Grondeienaars: Jou belastings kan vervierdubbel vir ongemagtigde grondgebruik
“Die genoemde boete … is opgelê omdat die eiendom in stryd met die sonering daarvan gebruik is.” (vertaalde uittreksel uit die uitspraak hieronder)
Munisipaliteite het die reg (en die plig) om grondgebruik in hul gebiede te reguleer. Hulle is ook by magte om sanksies in te stel. Een hiervan behels dat eiendomme wat onregmatig of sonder magtiging gebruik word, aan belastings en heffings teen ‘n boetetarief onderhewig sal wees.
Hierdie boetes kan aansienlik wees, en die Hoogste Hof van Appèl (HHA) het nou beslis dat sodanige boetes opgelê kan word sonder dat die munisipaliteit eers die eiendom se kategorie op sy waardasierol na “onwettige of ongemagtigde” gebruik hoef te verander. Die munisipaliteit moet wel bewys dat dit ingevolge 'n wettige tariewebeleid opgetree het.
Die huis waarvan die belastingrekening vervierdubbel het
- 'n Huis wat op die munisipaliteit se waardasierol teen R1,650,000 gewaardeer is, se maandelikse belastingrekening is verviervoudig van R898.01 tot R3,592.05.
- Die munisipaliteit het hierdie stap geneem nadat hulle die eienaars in kennis gestel het dat die eiendom “onregmatig en onwettig as ’n kommune vir studente gebruik word. Hierdie gebruik was in stryd met die stadsbeplanningskema en met die sonering vir die eiendom en sonder die nodige magtiging.” Volgens die munisipaliteit was munisipale magtiging beslis ‘n vereiste, aangesien die kommune 'n “kommersiële saak” was.
- Dit was nadat die eienaars twee van hul vyf slaapkamers aan "studente of jong professionele persone" uitverhuur het. Hulle het hiermee voortgegaan al het hulle die voorafgaande twee jaar al gereeld kennisgewings van die munisipaliteit gekry het om die onwettige gebruik te staak. Selfs ‘n latere interdik van die Hooggeregshof teen die voortgesette oortreding het ook geen effek gehad nie.
- Die eienaars het verskillende regsargumente aangevoer om die boetes aan te veg. Die Hof se fynere ontleding van hierdie argumente (op appèl na die HHA) sal vir eiendomspraktisyns van groot belang wees.
Die belangrike les vir eiendomseienaars hier is dat die Appèlhof wel die boetekostes gehandhaaf het, en dat die eienaars dit wel sal moet betaal.
As jou buurman die toepaslike sonering of grondgebruikwet oortree...
Daardie les is ook vir aangrensende eienaars belangrik, want in die praktyk sal onwettige grondgebruik van hierdie aard dikwels eers onder 'n munisipaliteit se kennis kom wanneer 'n bekommerde buurman of buurvrou die fluitjie blaas.
As dit lyk of jou buurman of buurvrou op die punt staan om 'n ongemagtigde kantoor, kommersiële of ander nie-toegelate bedryf langs jou te open, en as julle nie die saak oor 'n koppie koffie kan uitpluis nie, moet jy onmiddellik professionele hulp inroep. Die blote moontlikheid van 'n viervoudigde belastingrekening mag dalk net genoeg wees om die probleem te laat verdwyn.
Elke munisipaliteit sal sy eie prosedures hê
Ongeag of jy ‘n grondeienaar of ‘n buurman is, is dit goed om uit te vind wat jou plaaslike owerheid se grondgebruik- en belastingbeleide is. In die bogenoemde saak was dit die Stad van Johannesburg se Metropolitaanse Munisipaliteit. Jou plaaslike munisipaliteit sal hul eie regulasies oor grondgebruik hê, wat dalk meer of minder beperkend as dié van Johannesburg kan wees.
Gaan die sonering na voordat jy die eiendom koop
Die eienaars in hierdie saak was heel moontlik vanuit die staanspoor van voorneme om die kamers uit te verhuur. Die ekstra inkomste wat hulle daaruit kon verdien, was dalk die bepalende faktor wat meegebring het dat die eiendom binne hul prysklas geval het. Indien dit die geval was, was dit ‘n fout aan hulle kant om nie die plaaslike sonering van die eiendom vooraf vas te stel nie.
Dit help om vertroud te wees met die sonering en boubeperkings in jou gekose area, as jy onaangename verrassings wil vermy. Dink byvoorbeeld aan ‘n nuwe buurvrou wat ‘n gastehuis wil open, of wat ‘n drieverdieping huis wil oprig wat jou uitsig oor die see gaan belemmer. Vra jou prokureur om die wette en regulasies vir jou na te gaan voordat jy ‘n aanbod maak om ‘n eiendom aan te koop.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.