Dubbele Burgerskap – Is Daar ‘n Risiko Dat Jy Jou Suid-Afrikaanse Burgerskap Kan Verloor?
Jy is ‘n Suid-Afrikaanse burger en besluit om vir dubbele burgerskap aansoek te doen. Jy woon of werk dalk oorsee of jy het finansiële redes of jy wil dalk net ‘n tweede paspoort hê om jou internasionale reise te vergemaklik. Jou redes daaragter is nie werklik belangrik nie. Wat wel uiters relevant is, is dat jy die risiko loop om jou Suid-Afrikaanse burgerskap te verloor.
Daar is geen probleem met die beginsel van dubbele burgerskap nie – jy word gemagtig om dit te bekom. Die probleem lê egter daarin dat as jy deur ‘n vrywillige en formele daad burgerskap van ‘n ander land bekom, jy dan ingevolge die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap, outomaties jou Suid-Afrikaanse burgerskap verloor.
Jy word slegs vrygestel as ......
Outomatiese verlies van burgerskap is nie van toepassing op –
- Minderjariges (onder die ouderdom van 18 jaar) en
- Die verkryging van burgerskap van ‘n ander land deur middel van ‘n huwelik.
So maak jy om jou SA burgerskap te behou
Die goeie nuus is dat jy deur Binnelandse Sake aansoek kan doen vir toestemming om jou SA burgerskap te behou. Jou aansoek moet goedgekeur word voordat jy jou tweede burgerskap verkry. Moet dit nie los om dit ter elfder uur te probeer red nie. Die aangeduide tyd vir die verwerking van so ‘n aansoek is 3 tot 6 maande. Buitelanders kan die nodige vorms en instruksies op hul plaaslike SA Ambassade, Sending of Konsulaat se webwerf verkry.
Wat staan jou te doen as jy dit klaar outomaties verloor het?
Hier is jy reeds op die agtervoet, maar jy kan steeds aansoek doen om jou burgerskap terug te kry -
- Indien jy as gevolg van geboorte of herkoms ‘n Suid-Afrikaanse burger was, kan jy aansoek doen vir die herstel van jou burgerskap. Dit is nou as jy na Suid-Afrika teruggekom het of permanent hier woon. (Onthou jy behou steeds permanente verblyfreg, jy het wel jou burgerskap verloor.)
- Indien jy oorspronklik jou Suid-Afrikaanse burgerskap deur naturalisasie verkry het, moet jy eers vir permanente verblyfreg her-aansoek doen of aansoek doen om vrystelling daarvan. Daarna sal jy aansoek kan doen vir die herstel van jou burgerskap.
- Indien bovermelde moontlikhede nie werk nie moet jy jou tot die regspraktyk wend. Sommige regspraktisyns en kommentators is van mening dat hierdie bepaling moontlik ongrondwetlik mag wees. Litigasie is beslis jou laaste opsie – daar is geen waarborg tot sukses nie en jy sal in die proses beduidende regskostes moet aangaan.
NS. Moet ook nie toelaat dat jou SA paspoort verval nie!
Alhoewel jy met jou tweede paspoort vrylik rondom die wêreld kan reis, moet jy steeds jou geldige Suid-Afrikaanse paspoort gebruik om Suid-Afrika op jou reise binne te kom en te verlaat. Moet dus nie vergeet om dit deurlopend in stand te hou en van tyd tot tyd te hernu nie.
Provided by Anthony Whatmore & Company
© DotNews. All Rights Reserved.