Pasop Vir Verjaring: Selfs ‘n Waterdigte Saak Moet Die Knie Buig Voor Verjaring
Wanneer dit by regsake kom, moet enige getalm en gesloer gevaarklokkies by jou laat lui.
‘n Werknemer se pensioenfonds is onwettig gestroop
- Die poskantoor het ‘n stelselbeleid ingestel om bedrog te voorkom. ‘n Takbestuurder by die poskantoor het egter versuim om aan hierdie beleid te voldoen. ‘n Kredietkaart wat deur die pos versend is, is gevolglik aan die verkeerde persoon oorhandig, wat dadelik bedrieglik en kwistig daarvan gebruik gemaak het. Die poskantoor was verplig om die bank in geheel terug te betaal en het gevolglik ‘n verlies gely.
- ‘n Dissiplinêre verhoor het gevolg en die takbestuurder is skuldig bevind aan wangedrag en ontslaan. (‘n Aansoek in die Arbeidshof om hierdie afdanking ter syde te stel is nog hangende). Die werkgewer (die poskantoor) het probeer om hul verliese te verhaal deur ‘n aftrekking van R159 000,00 vanuit die werknemer se pensioenfonds te maak.
- Die hof bevestig dat dit alombekend is dat werkgewers in sekere omskrewe omstandighede aftrekkings vanuit ‘n werknemer se pensioenfonds mag maak. In hierdie spesifieke geval was sodanige verhaling egter nie gemagtig nie en was die terughouding van fondse gevolglik onregmatig.
- Ten spyte hiervan, was die hof verplig om die betrokke werknemer se eis van die hand te wys. Dit laat hom met net R55 000,00 in sy pensioenfonds. Hy is ook aanspreeklik om sy eie regskostes te betaal. Die ongelukkige werknemer se kardinale fout lê daarin dat hy eers ná die verstryking van die drie jaar verjaringstydperk, sy dagvaarding hierin uitgereik het.
‘n Resep vir ‘n volslae mislukking
Die algemene reël in ons reg is dat enige siviele skuld onafdwingbaar word of verjaar, nadat drie jaar verloop het vanaf die dag waarop dit verskuldig geraak het. Daar is slegs enkele uitsonderings.
Die verjaringsperiode van drie jaar begin eers loop wanneer jy feitelik bewus geword het van die volgende: –
- Die skuld;
- Die identiteit van die skuldenaar; en
- Die feite rondom die skuldoorsaak.
Die hof wys verder daarop dat jy nie noodwendig die regsgevolge hoef te verstaan voordat die verjaringstydperk begin loop nie. Hier het die werknemer beweer dat hy nie die regsgevolge van sy versuim om ‘n eis binne drie jaar in te stel, verstaan het nie. Die hof kon hom steeds nie van hulp wees nie.
Dit bly jou verantwoordelikheid om te weet van enige moontlike siviele eise wat jy het en om sonder versuim regsadvies te verkry. Die moontlike verjaring van enige eis, moet onverwyld met die aanvang van regstappe gestuit word.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.