Teistering in die Werkplek: Die nuwe Kode in 'n neutedop
“Die maatstaf dat teistering ongewenste gedrag (“unwanted conduct”) behels, onderskei teistering van aanvaarbare gedrag in die werkplek” (vertaalde uittreksel uit die Kode, met ons eie beklemtoning.)
'n Nuwe "Kode van Goeie Praktyk vir die Voorkoming en Uitskakeling van Geweld en Teistering in die Werkplek" (oftewel “Code of Good Practice on the Prevention and Elimination of Violence and Harassment in the Workplace”) is sedert 18 Maart 2022 in werking. Alle werkgewers en werknemers moet hiervan kennis neem.
Die nuwe Kode vervang die ou "Kode van Goeie Praktyk vir die Hantering van Seksuele Teisteringsake in die Werkplek" (“Code of Good Practice for the Handling of Sexual Harassment Cases in the Workplace”). Dit is op alle gebiede meer omvattend. Dit het “... ten doel om die voorkoming, uitskakeling en bestuur van alle vorme van teistering wat in die werkplek aangetref word, aan te spreek” (uittreksel uit die Kode, eie beklemtoning).
Hierdie is natuurlik slegs ‘n oppervlakkige oorsig van ‘n ingewikkelde onderwerp. Indien jy twyfel, vra ‘n professionele persoon om vir jou raad te gee oor jou spesifieke omstandighede!
In 'n neutedop…
Daar is verdere inligting hieronder, maar die hooftrekke is as volg.
- Die Kode is van toepassing op alle werkgewers, werknemers en werkplekke (ongeag of dit by ‘n kantoor is, of in ‘n ander omgewing, byvoorbeeld waar persone van die huis af werk).
- Die Kode se trefwydte is omvattend deurdat enige en alle teistering in die werkplek verbied word.
- Werkgewers het heelwat pligte om na te kom. Dit sluit in die assessering van die risiko’s vir teistering in die werkplek. Dan daarna die formulering en toepassing van gepaste prosedures om teistering te voorkom en te hanteer indien dit sou plaasvind.
- Indien werkgewers versuim om hul pligte na te kom, kan dit tot grootskaalse aanspreeklikheid lei.
Op wie is die Kode van toepassing?
Die Kode is op byna almal van toepassing wat by enige besigheid met een of meer werknemers betrokke is. Die Kode maak dit duidelik dat alle werkgewers en werknemers, in beide die formele en informele sektore, ingesluit word.
Die Kode lys die moontlik oortreders en slagoffers van teistering, benewens werkgewers en werknemers, naamlik eienaars, bestuurders, toesighouers, werksoekers en werkaansoekers, persone in opleiding insluitend vakleerlinge en persone met leerlingskappe en internskappe, vrywilligers, kliënte en klante, verskaffers, kontrakteurs, en (die baie wye omskrywing aan die einde) enige ander wat met 'n besigheid te doen het.
Waar en wanneer is die Kode van toepassing?
Die Kode is basies oral van toepassing. Die werkplek is vandag ‘n wye en vloeibare konsep en dit sluit situasies buite die kantoor in en ook waar werkers van die huis af werk: "in enige situasie waarin ‘n werknemer werk, of wat met hul werk verband hou", insluitend die werkplek self (wyd omskryf), "werkverwante uitstappies, reise, opleiding, geleenthede of sosiale aktiwiteite”, “werkverwante kommunikasies, insluitend dié wat deur inligtingstegnologie, kommunikasiesagteware en internetgebaseerde platforms moontlik gemaak word”, akkommodasie en vervoer deur die werkgewer verskaf, en “in gevalle waar werknemers virtueel vanaf hul huise werk, of vanaf enige ander plek as die werkgewer se perseel, sal die plek waar hulle werk ‘n werkplek daarstel.”
Wat moet jy as werkgewer daaromtrent doen?
In breë trekke moet jy –
- Pro-aktiewe en regstellende stappe neem om alle vorme van teistering in die werkplek te voorkom.
- ‘n Risikobepaling doen om vas te stel in hoe mate werknemers blootgestel word aan teistering terwyl hulle hul pligte uitvoer (hierdie punt word benadruk aangesien dit waarskynlik die beste plek is om te begin!)
- 'n Beleid van geen verdraagsaamheid teenoor teistering inneem.
- 'n Werksomgewing skep en handhaaf waarin die waardigheid van werknemers gerespekteer word.
- 'n Werksomgewing skep en handhaaf waarin werknemers wat klagtes oor teistering opper, nie sal voel dat hul griewe geïgnoreer word, as onbelangrik beskou word of nie ernstig opgeneem word nie. Werknemers moet ook nie voel dat hulle in die moeilikheid sal kom indien hulle klagtes aanmeld nie.
- 'n Beleid oor teistering aanvaar en implementeer, wat ag slaan op die bepalings van die Kode en wat daardeur gelei word.
- Duidelike prosedures ontwikkel om enige vorm van teistering op ‘n gepaste wyse te hanteer; wat die oplossing van probleme op 'n sensitiewe, vertroulike, doeltreffende en effektiewe wyse moontlik maak.
As jou prosedures nie aan al hierdie vereistes voldoen nie, loop jy die gevaar van aansienlike aanspreeklikheid. Jou aanspreeklikheid is nie net ingevolge ons arbeidswetgewing nie, maar ook ingevolge die algemene beginsels van “middellike aanspreeklikheid” as werkgewer. Dit beteken dat jy heel moontlik aanspreeklik gehou kan word vir die wangedrag van enige van jou werknemers wat skade aan ‘n ander berokken.
Wat behels "teistering"?
Die volgende uittreksel uit die nuut aangekondigde Kode gee 'n aanduiding van hoe wyd die algemene omskrywings van teistering is. Ons gee dit in Engels soos wat dit goedgekeur is en soos wat dit van 18 Maart 2022 al in werking is.
Wat is "seksuele teistering"?
Die omskrywings is wyd en sluit enige vorm van ongewenste gedrag van 'n seksuele aard in. Dit sluit in fisiese, verbale of nie-verbale gedrag, wat direk of indirek uitgedruk kan word.
Spesifieke voorbeelde (wat ook dikwels die meeste aandag van die media ontvang), sluit in seksuele insinuasies, opmerkings met seksuele ondertone, seksverwante grappies, gefluit van 'n seksuele aard, seksueel eksplisiete teksboodkskappe, onwelkome gebare, en nog vele meer.
Wat van "teistering oor ‘n persoon se ras, of etniese of sosiale herkoms"?
Weereens is die omskrywings hier baie wyd, en dit sluit die volgende konsep in: "Rasseteistering is ongewenste gedrag wat aanhoudend of as 'n enkele voorval kan voorkom, wat skadelik, neerhalend of vernederend is of wat 'n vyandige of intimiderende werksomgewing skep". Ons illustreer met verwysing na die volgende uittreksel uit die Kode, wat ons ook direk in Engels aanhaal: -
Die gevolgtrekking: Jy kan aanvaar dat as jy vermoed dat iets in jou werkplek moontlik op teistering kan neerkom, dit heel waarskynlik die geval is!
Provided by Jardim Bekker Inc
© DotNews. All Rights Reserved.