Eienaars van eiendom, Kopers en Eiendomsagente – kry daardie Titelakte voor 25 Februarie 2019!
UPDATE: Relax, the 25 February deadline has fallen away! Since publication of this article on 1 February, the Chief Registrar of Deeds has advised that “… the Deeds Registries Regulations Board at a meeting on 19 February 2019, resolved to suspend the implementation of the amendments to regulation 68, as referred to above, until further notice.” The amendments as they affect you will now be re-drafted, and we will let you know more when they are published.
“Time is of the essence” (regsterm wat in “The Phrase Finder” verduidelik word as ‘speed is essential, there's a deadline, this is an emergency, hurry up, do it now’)
Jy verkoop jou huis/woonstel/kantoor/erf/plaas. As die geregistreerde eienaar gee jy jou aktebesorger opdrag om voort te gaan met die oordragsproses, om die volle koopprys, Hereregte en kostes van die koper te vorder en om eienaarskap formeel aan die koper oor te dra. Jy begin ook solank dink aan wat jy met die opbrengs van die transaksie gaan doen.
Jou prokureur kontak jou om die oorspronklike titelakte by jou te kry. Die dokument is natuurlik nodig vir die oordragsproses. As daar ‘n verband oor die eiendom geregistreer is, sal die titelakte by die bank wees as deel van die bank se sekuriteit; anders behoort dit by jou te wees.
Paniek!
Die titelakte is nie by jou nie. Die bank laat weet dit is ook nie by hulle nie. (‘n Verbandhouer sal die titelakte gewoonlik by hulle hou vir sekuriteit, totdat die skuld ten volle betaal is en die verband formeel gekanselleer is.) Jy het die titelakte ook nie voorheen by jou prokureurs in veilige bewaring gelos nie (miskien moes jy). Jy soek oral by die huis en by die kantoor, maar kry dit nie. Iemand by die huis dink vaagweg dat jy dalk vir oom Hendrik gevra het om die titelakte in sy kluis te hou, maar oom Hendrik is al tien jaar terug oorlede. Of was dit dalk by die strandhuis wat twee jaar gelede afgebrand het? Paniek!
Op hierdie stadium is daar darem nog ‘n kort en vinnige manier om die situasie te beredder. Jou oordragprokureur kan by die Aktekantoor aansoek doen vir die uitreiking van ‘n gesertifiseerde vervangende titelakte. As eienaar sal jy onder eed verklaar dat die titelakte verlore is, dat dit na deeglike soeke nie gevind kon word nie en dat dit ook nie deur iemand anders as sekuriteit gehou word nie. Na ‘n week of twee en met minimale bykomende regskostes sal die Akekantoor die vervangende titelakte uitreik en die oordragsproses sal voortgaan.
‘n Jakkals in die hoenderhok!
Die relevante regulasies is onlangs gewysig. Met ingang van 25 Februarie 2019 word die proses as volg gewysig.
- Die regulasies vereis nou dat jou verklaring deur ‘n Notaris Publiek geattesteer moet word. ‘n Notaris is ‘n toegelate prokureur met bykomende eksaminering en spesialisering. ‘n Notaris is verplig om dokumente op formele wyse na te gaan, te bevestig en te sertifiseer en dieselfde met eedsverklarings. Dokumente en verklarings wat notarieel gesertifiseer is, dra meer gewig as ‘n verklaring wat voor ‘n Kommissaris van Ede afgelê is. Dit bring ook vertragings en bykomende kostes mee.
- Jou aansoek vir die uitreiking van ‘n vervangende titelakte moet ook nou eers in die Staatskoerant geadverteer word. Daarna moet so ‘n aansoek vir ‘n tydperk van twee weke by die Aktekantoor vir inspeksie en insae deur die publiek beskikbaar wees. Verdere kostes, verdere vertragings.
Eienaars, kopers, agente: Wat kan ons nou doen?
Tyd is altyd ‘n wesentlike faktor by die oordrag van eiendom. Niemand wil aan verdere kostes en verdere vertragings blootgestel word nie.
Wat kan jy nou dadelik doen?
- Weet jy waar jou titelakte is? Of jy binnekort jou eiendom gaan verkoop of nie, moet jy weet waar jou titelakte is. As jy nog geld op jou huis verskuldig is, is die titelakte waarskynlik by jou bank. As jou titelakte nie by die bank is nie en jy weet nie waar dit is nie, vra jou prokureur om jou te help.
- Indien jy ‘n koper is, stuur hierdie aan die verkoper en die eiendomsagent en vra hulle om te bevestig dat hulle wel die oorspronklike titelakte byderhand het. Indien die titelakte weg is moet hulle dadelik stappe neem om dit te vervang.
- Indien jy ‘n eiendomsagent is, stuur hierdie gerus aan almal met eiendomme op jou boeke (jy bewys hulle ‘n guns om hierdie onder hul aandag te bring).
Nota aan geregistreerde Verbandhouers
Die nuwe regulasies is ook van toepassing op verlore verbandaktes, notariële verbande, geregistreerde langtermynhuurkontrakte en ander verwante regte en belange wat met formele dokumente in die Aktekantoor geregistreer is. Dit is dus ook op julle van toepassing.
Die nuwe vereistes tree op 25 Februarie 2019 in werking. Daar is net ‘n beperkte geleentheid om voor hierdie datum jou vervangende akte op die eenvoudiger manier by die Aktekantoor te verkry.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.