Behuisingskomplekse: Mag jy Telkom se infrastruktuur gebruik om toegang te kry tot vesel?
“Possession is nine-tenths of the law”
Supervinnige breëband internet toegang kan toenemend aan huise en kantore in Suid-Afrika beskikbaar gestel word.
Daar bestaan ook gesonde wedywering tussen diensverskaffers om jou op te teken vir ‘n kontrak. Kompetisie is natuurlik ‘n goeie ding vir ons as deursnee verbruikers wat hierby baat gaan vind. In ‘n gemeenskapskema is die posisie egter meer ingewikkeld. Hoe moet jou verskaffer die kabel binne in die kompleks by die individuele eenhede en by jou as inwoner uitkry?
Om ondergrondse kabels en kabelomhulsel te lê, kan erg ontwrigtend vir die hele buurt wees. Dit is ook ‘n duur proses. Indien daar ‘n ander opsie is, soos Telkom se bestaande infrastruktuur wil mens eers daar stilstaan en kyk of mens dit nie kan benut nie. ‘n Onlangse saak in die Hooggeregshof bevestig dat Telkom steeds kan kies wie geleentheid sal kry om hul infrastruktuur te gebruik en wie nie.
Die omhulsel vir die kabel
- Tydens die aanvanklike ontwikkeling van ‘n residensiële behuisingskompleks het Telkom koperlyne na die individuele huise aangelê, via ‘n pypleidingstelsel wat deur mangate bedien is.
- Die Huiseienaarsvereniging (“HEV”) kon nie met Telkom ‘n ooreenkoms bereik oor die verskaffing van veseltoegang vir die hele kompleks nie. Die HEV het hierna wel met Vodacom ‘n kontrak gesluit. Op hul beurt het Vodacom met Telkom geskakel oor die moontlikheid om die bestaande pypleidingstelsel te gebruik om die vesel te implementeer. Hierna het ‘n dispuut ontstaan oor of Telkom onder enige verpligting was om die infrastruktuur wat hulle self gebou het, moes deel of aan mededingers moes beskikbaar stel. Die dispuut is na die Onafhanklike Uitsaai-owerheid van Suid-Afrika (“OKASA”) verwys om uitsluitsel hieroor te verleen.
- Voordat OKASA die aangeleentheid ten volle kon aanhoor, het die Huiseienaarsvereniging aan Vodacom die groen lig gegee om aan te gaan met die implementering van vesel en met die gebruik van Telkom se infrastruktuur in die kompleks om dit te bewerkstellig. Telkom het die hof op ‘n dringende basis genader vir ‘n spoliasiebevel om die eksklusiewe gebruik en besit van Telkom se infrastruktuur weer terug te lewer.
- Die hof gee vir Telkom gelyk en staan die aansoek toe. Die hof beveel dat – hangende afhandeling van die dispuut deur OKASA – die HEV sonder versuim weer ongestoorde besit van die infrastruktuur aan Telkom moet teruggee. Vodacom moet gevolglik sondermeer hul bekabeling en toerusting verwyder.
Die proses met OKASA moet dus eers afgehandel word. Dan mag daar dalk hersieningsaansoeke teen die bevinding van OKASA kom, wat waarskynlik gevolg sal word deur verdere hofprosedures en appèlle. Ons sal eers met finale sekerheid weet wat die verpligting op Telkom is om infrastruktuur aan ander verskaffers van vesel beskikbaar te stel (indien enigsinds en in indien wel, onder watter voorwaardes) nadat al die hofprosesse in geheel afgehandel is.
Die bevinding sê wel vir ons dat Telkom regtens erkenning geniet as die besitter of entiteit in beheer van die infrastruktuur en omhulsels. Al is die installasie op private grond en ongeag wie die eienaar daarvan mag wees. Regtens mag jy nie die persoon in besit van sy besit ontneem sonder sy toestemming of sonder regsprosedure nie. Jy moet dus Telkom se toestemming verkry voordat jy ‘n ander verskaffer toegang kan gee tot Tekom se infrastruktuur en omhulsels, al is dit op jou eiendom aangebring.
Die hof bevestig ook dat Telkom op sy beurt ‘n statutêre reg het om toegang tot die infrastruktuur en die omhulsels te verkry, onderhewig daaraan dat Telkom hierdie reg met die nodige respek en omsigtigheid moet uitoefen.
Provided by Hugh Raichlin Attorneys Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.