Moenie dat vertragings by die Meesterskantoor jou gesin in ‘n finansiële verknorsing laat nie
“Someone’s sitting in the shade today because someone planted a tree a long time ago” (Warren Buffett)
Die eerste en belangrikste stap in jou boedelbeplanning is om ‘n Testament (“Laaste Testament en Wilsbeskikking”) in plek te hê wat professioneel voorberei is en wat gereeld hersien word. Daar is egter nog ‘n aspek wat dringend jou aandag nodig het, veral nou…
Waarvan gaan jou gesin lewe terwyl die eksekuteur nog nie aangestel is nie?
Dit is noodsaaklik dat jy voorsien vir jou gesin se voortgesette finansiële behoeftes gedurende die proses van bereddering van jou boedel. Jou bankrekeninge gaan gevries word sodra die bank van jou afsterwe in kennis gestel word. Pensioene en ander maandelikse of periodieke uitbetalings neem lank om oorgedra te word. In praktyk gaan jou bates vir ‘n onbepaalde tyd nie vir jou naasbestaandes toeganklik wees nie.
Die eksekuteur van jou bestorwe boedel is by magte om fondse aan jou afhanklikes beskikbaar te stel, en om voorskotte aan jou erfgename te betaal (mits jou boedel natuurlik solvent is en daar voldoende fondse beskikbaar is) – maar mag dit slegs doen nadat hy of sy formeel aangestel is. Dit bring ons dan by die volgende…
Vertragings by die Meesterskantore raak al hoe erger.
Dit maak nie saak hoe professioneel en doeltreffend jou eksekuteur is nie. Hy of sy is nie by magte om enigiets te doen totdat die plaaslike Meester van die Hooggeregshof (“Meesterskantoor”) die nodige “Eksekuteursbrief” (of “Magtigingsbrief” vir Kleiner boedels) uitgereik het nie. Daarom is die eerste prioriteit vir ‘n genomineerde eksekuteur altyd om vir hierdie Eksekuteursbrief aansoek te doen.
Die proses om die Eksekuteursbrief uitgereik te kry was nog nooit ‘n vinnige een nie, maar vertragings het die afgelope jare aansienlik vererger. Die media berig gereeld oor groot probleme en vertragings by Meesterkantore regoor die land en oor “ongekende agterstande” en ‘n “byna algehele ineenstorting van dienste”.
Die onlangse losprysaanval (“ransomware attack”) op die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling is slegs die jongste in ‘n reeks van ellendes wat hierdie kantore getref het – pandemie-verwante inperkings, hele Meesterkantore wat gesluit is, personeel wat van die huis af werk, personeel-tekorte, ‘n toename in die aantal sterftes, ‘n Spesiale Ondersoekeenheid wat bewerings van wanadministrasie en korrupsie in sommige kantore ondersoek (met twee amptenare wat reeds geskors is en vele ander wat na bewering volgende is) – die lys hou aan en aan.
Genomineerde eksekuteurs is onderworpe aan buitensporige vertragings voordat hulle hul aanstellings ontvang. Hulle sukkel ook geweldig om met die Meesterkantoor te kommunikeer, hetsy deur telefoonoproepe, e-posse, of selfs persoonlike kantoorbesoeke aan die betrokke Meesterkantoor.
Jy kan jou naasbestaandes in die tussentyd befonds
Jou treurende gesin kan dus met finansiële bekommernisse sit, op ‘n tyd wat reeds vir hulle baie moeilik is, indien hulle moet wag vir jou genomineerde eksekuteur om sy of haar aanstelling van die Meesterskantoor te ontvang.
Jy sal ‘n ander manier moet vind om te verseker dat hulle onmiddellik toegang tot fondse gaan hê. Hierdie fondse moet genoeg wees om hul lewenskoste, asook enige nuwe uitgawes, soos begrafniskostes, te kan dek.
Daar in ‘n paar bekende en betroubare maniere om vir hierdie kontantvloei voorsiening te maak. Die eenvoudigste opsies, wat ook die vinnigste toeganklik sal wees, is waarskynlik aparte bankrekeninge en beleggings. Oorweeg ook die moontlikheid dat gesinslede ander bates hou – of in hul eie name, of dalk in familietrusts of besigheidsentiteite wat na jou afsterwe sal bly voortbestaan. Ander gewilde opsies is lewensversekering en begiftigingspolisse, Belastingvrye Spaarrekeninge wat op ‘n lewensproduk gebaseer is, lewende annuïteite, en dies meer. Maak seker dat jy begunstigdes op hierdie produkte benoem, anders vorm dit deel van jou boedel en gaan dit nie direk aan jou naasbestaandes uitbetaal nie. Maak ook seker dat jou naasbestaandes weet watter stappe op daardie stadium nodig gaan wees en hoe hulle toegang tot die fondse op die vinnigste en maklikste wyse kan verkry.
Jou spesifieke situasie en omstandighede gaan natuurlik uniek wees en daarom moet jy dit op die regte manier struktureer. Jy gaan professionele advies op hierdie gebied nodig hê.
Provided by Nelson Borman & Partners
© DotNews. All Rights Reserved.