede direkteur het daarvan geweet en dit het met sy goedkeuring geskied, maar die ooreenkomste is sonder die goedkeuring of kennis van die derde direkteur aangegaan.
- Die derde direkteur (wat ook as trustee opgetree het van ‘n trust wat ook ‘n skuldeiser van die ontwikkelingsmaatskappy was) het die aansoek vir likwidasie teengestaan. Volgens hom het die eerste en tweede direkteur sonder magtiging opgetree en kon geen bindende leningsooreenkoms tot stand kom nie. Hy voer aan dat die skuldeiser gevolglik nie ‘n regsgeldige eis teen die maatskappy het nie, dat dit dus nie by magte kon wees om aansoek te doen vir likwidasie nie en dat die aansoek van die hand gewys moes word.
- Hou in gedagte dat by die oorweging van so ‘n aansoek die hof grootliks aangewese is op die partye se posisies soos in die hofstukke uiteengesit. Die hof bevind dat op die weergawes soos in die hofstukke uiteengesit, die aansoeker nie kon bewys dat die twee direkteure die nodige magtiging gehad het om hul maatskappy te bind nie. Die aansoeker kon ook nie bewys dat die maatskappy hierdie twee direkteure voorgehou het asof hulle wel die magtiging gehad het om die maatskappy te bind nie. Die hof was nie oortuig dat die eis afdwingbaar was nie en die aansoek vir likwidasie is van die hand gewys.
Wat nou? Hoe bewys ons dat die persoon gemagtig was om sy maatskappy te bind?
Jy moet eerstens kan bewys dat die persoon met wie jy onderhandel het werklike of ten minste oënskynlike magtiging gehad het om sy maatskappy te bind. Jy kan nie jou eis afdwing indien jy nie magtiging kan bewys nie.
Aannames, aannames...
As ‘n reël sal jy kan aanvaar dat die direksie en enige besturende direkteur wel oor die nodige magtiging beskik om die maatskappy te bind. Dit is egter nie van toepassing op ‘n gewone direkteur of werknemer van die maatskappy nie, tensy hulle in ‘n uitvoerende hoedanigheid optree soos as finansiële direkteur of takbestuurder, waar hierdie magtiging wel aangeneem kan word. Jy kan egter nie so ‘n aanname van magtiging maak as jy uitdruklik weet of selfs vermoed dat die persoon nie die magtiging het om die maatskappy te bind nie of dat hy sy mandaat of magtiging oorskry nie.
Uitkomkans
Wat dan as die maatskappy probeer om van hul verpligtinge te ontkom omdat daar, sonder jou wete, nie aan hul interne maatskappyvereistes voldoen is met die aangaan van die ooreenkoms nie? Gewoonlik sal ‘n buitestaander nie weet wat ‘n maatskappy se interne beleidsvereistes is nie, so dit kan tog nie regverdig wees teenoor enige party wat met die maatskappy sake doen nie.
Daar is darem regsbeskerming hiervoor. Wanneer jy eers die werklike of oënskynlike magtiging bewys het, kan jy as buitestaander aanvaar dat die maatskappyverteenwoordigers wel aan die maatskappy se interne prosedures en vereistes voldoen het. As jy ooit hoor dat regsgeleerdes oor die toepassing van die “Turquand” reël praat, dan is dit waaroor dit gaan.
Hierdie is slegs ‘n oorsigtelike opsomming oor van die regsbeginsels wat hier ter sake is. Dit bly ‘n ingewikkelde doolhof. Dit is veel makliker vir jou om net daarop aan te dring dat die direkteure met wie jy onderhandel ‘n skriftelike bevestiging van hul magtiging aan jou oorhandig. ‘n Formele getekende resolusie van die maatskappy is ‘n goeie begin. Verkry ook regsadvies om enige twyfel uit die weg te ruim.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.