As ‘n klant in ‘n winkel val, wanneer kan die winkel gedagvaar word vir skadevergoeding?
“… it is by now long established in our law that the owner or other person or entity in control of a shopping mall has a legal duty to take reasonable steps to ensure that its premises are ‘reasonably safe’ for those members of the public who might frequent them … What such steps may be will depend on the circumstances.” (Geneem uit hierdie uitspraak.)
Die Feesseisoen is om die draai. Winkels- en winkelsentrums is reeds vol voorraad gepak. Al hoe meer mense kom winkels toe en mense staan tou om hul inkopies betyds gedoen te kry.
Wat gebeur wanneer jy tydens jou inkopietog val en jouself beseer? Ons hofverslae is gevul met sake waar winkels na “glip” en “gly” insidente vir skadevergoeding gedagvaar word. ‘n Onlangse Hooggeregshofsaak bevestig weereens die algemene reël dat winkels en winkelsentrums regtens verantwoordelik is om te verhoed dat hul besoekers skade ly.
‘n Nat winkelsentrumvloer en ‘n gebreekte elmboog
- ‘n Persoon het ‘n winkelsentrum op ‘n reënerige dag besoek om geld by die OTM te onttrek. Die winkelsentrum se vloer was nat en glibberig van die reënwater wat van ander inkopiegangers se reënjasse, sambrele en skoene gekom het. Die besoeker het die geel “nat vloer” waarskuwingsteken op die geteelde vloer gesien.
- Veertien meter van die winkelsentrum se ingang af het haar voete skielik onder haar uitgegly en het sy geval. Om haar val te keer en om die baba in haar arms te beskerm, het sy haar regterarm uitgestoot en met die val het sy gevolglik haar elmboog gebreek.
- Sy het die eienaars van die winkelsentrum en die sentrum se bestuursmaatskappy gedagvaar. Sy was suksesvol met haar eise vir skadevergoeding. ‘n Volbank van die Hooggeregshof het bevind dat die twee maatskappye “gesamentlik en afsonderlik” aanspreeklik is om haar skadevergoeding te betaal. Die skadevergoedingsbedrag sou in die opvolgende deel van haar hofsaak bepaal word as die skade wat sy sou bewys.
- Die Hof het beslis dat “die eienaar of persoon of entiteit in beheer van ‘n winkelsentrum aanspreeklik sal wees vir skade of gevaar wat voorsienbaar moes wees vir die sogenaamde “redelike persoon” in daardie posisie. Dit plaas die verpligting op die winkeleienaar om redelike stappe te neem om te verhoed dat sodanige skade gely word. Of die stappe wat in ‘n betrokke situasie geneem is as redelik beskou kan word, sal afhang van die tersaaklike feite en omstandighede. Selfs die feit dat voorsienbare skade wel voorgekom het, beteken ook nie noodwendig dat die voorkomende stappe wat geneem is, onredelik was nie. Die hof moet dus uiteindelik steeds ’n waardebepaling doen, na oorweging van die feite en die meriete van die spesifieke geval.” (Eie vertaling.)
- Die hof het beslis dat ‘n duidelike regsplig hier op die eienaar en op die bestuursmaatskappy gerus het om redelike stappe te neem om die besoekers aan die sentrum op daardie dag teen skade te beskerm.
- Die hof het die verweer dat die sentrum se gekontrakteerde skoonmakers die aanspreeklike party was, as volg van die hand gewys.
- “Dit sal ‘n verbysterende stand van sake teweegbring indien onafhanklike skoonmaak-kontrakteurs in winkelsentrums, wat gekontrakteer word om vloere skoon te hou, opgesaal word met die plig om besoekers op die sentrum se perseel veilig te hou; en om teenoor hulle aanspreeklikheid op te doen op die basis dat hulle nie hul kontraktuele skoonmaakpligte nagekom het nie.” (Eie vertaling.)
Wat van die bekende vrywaringskennisgewings “toegang op eie risiko”?
‘n Verdere verweer wat geopper was, was dat prominente vrywaringskennisgewings by al die ingange van die sentrum verskyn het - “Toegang in geheel op eie risiko”. Die sentrumbesoeker het ontken dat sy enige van hierdie kennisgewings gesien het – nie op die betrokke dag of met vorige besoeke aan die sentrum nie. Die Hof bevind dat die sentrumeienaar en bestuurder nie daarin geslaag het om te bewys dat –
- Sodanige kennisgewing op die betrokke dag wel aangebring was nie; en
- Die inkopieganger die bepalings van die kennisgewing gelees en aanvaar het nie, “of ten minste dat hulle ‘redelik voldoende’ stappe geneem het om te verseker dat die kennisgewing in die normale gang van sake onder haar aandag gebring sou word nie”. (Eie vertaling.)
Wat beteken dit vir winkels- en vir eienaars van winkelsentrums?
Neem alle redelike stappe om jou besoekers teen skade te beskerm en verseker dat jy ten alle tye voldoende en prominente vrywaringskennisgewings vertoon. Hou ook hierdie vrywaringskennisgewings op datum. Een van die winkelsentrumeienaar se uitdagings was dat die betrokke vrywaringskennisgewings verouderd was en nog steeds verwys het na die vorige eienaars van die winkelsentrum.
Wat beteken dit vir die besoekers en klante van winkelsentrums?
Soos dit duidelik uit hierdie uitspraak blyk, is daar heelwat uitdagings voordat jy ‘n eis met sukses kan bewys. Boonop is winkels en winkelsentrums vol gevare as jy nie daarop bedag is nie – verspilde vloeistowwe, items wat op die vloer val, en nat en glibberige oppervlaktes kom algemeen voor. Indien jy nie kophou en jou oë oophou nie, is daar altyd ‘n kans dat jy gedeeltelik of selfs in geheel vir jou eie ongeluk aanspreeklik gehou kan word. In so ‘n geval kan jou eis van die hand gewys word, of jy kan slegs ‘n gedeelte van jou skadevergoedingseis ontvang op grond van jou eie “bydraende nalatigheid”.
Na alles, kan ‘n hof ook bevind dat ‘n geldige en bindende vrywaringskennisgewing op ‘n sigbare plek by die ingang van die sentrum ten toon gestel is, en dat jy daaraan gebonde is. Jy het die sentrum in geheel op jou eie risiko besoek. Die eienaars het hulself by wyse van “ooreenkoms” regtens van enige aanspreeklikheid teenoor jou ontdaan.
Geniet jou inkopies en jou besoeke aan die winkelsentrums hierdie Feesseisoen, maar stel altyd jou veiligheid (en jou gesin en jou medesentrumgangers se veiligheid) voorop!
Provided by Nelson Borman & Partners
© DotNews. All Rights Reserved.