Belastingboetes – Wat Moet Sars Bewys?
In ‘n onlangse saak wat voor die Belastinghof gedien het, het ‘n belastingoudit bevind dat ‘n korporatiewe belastingbetaler oordrewe inset BTW verhaal het. ‘n Gedeeltelike toegewing is gemaak na die belastingbetaler se beswaar; die groter prentjie was egter baie donkerder vir die belastingbetaler. SARS het die besigheid se belastingsake geoudit; die besigheid se belasting is herbereken en ‘n nuwe belastingaanslag het gevolg, vir: -
- Ongeveer R16 miljoen in belasting, plus
- 200% bykomende belasting – R32 miljoen, plus
- 10% boetes – R1.6 miljoen, plus
- Rente op ‘n laat betaling – R5 miljoen.
Die belastingbetaler het SARS gevra om toegeeflik te wees en afstand te doen van die bykomende belasting, boetes en rente. Die belastingbetaler voer aan dat hulle al hulle belastingsake aan hul ouditeur toevertrou het. Die belastingbetaler het sy ouditeur vertrou, aangesien die belastingbetaler self geen belasting- of rekeningkundige ondervinding gehad het nie. Volgens die belastingbetaler was dit ook nooit hul bedoeling om belasting te ontduik of om SARS te bedrieg nie.
Die belastingbetaler se pleidooi aan SARS het op dowe ore geval, waarna die belastingbetaler die Belastinghof om regshulp genader het.
Hierdie hof bevind dat SARS tereg tot die gevolgtrekking gekom het dat die belastingbetaler bedrieglik gehandel het. Die Hof bevind dat omdat die belastingbetaler nie dokumentasie ter stawing van sy geëiste BTW insette wou lewer nie, hul duidelik die bedoeling gehad het om ‘n onbehoorlike BTW terugbetaling te ontvang. Dit met die doel om die staatskas te bedrieg.
Die onus is op SARS
Ten spyte hiervan het die hof die heffing van die bykomende belasting van 200% ter syde gestel. Die Hof bevind dat SARS nie daarin geslaag het om enige bewyse te lewer van waarom en hoe SARS besluit het om die ekstra belasting te hef nie. SARS het ook nie daarin geslaag om te bewys dat die heffing van die bykomende belasting geregverdig was nie.
Verkry vooraf professionele regsadvies – dit kan jou later tot hulp kom
In ‘n soortgelyke saak wat voor die Belastinghof gedien het, is boetes van R47 miljoen gehef as gevolg van die indiening van verlaagde opgawes. Hier het die hof die boetes aansienlik verminder en ook die rente wat gehef is ten volle opgehef. Die hof wys daarop dat die betrokke belastingbetaler sy belastingposisie ingeneem het, na die verkryging van professionele belastingadvies. Die belastingbetaler het dus redelike sorg aan die dag gelê deur professionele belastingadviseurs te raadpleeg.
Dit blyk hieruit dat dit nodig is om professionele belastingadvies in te win, voordat jy oor enige groot belastingvraag standpunt inneem. Dit kan ook help indien daar oormatige heffings of boetes opgelê word en jy dit wil aanveg.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.