Huisverkoop: Hoe om jul huis hierdie Kersseisoen te verkoop
“Geluk is wat gebeur wanneer voorbereiding en geleentheid paaie kruis”
(Lucius Annaeus Seneca (die Jonger Seneca), Romeinse filosoof)
Ons geskiedenisboeke dui nie aan of Seneca self “gelukkig” in die eiendomsmark van daardie tyd was nie. (Rome se grondregistrasierekords van twee millennia gelede het ongelukkig nie die toets van tyd en die ineenstorting van die Romeinse Ryk oorleef nie.) Tog is sy wyse woorde vandag net so geldig as wat dit daardie tyd was.
Die twee belangrike elemente van ‘n “gelukkige” verkoop
Om dit gelukkig te tref en die regte koper teen die regte prys te vind, is twee faktore van belang-
- Geleentheid: Die Kersseisoen is altyd ‘n uitstekende tyd vir die soeke na die perfekte koper. Met ons huidige lae rentekoerse en met berigte van huispryse wat wêreldwyd die hoogte in skiet, behoort hierdie Desember vol geleenthede vir verkopers te wees.
- Voorbereiding: Ons het ‘n paar nuttige wenke hier vir jou, vanuit ‘n regs- en ‘n praktiese oogpunt.
12 stappe van voorbereiding vir ‘n “gelukkige” verkoop
Die eerste prys is natuurlik ‘n vinnige verkoop teen ‘n goeie prys, gevolg deur ‘n oordragproses wat seepglad verloop. Hier is ‘n paar idees oor hoe om hierdie doelwit te bereik -
- Die koopooreenkoms - vermy enige slaggate: Jou huis is waarskynlik een van jou belangrikste bates, so wees bewus van en wees voorbereid op enige moontlike slaggate in ‘n verkooptransaksie. Indien jy in een van hulle sou trap, kan dit jou “gelukkige” verkoop eensklaps in ‘n ramp omskep.
Wees eerstens daarop bedag dat jy as verkoper die reg het om die oordragprokureur van jou keuse aan te stel. Moet jou nie laat ompraat om hierdie reg prys te gee nie! Kies iemand wat jy vertrou om die oordragproses (die formele registrasie van die eiendom in die koper se naam in die Aktekantoor) vinnig en professioneel af te handel.
Jy sal aan al die bepalings en voorwaardes in die koopooreenkoms wat jy teken, gebonde wees. Dit is nie moontlik om in een artikel al die moontlike slaggate hier op te noem nie. Daarom is dit ‘n goeie idee dat jou eie prokureur die aanbod/koopooreenkoms vir jou opstel. Indien jy ‘n aanbod ontvang wat iemand anders voorberei het, laat jou prokureur dit minstens met jou deurgaan voordat jy enigiets onderteken.
Elke bepaling en elke voorwaarde, ongeag hoe “standaard” dit mag voorkom, moet noukeurig ondersoek word om seker te maak dat dit vir jou spesifieke transaksie en vir jou besondere behoeftes gepas is.
Algemene probleemareas is “voetstoots”- en “verband”- klousules wat swak bewoord is, onsekerhede oor betalingsreëlings, verwarring oor of die direkteure van ‘n maatskappy of die trustees van ‘n trust gemagtig is om ooreenkomste aan te gaan en te onderteken, om ‘n paar slaggate te noem.
- Hoe vroeër, hoe beter … Bespreek ‘n paar voorlopige (maar baie belangrike) aspekte met jou prokureur, soos watter eiendomsagent/e om te gebruik, watter verkooppryse op die oomblik in jou area bereik word, watter tipe kopers daar koop, ensovoorts. Vra ook vir ‘n uiteensetting van wat jou kostes gaan wees, wanneer die koopprys waarskynlik aan jou oorbetaal sal kan word, sodat jy jou kontantvloeibeplanning kan doen. Begin solank om die voldoeningsertifikate aan te spreek en maak voorsiening vir die kostes van enige herstelwerk wat nodig mag wees (normaalweg vir elektriese en loodgieterswerk). Jy moet ook gewoonlik vir jou bank 90 dae kennis gee om jou huislening te kanselleer om ‘n boete vir vroeë kansellasie te vermy. Doen navraag hieroor by jou bank.
- Kies die regte tyd: Indien jy ‘n huis - ongeag of dit ‘n “vakansiehuis” is of nie - in ‘n “vakansie-area” verkoop, sal die Feesseisoen ‘n goeie tyd wees om die huis te verkoop. Sonnige weer, ontspanne vakansiegangers in gemoedelike luim en ‘n instroming van mense vanuit ander stede is die agtergrond waarteen jy jou huis aan die beste moontlike mark ten toon kan stel. Dit bring ons dan by die volgende aspek…
- Identifiseer en teiken jou “perfekte koper”: Hou ‘n dinkskrum met jou familie/vriende/professionele adviseurs oor wie jou “perfekte koper” is. Wie sal jou huis die graagste wil koop? Wie sal jou die meeste daarvoor betaal? ‘n Voorbeeld van die soort beskrywing waarmee jy vorendag kan kom, is die volgende: “Ons perfekte kopers is ‘n jong, vooruitstrewende gesin op soek na ‘n woning met genoeg spasie om van die huis af te kan werk, met goeie skole in die omgewing, met ‘n aparte woonstel vir Ouma.” Gebruik so ‘n gepaste beskrywing om jou teikenmark te identifiseer. Dink dan hoe jy jou teikenmark kan bereik, hoe jy daardie mark in kennis gaan stel van hoe perfek jou huis vir hulle is, en dies meer.
