Eiendomsverkope: Jy Wil Nie ‘n Ongeregistreerde Kredietverskaffer Wees Nie!
Die verkoper, die koper en die lenings
- Die koper het ‘n eiendom vir R700,000 gekoop, die volle koopprys betaal en ingetrek.
- Hierna het dit egter aan die lig gekom dat ‘n bedrag nog aan die verbandhouer verskuldig was, as gevolg van ‘n onwettige oordrag van die eiendom aan ‘n derde party. Die koper was toe nie in staat om oordrag te neem van die eiendom nie.
- Die koper het toe drie bedrae geld, ten bedrae van R882,397, aan die verkoper geleen, ten einde hom in staat te stel om oordrag te gee. Die verkoper het ‘n skriftelike erkenning van die skuld geteken en ‘n bedrag van R250,000 is wel terugbetaal.
- Toe geen verdere terugbetalings gemaak is nie, het die koper die verkoper gedagvaar vir die terugbetaling van die balans wat nog verskuldig was.
Die Hof beslis dat die koper se dagvaarding gebrekkig was, omdat dit nie beweer het dat die koper ‘n geregistreerde kredietverskaffer in terme van die Nasionale Kredietwet (NKW) was nie. Volgens die Hof was dit ‘n fatale gebrek -
- Jy word deur die NKW vereis om formeel as ‘n kredietverskaffer te registreer waar -
a. Jy meer as 100 lenings maak wat nie toevallige kredietooreenkomste is nie, of
b. Die totale leningsbedrag meer as die vasgestelde drempel van R500,000 is.
- Aangesien die koper aan die verkoper ‘n bedrag geleen het wat meer as die vasgestelde drempel was, moes die koper as ‘n kredietverskaffer geregistreer het.
- Dit maak ook nie saak dat dit ‘n eenmalige lening was nie of dat die lener nie gereeld krediet verskaf het nie. As die totale leningsbedrag R500,000 oorskry, word registrasie vereis. Die NKW se registrasievereiste is dus nie net van toepassing op diegene wat ‘n besigheid van kredietverskaffing bedryf nie; dit is ook op jou en my in ons daaglikse lewens van toepassing.
Die gevaar vir alle leners, nie net in eiendomstransaksie nie
Wanneer jy geld uitleen (of dit nou deel is van ‘n eiendomstransaksie of nie) en jy nie as ‘n kredietverskaffer registreer wanneer dit van jou vereis word nie, is sodanige leningsooreenkoms onwettig en nietig. Jy kan dan jou geld slegs probeer inwin deur te dagvaar vir ongeregverdigde verryking; nie meer op die lening self nie. Hierdie aksie vir verryking het sy eiesoortige vereistes wat aangevoer en bewys moet word en verwere wat die skuldenaar daarteen kan opper.
Moet eerder nie in hierdie slaggat trap nie. Verkry onmiddellik regsadvies indien jou eiendomstransaksie op so ‘n manier opgestel is dat jy dalk as ‘n kredietverskaffer moet registreer. Ons sal natuurlik aanbeveel dat jy sodanige advies aanvra en verkry voordat jy enige geld uitleen.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.