Wessels + van Zyl Inc

Eiendomsagente: Beskerm Jou Kommissie So

Indien jy ‘n eiendomsagentskap se sake deur middel van ‘n maatskappy of ‘n beslote korporasie (BK) bedryf, is die volgende op jou van toepassing. In ‘n onlangse saak in die Hoë Hof het ‘n volbank regters beslis dat die BK nie geregtig was om die kommissie te eis nie. Die rede hiervoor was dat slegs die enkele lid van die BK in sy persoonlike hoedanigheid oor ‘n Getrouheidsfondssertifikaat beskik het. Daar was nie ‘n aparte sertifikaat uitgereik in die naam van die beslote korporasie wat gedagvaar het nie.


Die tekortkoming – ‘n BK sonder sy eie Getrouheidsfondssertifikaat

  1. ‘n Eiendomsagentskap wat in ‘n BK sake bedryf het, het ‘n verhuurder se mandaat suksesvol uitgevoer en het ‘n geskikte huurder vir die eienaar verkry.  

  2. Slegs die enkele lid van die BK was in besit van ‘n Getrouheidsfondssertifikaat. Hierdie sertifikaat is in haar naam uitgereik in haar hoedanigheid as Hoof (Alleeneienaar by die Firma) van die Beslote Korporasie, met die BK se handelsnaam wat ook uitdruklik op die sertifikaat verskyn het. 

  3. Die verhuurder het geweier om die kommissie te betaal en die agentskap het gevolglik ‘n dagvaarding uitgereik. 

  4. Die hof bevind dat die vereiste sertifikaat duidelik aan die lid in haar persoonlike hoedanigheid uitgereik is en nie aan die BK nie. Gevolglik was die BK nie geregtig op die kommissie nie en is die BK se eis verwerp.

Beskerm jou kommissie


Moet eerder nie dat enige van jou eise vir kommissie in die gedrang kom nie. Verkry afsonderlike sertifikate vir al die handeldrywende entiteite sowel as vir al die direkteure, lede, hoofde en agente wat in die agentskap werk. Die sertifikate word gratis uitgereik aan kwalifiserende aansoekers. Dit moet ook op ‘n prominente plek op die agentskap se perseel vertoon word. 


Nog ‘n risiko – waar jy “handeldrywend as” sake doen  


In ‘n ander saak in die Hoë Hof het ‘n Beslote Korporasie wel oor ‘n geldige sertifikaat beskik, uitgereik in die BK se naam. Die agent het die mandaat in die BK se handelsnaam voltooi en kort daarna ‘n koper vir die eiendom verkry. Die verkoper het geweier om kommissie aan die agentskap te betaal omdat daar glo nooit ‘n mandaat aan die BK gegee was nie. Die betrokke BK is nêrens in enige van die dokumentasie of op die webwerf van die agentskap genoem nie. 

Die hof het hier bevind dat die BK en sy handelsnaam effektief een en dieselfde was en het aan die agentskap die gevraagde kommissie van R78 000 toegeken. 

Dit is duidelik in al die partye se voordeel om vanuit die staanspoor sulke litigasie te vermy. Maak beide jou regsentiteit se naam en handelsnaam aan al die partye bekend, deur dit op al jou dokumente, jou briefhoofde en op jou webwerf te plaas. Verkry regsadvies indien daar enige twyfel hieroor bestaan.


Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.
Disclaimer
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.