‘n Gebrek Aan Geld Hoef Jou Nie Altyd Te Keer Om Te Litigeer Nie
Suksesfooi en die Grondwetlike Hof
- Dit is toelaatbaar om ‘n suksesfooi te beding. In die geval van suksesvolle litigasie, kan die suksesfooi tot twee maal die normale fooi wees. Die wet beperk dit wel tot ‘n maksimum van 25% van die monetêre bedrag wat toegeken of verhaal word. Indien ‘n suksesvolle uitkoms van R1 000 000 beding word en die normale fooi teen die gebruiklike tariewe op R100 000 sou staan, sal die maksimum suksesfooi dan R200 000 wees. Indien die fooi teen die gewone tariewe R150 000 sou wees, kan die verdubbeling van ‘n suksesfooi na R300 000 nie gebeur nie. Die wetlike perk vir ‘n suksesfooi is 25%, so die suksesfooi sal in hierdie geval nie R250 000 oorskry nie (25% van die toekenning van R1 000 000). Met ‘n suksesfooi ooreenkoms (“no win no pay”) is die wetlike beperking 25%. Die partye kan dus nie ‘n afwyking hiervan beding soos wat in die verlede moontlik was nie. Die Grondwetlike Hof het nou onomwonde beslis dat die 25% fooi die maksimum toelaatbare suksesfooi daarstel.Ons vind dat regsverteenwoordigers dikwels in die geval van persoonlike beserings, eise voortspruitend uit motorongelukke en mediese nalatigheid op hierdie basis aangestel word. Dit kan egter in die meeste gevalle waar regseise opgestel en deurgevoer moet word, gebruik word. Die enigste uitdruklike uitsluitings is in die geval van strafregtelike aangeleenthede en in familiereg aangeleenthede.
- Die prokureurs of advokate wat die opdrag aanvaar moet eerstens van mening wees dat jy ‘n redelike vooruitsig op sukses het. Dit is ‘n spesifieke vereiste van die Wet op Gebeurlikheidsgelde. Tweedens, gaan geen verantwoordelike regsverteenwoordiger ure aan ‘n hofsaak werk, indien daar geen redelike vooruitsig is dat sy kliënt suksesvol sal wees en dat die regspraktyk vergoed gaan word vir sy of haar insette nie.
- Die aanstelling van die regsverteenwoordigers moet op skrif wees. Daar is voorgeskrewe bepalings oor wat alles in die suksesfooi ooreenkoms uiteengesit moet word. Die partye moet spesifiek handel met die verlangde uitkomste. Die belangrikste is seker dat hulle onderling moet ooreenkom oor wat die definisie van sukses en gedeeltelike sukses in die betrokke saak sal wees. Hulle moet ook vooraf ooreenkom oor hoe direkte uitgawes hanteer gaan word; soos die verkryging van deskundige getuies en die betaling vir mediese ondersoeke en vir regsmediese verslae.
Hou ook die volgende in gedagte
Indien beide kante van mening is dat hulle ‘n redelike kans op sukses het, het beide ‘n 50% kans dat hulle gaan wen. Die ander kant van die munt is natuurlik dat beide partye ‘n 50% kans staan dat hulle gaan verloor.
Jy moet dus ook verstaan waarvoor jy aanspreeklik gaan wees indien die saak nie in jou guns beslis word nie. Afgesien van die professionele fooie van die prokureurs en advokate wat aan jou saak werk, is daar met enige hofsaak direkte uitgawes. As kliënt wil jy duidelik verstaan wat dit behels en of jy daarvoor aanspreeklik gaan wees. Hou ook in gedagte dat die party wat die saak verloor, gewoonlik ingevolge die uitspraak aanspreeklik gehou sal word vir die teenparty se regskostes.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.