Verkeersboetes en ‘n Erkenning van Skuld – lei dit tot ‘n kriminele rekord?
“We must not make a scarecrow of the law” (Shakespeare)
‘n Kriminele rekord, selfs vir die geringste oortreding wat jare terug gebeur het, hou ernstige en soms lewenslange gevolge vir jou in. Dit kan stil in die agtergrond sluimer, totdat jy eendag aansoek doen vir ‘n werk, ‘n visum of ‘n vuurwapenlisensie.
Om onwetend ‘n kriminele rekord op te doen is ‘n nagmerrie. Kan dit met jou gebeur as jy ‘n erkenning van skuld teken en daarna die boete betaal? In vandag se lewe is dit nie ongewoon vir ons om ‘n erkenning van skuld boete te betaal nie. Dikwels doen ons dit om te verhoed dat ons aan die burokrasie en vetragings van die hofstelsel blootgestel word. Soms betaal ons ‘n boete om te keer dat ons tyd in ‘n polisiesel gaan deurbring.
‘n Remedie, maar dit is nie ideaal nie
Indien jy wel ‘n kriminele rekord het, kan jy aansoek doen vir skrapping daarvan van SAPS se Kriminele Rekord Sentrum databasis. So ‘n aansoek kan eers na 10 jaar gebring word en ook net vir sekere mindere oortredings. Die aansoek self neem ook ‘n lang tyd om deur die stelsel te beweeg. Volgens SAPS neem dit tussen 20 en 28 weke. Daar is wel ‘n beperkte lys van minder ernstige, gespesifiseerde oortredings wat na 10 jaar outomaties wegval. Doen gerus navraag hieroor.
Soos altyd, bly voorsorg beter as nasorg
Wanneer is jy op risiko?
-
Indien jy vir ‘n oortreding gearresteer word, die polisie ‘n dossier oopmaak en jou vingerafdrukke neem, die saak ondersoek en jy daarna aan ‘n misdryf skuldig bevind word – dan sal jy ‘n kriminele rekord hê.
-
Wat dan as jy ‘n erkenning van skuld teken en die voorgestelde of ooreengekome boete betaal? Met verkeersoortredings moet jy onderskei tussen die verskillende bepalings van die Strafproseswet. Mindere oortredings rakende spoed, lisensies en parkering word gewoonlik ingevolge Artikel 341 se Skedule 3 hanteer. Die staat stel nie werklik vervolging in nie en daar is ook nie ‘n kriminele rekord wat in SAPS se databasis opgeneem word nie.
-
Ander oortredings word ingevolge Artikel 57 en 57A hanteer. Hier gee jou erkenning van skuld wel aanleiding tot ‘n “geagte” skuldigbevinding en is dit moontlik dat dit wel op die SAPS se databasis opgeneem word. Indien jy nie onder arres geplaas was nie en geen vingerafdrukke geneem was nie, behoort jy nie op die databasis te wees nie. ‘n Paar jaar gelede was daar wel sprake dat SAPS net met name en identiteitsnommers iemand op die databasis sou kon plaas. As jy sekerheid hieroor wil hê, kan jy altyd vra vir ‘n uitklaringsertifikaat. Kyk gerus na SAPS se webwerf“ Applying for a Police Clearance Certificate (PCC)”.
-
‘n Skriftelike Kennisgewing om ingevolge Artikel 56 in die Hof te verskyn, kan ook aan jou die opsie bied om ‘n boete te betaal en nie in die hof te verskyn nie. Dan sal die bepalings van Artikel 57, soos hierbo vermeld, ook van toepassing wees.
- ‘n Onlangse uitspraak in die Hooggeregshof het bevind dat waar jy ‘n boete betaal en ‘n erkenning van skuld teken – selfs ingevolge Artikel 57 of 57A en selfs na arrestasie en vingerafdrukke geneem is – behoort jy nie met ‘n permanente skuldigbevinding opgesaal te word nie.
Dit is aanvaarbaar dat jou naam in die SAPS se databasis opgeneem gaan word, indien jy in die hof skuldig bevind en gevonnis word. Dit behoort egter nie te gebeur indien jy ‘n boete betaal en ‘n skulderkenning geteken het nie.
Ons kyk na die geval van die man wat gras langs die pad verkoop het …
‘n Grasverkoper se erkenning van skuld en die boete van R500
-
Twee verkopers wat langs die pad aanrolgras verkoop het, het in 2010 stry gekry oor die gebruik van ‘n spesifieke plek langs die pad. Die een het die ander daarvan beskuldig dat hy haar twee keer geklap en toe weggestoot het. Sy het gevolglik aanrandingsklagtes by die polisie aanhangig gemaak.
-
Die man is deur die polisie in hegtenis geneem en aangehou. Sy vingerafdrukke is ook geneem. Hy het die geleentheid aangegryp om ‘n skulderkenningsboete van R500 te betaal. Ingevolge die voorgeskrewe prosedure het die landdros die dokumente deurgewerk. Hy het die “geagte” skuldigbevinding van aanranding in die hofrekords aangeteken en daarna is dit ook so op SAPS se databasis opgeneem.
-
Gedurende 2018 het dit vir die eerste keer tot die beskuldigde se kennis gekom dat hy wel in 2011 aan aanranding skuldig bevind is en dat dit ook so op sy rekord aangeteken is. Hy het aansoek gedoen om ‘n Uber bestuurder te word en hiervoor moes hy polisieklaring en ‘n skoon rekord aantoon.
-
Hy wend hom tot die Hooggeregshof om die skuldigbevinding en vonnis tersyde te stel. Hy beweer dat hy onder die indruk was dat dit die enigste manier vir hom was om uit aanhouding vrygelaat te word. Hy beweer verder dat sy regte nie volledig aan hom verduidelik was nie. Hy ontken gevolglik die aanranding en neem dan sy kanse indien die staat die saak wel in die hof verder wil neem.
-
Die hof kom die grasverkoper tegemoet. Die hof bevind dat hierdie tipe skulderkenning net vir mindere oortredings gepas is. Dit is nie werklik ‘n hofvonnis of hofbevinding nie, eerder ‘n ooreenkoms tussen die staat en die aangeklaagde. Daar is geen kritiese en juridiese oorweging of die aangeklaagde wel regtens en feitelik aan die misdryf skuldig is nie.
-
“A conviction and sentence following an entry into the admission of guilt record book by the clerk of the criminal court in the magistrates’ court is not a conviction whose record is permanent.” Na regte volg dit dan ook dat dit nie in die databasis opgeneem moet word nie.
Die uiteinde
Die hof bevind dat die beskuldigde in hierdie geval onder druk geplaas is om skuld te erken. Die hof bepaal dat ‘n afskrif van die hofuitspraak op die Minister van Polisie beteken moet word. Die Minister word gelas om in oorleg met die Kommissaris van Polisie ‘n nuwe beleid te ontwikkel om die kritiek teen die polisie aan te spreek en op te los. Dit is dat die SAPS beskuldig word dat hulle soms weerbare mense, wat bang is dat hulle aangehou gaan word, sal arresteer. Sulke weerbare mense is gewoonlik baie vinnig om tot hul nadeel ‘n skulderkenningsboete te betaal om seker te maak dat hulle nie aangehou word nie. Dit is hierdie ongure praktyke wat die Minister en die Kommissaris moet aanspreek en uitwis.
Wanneer hierdie beleid dan in werking gestel word, gaan dit steeds baat om jou prokureur te kontak indien jy enige twyfel of ongemak met die situiasie ervaar.
Provided by BSA Law | Bruno Simao Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.