- Dink mooi en maak seker dat julle vanuit die staanpoor die prys reg vasstel. ‘n Baie algemene fout en ‘n fout wat maklik gemaak word, is om die aanvanklike prys te hoog te maak. Kry die meeste uit jou kopers se belangstelling en betrokkenheid deur ‘n redelike, markverwante prys te vra. Maak wel voorsiening vir onderhandeling. Verkry goeie onafhanklike advies hieroor. Ons is geneig om meer emosioneel oor ons eie tuistes te dink, daarom is dit moeilik om objektief oor die aantreklikheid en die markwaarde van ons wonings vir buitestaanders te wees.
- Adverteer: Jou eerste uitdaging is om mense deur jou deur te kry wat in jou huis belang stel. Tensy jy self die vaardighede het om die regte bemarkingskanale en -formate te kan identifiseer en te benut, is professionele advies en leiding op hierdie gebied noodsaaklik! Verkry ook die dienste van ‘n professionele fotograaf. Indien jy ‘n kans vat en dinge self probeer doen, kan jy jou huis se beeld in die publieke oog ernstig benadeel omdat dit nie vanuit die staanspoor reg gedoen is nie.
Die idee is om jou eiendom se goeie eienskappe te beklemtoon, veral dié wat waarskynlik jou teikenmark (hierbo geïdentifiseer) sal beïndruk. Dink hier aan al die goeie aspekte van jou eiendom, wat maklik onder die radar kan deurglip, byvoorbeeld boorgatwater, besproeïngstelsels, sonkrag, omskakelaars, vesel (“fiber”), spesiale sekuriteitsfunksies, plek vir ‘n kruie- of groentetuin – die lys is onbeperk.
- Maak jou eiendom en omliggende omgewing so aantreklik as moontlik vir buitestaanders:Indien jy die bogenoemde stappe suksesvol nagekom het, behoort die regte koper binnekort aan jou deur te kom klop. Die versorging van jou eiendom en van die omliggende omgewing, soos van die straat af gesien, is van wesentlike belang. Moenie hierdie stap oorsien nie. Will Rogers het gesê dat jy nooit ‘n tweede kans kry om ‘n goeie eerste indruk te maak nie. Dieselfde geld wanneer dit by die verkoop van jou huis kom. Vra ‘n paar vriende om in jou straat af te ry en met vars oë na jou huis te kyk. Wat maak dadelik ‘n goeie indruk? Wat kan potensiële kopers dalk afskrik?
- Jy moet fokus op die eerste indrukke wanneer die koper aanklop: Jou perfekte koper besluit om na jou eiendom te kom kyk, parkeer en klop aan jou deur. Welgedaan! Hy of sy beweeg deur die voortuin – is jou gras welig en kort gesny? Is die bome en struike netjies, is die blombeddings helder en kleurvol? Is die buitekant van die huis aantreklik, is die verfwerk en dak in ‘n goeie toestand? Wink die ingang en voordeur die koper nader en oortuig dit vir hom of haar om in te kom?
- ‘n Skoon huis, vars lug en goeie beligting maak ‘n groot verskil: Die potensiële koper is by die deur in. Wat is die eerste ding wat hy of sy gaan sien en ervaar? ‘n Helder, ruim en vars atmosfeer kan die koper daar en dan oortuig. Net so gaan ‘n donker, muwwe en bedompige gevoel die koper afskrik. Dit maak nie saak met watter probleem jy hier worstel nie – daar is fantasiese advies op die internet beskikbaar oor hoe om sulke probleme aan te spreek: verf en gordyne in ‘n ligter skakering, meer natuurlike lig van buite (‘n groot pluspunt!), skitterende skoon vensters, meer binnehuis-beligting, ‘n paar spieëls om ‘n gevoel van lig en spasie te skep, ‘n vermindering van onnodige goed wat rondstaan,herrangskikking van meubels – die unieke sterk punte en swakhede sal bepaal wat hier nodig mag wees. Rond alles af met ‘n deeglike skoonmaak. Indien dit ‘n ou huis is, jy troeteldiere het, of sopas van ‘n klomp goed ontslae geraak het wat stof versamel het, is dit ‘n goeie idee om professionele hulp in te roep met die woning se skoonmaak.
- Wenner kombuis en badkamers: Jou kombuis en badkamers kan ‘n potensiële koop maak of breek. Indien hierdie areas van jou huis nie reeds aantreklik genoeg is nie, is dit dalk die moeite werd om daaraan geld te spandeer voordat jy aandag aan ander vertrekke gee.
- Kantoorspasie om van die huis af te kan werk: Afhangende van wie jy as jou “perfekte koper” in stap twee hierbo geïdentifiseer het, kan hierdie ‘n beslissende rol speel. Indien jy nie reeds ‘n kantoor/studeerkamer het nie, identifiseer ‘n spasie daarvoor in die huis en wees voorbereid om vrae soos “is hier betroubare en vinnige vesel (“fibre”)?” en “hoe luidrugtig is die bure?” te beantwoord.
- Die “doen-dit-self” faktore: Tensy jy beplan om jou huis te verkoop as een met “baie potensiaal” maar wat nog baie werk nodig het, kyk met ‘n kritiese oog uit vir al die “klein jakkalsies” wat aandag en herstel nodig het. Dink aan die binne- en buitekant van die huis. Gekraakte teëls, gebreekte deurhandvatsels, krane wat lek, ‘n swembad wat vuil is of in ‘n slegte toestand is – enigiets wat ‘n potensiële koper sal sien en laat wonder “Watter ander probleme skuil nog hier rond?”.
Dit bring ons by die slotsom – neem voortydig die nodige stappe om jou eie geluk met die suksesvolle bemarking van jou huis te verseker!
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.