Bedrog: 15 Jaar Tronkstraf
Die onlangse J Arthur Brown beslissing van die Hoogste Hof van Appèl (HHA) het baie aandag van die media ontvang. Dit het waarskynlik ook aan die ongelukkige slagoffers van ekonomiese misdrywe, boereverneukers, slenters en bedrog weer moed gegee.
Die Hoë Hof in die Wes-Kaap het Meneer Brown aanvanklik slegs met relatief ligte boetes en opgeskorte vonnisse gestraf. Dit nadat hy op ‘n laat stadium, deur die loop van die verhoor van baie maande, sy aanvanklike pleit van onskuldig verander het om op twee klagtes skuldig te pleit. Die bedrae ter sprake was letterlik veelvuldige miljoene rande.
Swaarder vonnisoplegging
Die Staat het die ligte vonnisse op appèl geneem. Die Appèlhof het saamgestem en die vonnisse tot ‘n effektiewe totaal van 15 jaar direkte gevangenisstraf verander. In die proses is die volgende belangrike beginsels in ons strafreg uitgewys:-
- Die mag om vonnisse op appèl te verhoog of te vermeerder: Wanneer die hof van eerste instansie ‘n wesenlike fout maak of waar die vonnis as skokkend, ontstellend of onthutsend onvanpas beskryf kan word, mag die staat teen sodanige vonnis appèlleer.
- Minimum vonnisse: Howe mag slegs van die voorgeskrewe minimum vonnisse afwyk indien daar wesenlike en dwingende omstandighede is om dit te regverdig.
- Gevangenisstraf vir bedrog: In gevalle van bedrog waar meer as R500,000 betrokke is, word ‘n minimum vonnis van 15 jaar tronkstraf voorgeskryf, selfs waar daar slegs ‘n potensiële eerder as werklike verlies of skade aan die slagoffers bewys word.
- Gelykheid voor die gereg: Ons howe moet daarteen waak om nie die indruk te skep dat daar twee tipes geregtigheid bestaan nie; een vir die rykes en een vir die armes.
- Strafregtelike bedoeling: Die feit dat ‘n oortreder se bedoeling op die vlak van dolus eventualis*, eerder as ‘n direkte voorneme was, is nie op sigself ‘n regverdiging vir enige afwyking van die minimum voorgeskrewe vonnis nie. Dit is wel ‘n faktor wat in ag geneem moet word. (*LawDotNews lesers word herinner aan ons artikel van Mei 2014 getiteld “Die Pistorius-verhoor: Wat moet die staat bewys en wat is “Dolus”?” Dolus is ‘n vorm van opset waar ‘n persoon, die gevolglike skade voorsien en ten spyte daarvan steeds voortgaan met sy/haar kriminele aksie.)
- Meld misdaad aan! Ons howe het weereens gewys dat misdadigers, selfs witboordjiemisdadigers, nie met ligte vonnisse gaan wegkom nie.
- As jy van mening is dat die vonnis wat opgelê is, skokkend onvanpas en toegeeflik is, kan jy druk vir ‘n appèl vir ‘n swaarder vonnis.
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.