Begin Jy Met Jou Eie Besigheid? “Alleeneienaar” as Opsie
Wanneer jy met jou besigheid begin moet jy ook besluit in watter entiteit jy sake gaan bedryf. In ‘n vorige nuusbrief het ons net liggies hieraan geraak.
Ons gaan nou na die eerste opsie kyk wat tot jou beskikking is. Dit is ook die eenvoudigste. Alleeneienaar. Is dit gepas vir jou omstandighede en vir jou nuwe besigheid?
Wat behels dit nou eintlik?
Hier is net een eienaar – jy is die besigheid. Jy is die enigste eienaar en operateur; jy bedryf die besigheid op jou eie persoonlike risiko en vir jou eie wins en voordeel. ‘n Alleeneienaar word deur ons belasting- en handelsomgewing erken as ‘n manier om sake te doen, maar daar is geen aparte entiteit om jou as persoon en jou as handelaar te skei nie. Selfs al gebruik jy ‘n handelsnaam soos “Jan van Wyk handeldrywend as Van Wyk Vervoer” het die besigheid geen ander bestaan as Jan van Wyk nie. Jan sal persoonlik aanspreeklik wees vir alle skulde van die besigheid, alle belasting sal deur Jan aan SARS oorbetaal moet word en alle inkomste sal hom toeval en in Jan se hande belas word.
Soos met alle opsies is daar voor- en nadele. Kom ons kyk ‘n bietjie hierna:-
Vier Voordele …..
- Dit is eenvoudig – uit al die moontlikhede is hierdie beslis die maklikste om ‘n besigheid mee te begin, te bedryf en toe te maak. Daar is geen registrasie van maatskappye of trusts nie, jou administratiewe las is laag en jy maak self alle strategiese- en bestuursbesluite.
- Dis vinnig – jy kan onmiddellik begin om handel te dryf.
- Die winste is joune.
- Jy word teen persoonlike inkomstebelastingkoerse belas. Dit kan dikwels, maar nie altyd nie, vir jou ‘n voordelige belastingkoers gee. (Sien hieronder)
….. en vier nadele
- Risiko – jy is natuurlik 100% persoonlik aanspreeklik vir alle skulde en verpligtinge van jou besigheid. Alle verkope en alle kontrakte is in jou naam. Onthou ook dat jou persoonlike aanspreeklikheid veel weier kan strek as bloot jou betalingsverpligtinge teenoor jou krediteure. Dink maar aan uitgebreide produkaanspreeklikheid (veral ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming), eise en toekennings van werknemers asook onvoorsiene skadevergoedingseise van jou verhuurder van wie jy jou besigheidsperseel huur. Indien jy dalk ernstige finansiële probleme ervaar, kan jou skuldeisers geregtelik op jou bates beslag lê en ter delging van hierdie skulde laat verkoop. Daar sal geen onderskeid wees tussen jou persoonlike bates en die bates van jou onderneming nie. Dit is een en dieselfde. Indien jou woonhuis in jou naam geregistreer is en jou besigheid brand vas met die betaling van jou skuldeisers, gaan jy beslis onrustig slaap.
- ‘n Alleeneienaar vind dikwels dat hy beperkte toegang tot fondse het. Wanneer ‘n besigheid sake begin sonder om voldoende toegang tot kapitaal te hê, kan dit die besigheid kniehalter. Op ‘n later stadium wanneer jy die besigheid wil uitbrei kan jy ook vind dat toegang tot kapitaal steeds ‘n probleem is om jou besigheid tot sy volle potensiaal te ontwikkel. As alleeneienaar kan jy nie aandele in jou besigheid verkoop om uitbreidings te finansier nie. As jy dus uit die staanspoor voorsien dat jou besigheid sterk gaan uitbrei en groei, moet jy eerder oorweeg om in ‘n ander entiteit sake te bedryf.
- Belasting en boedelbeplanning. Om teen jou persoonlike inkomstebelastingkoers belas te word sal aanvanklik voordelig wees. Later kan dit egter sin maak om ‘n belasting-effektiewe struktuur in plek te stel. Dit kan inhou dat daar wel ander regsentiteite of trusts tot jou voordeel in jou spesifieke struktuur ingebring gaan word.
- Dit kan alleen raak. Sommige sakemense is op hul heel gelukkigste as hulle hul eie ding kan doen, sonder om aan enige ander verslag te doen of kennis te neem van ander se insette of voorstelle. Vir baie ander is daar besliste voordele daarin om ‘n vennoot of twee te hê. So kan nuwe insigte en kundigheid ingebring word, verantwoordelikheid kan gedeel word terwyl bestuursbesluite gesamentlik geneem kan word na beraadslaging en oorweging.
Hierdie is die tweede artikel in ons reeks “Kies die gepaste regsentiteit!” Ons kyk volgende keer in meer diepte na Vennootskappe.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.