Privaatskole en ouers wat hulle nie gedra nie – die Opsie om te Skors
“…it can hardly be in the best interests of all concerned for this family to remain at the School” (Uit hierdie hofsaak.)
Met die nuwe skooljaar nou reeds in volle swang, kyk ons na ‘n onlangse hofuitspraak wat vir alle skole, ouers, en leerders van belang sal wees.
Let daarop dat die betrokke skool in hierdie saak nie ‘n staatsbeheerde, openbare skool was nie, maar ‘n privaatskool (privaatskole in ons nasionale skolestelsel word as “onafhanklike skole” beskou).
Die Sondes van die Ouers – slegte gedrag, doodsdreigemente, vloekery en skorsing
- Die ouerkontrak tussen ‘n privaatskool en die ouers van twee leerders (8 en 11 jaar oud) het ‘n kansellasieklousle bevat. Die skool het hierop gesteun in ‘n poging om die kontrak te kanselleer na ‘n hartseer verhaal van wangedrag deur die ouers oor ‘n periode van agt maande wat ’n toksiese en ondraaglike atmosfeer by die skool geskep het. Aldus die uitspraak. Die klousule het aan die skool die reg verleen om die kontrak enige tyd en vir enige rede te kanselleer. Die skool moet kennis van een kwartaal gee vir so ‘n besluit.
- In effek is die leerders uit die skool geskors as gevolg van ‘n reeks (beweerde) voorvalle, meestal as gevolg van die pa se gedrag by die skool se sportbyeenkomste. ‘n Voorbeeld van een so ‘n voorval is die pa se gedrag by ‘n Onder-9 krieketwedstryd. Die pa het na bewering beledigend op die skeidregter geskree omdat hy nie met die skeidsregter se BVP beslissing teenoor sy seun saamgestem het nie. Daarna het hy die skeidregter met ‘n krieketkolf in die hand genader en gesê: “Jou vet ... (vloekwoorde uitgelaat), jy het nie respek vir die ouers nie”. Die pa het verder gedreig dat hy die skeidsregter na die wedstryd sal inwag en hom sal doodmaak.
- Die ouers se poging om die skool se kansellasie van die kontrak in die Hooggeregshof ter syde te stel, het misluk. Hulle was ook onsuksesvol in die Hoogste Hof van Appèl. Hierdie hof het hul bewering dat die kansellasieklousle ongrondwetlik en teen openbare belang is, van die hand gewys.
- Die hof het beslis dat die skool met die kansellasie van die kontrak deeglik bewus was van sy grondwetlike verpligtinge, nie net teenoor die appellante se kinders nie, maar ook teenoor al die ander belanghebbende partye. Die skool se rede vir die kansellasie van die kontrak was onberispelik in die lig van die verregaande gedrag van die betrokke ouerpaar. Dit kan sekerlik nie in die beste belang van al die belanghebbende partye wees om toe te laat dat hierdie gesin deel van die skool bly nie.
- Die hof het aanvaar dat die skool wel die beginsel “dat die kinders se beste belange die belangrikste oorweging moet wees met al die skool se besluite” deeglik toegepas het met die kansellasie van die kontrak. Ons howe prioritiseer altyd die kinders as groep of ‘n kind se beste belange in enige saak voor hulle. Skole moet seker maak dat hul ouerkontrakte, beleide en optrede ten volle aan daardie beginsel voldoen.
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.