PAIA Handleidings en die Sperdatum van 31 Desember 2021: Vals alarm, of is dit hierdie keer die ware Jakob?
“A man who procrastinates in his choosing will inevitably have his choice made for him by circumstance.” (Hunter S. Thompson)
Sedert 2005 hoor besighede gereeld dat dit “tyd is om jou PAIA (Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, oftewel die “Promotion of Access to Information Act”) Handleidings gereed te kry, die sperdatum is om die draai.” En elke vyf jaar sedertdien, word verdere uitstel verleen aan daardie (meestal kleiner) sakeondernemings, wat tydelik van die verpligting om die handleidings in te dien, vrygestel was. Die aankondiging van die uitstel is elke keer tot nou toe op die laaste oomblik bekend gemaak.
Weer ‘n vals alarm?
Die regering het hierdie sperdatums al soveel kere uitgestel. Daarom is dit te verstane dat die eienaars van kleinsake-ondernemings skepties is oor hierdie proses. Die nuutste sperdatum moet egter dalk meer ernstig opgeneem word, veral aangesien die verwante POPI-Wet (Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, oftewel die “Protection of Personal Information Act”) nou volledig in werking is en die nuwe PAIA Regulasies uitgevaardig is om by POPI aan te sluit.
Watter besighede word tans van die verpligting vrygestel?
PAIA self vereis alle openbare en private liggame om ‘n PAIA inligtings-handleiding voor te berei, in te dien en te publiseer (insluitende op enige webwerf wat jy het). Elke sake-onderneming, ongeag hoe klein, val onder hierdie wet. Die omskrywing van “privaat liggaam” sluit elke persoon of vennootskap in wat “enige handel, besigheid of beroep” bedryf of bedryf het, asook enige “voormalige of bestaande regspersone” en politieke partye.
Met ander woorde, alle besighede, van alle soorte en groottes moet ‘n PAIA handleiding gereed hê wanneer die huidige vrystellingsperiode tot ‘n einde kom.
Jy is waarskynlik tans van die verpligting vrygestel indien jy ‘n kleinsake-onderneming bedryf, in besonder ‘n “privaat liggaam”, wat enige privaat maatskappy insluit.
Die vrystelling geld egter nie vir openbare maatskappye nie, en ook nie vir enige privaat maatskappy in enige van die volgende sakesektore nie -
- ‘n Privaat maatskappy met 50 of meer werknemers, of
- ‘n Privaat maatskappy met ‘n jaarlikse omset gelyk aan of meer as bepaalde drempels – sien die tabelle hieronder vir meer besonderhede.
Kry jou Handleiding nou al gereed!
Selfs indien die sperdatum weereens uitgestel word, sal jy in elk geval een of ander tyd aan die wet se vereistes moet voldoen. Deur dit nou reeds af te handel, kan jy ten minste een van die rompslomp items van jou aksielys verwyder. Volgens die skrywer Hunter S Thompson is die noodwendige gevolg van uitstel dat die besluit mettertyd namens jou geneem sal word.
Berei jou PAIA handleiding nou voor; indien jy reeds een het, maak seker dit bly op datum.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.