Werkgewers: Is Jou Beleid Afdwingbaar?
Die supermark, die toesighouer en die deodorant wat nie verklaar is nie
- ‘n Supermark wat deel is van ‘n kettingwinkelgroep het ‘n beleid van “geen verdraagsaamheid” (“zero tolerance policy”) ingestel. Hulle doel was om winkeldiefstal aan die kant van die werknemers hok te slaan. Dit het behels dat enige werknemer, wanneer hy of sy die winkel betree het, alle goedere en items op hul persoon moes verklaar, met die uitsondering van items wat duidelik nie die winkel sin was nie.
- Dit was die winkel se beleid om finale waarskuwings aan werknemers uit te reik wat hierdie beleid oortree het. Dus, enige werknemer wat versuim het om goedere te verklaar, maar wat wel oor ‘n bewys van betaling vir daardie items beskik het, het ‘n finale waarskuwing ontvang. Enige werknemer wat nie sodanige betalingsbewys kon lewer nie, is afgedank.
- ‘n Sekuriteitswag het ‘n onverklaarde deodorant van R11-99 in ‘n toesighouer se handsak ontdek toe sy die winkel verlaat het.
- Tydens die dissiplinêre verhoor het die toesighouer erken dat die deodorant aan haar behoort het, maar dat sy vergeet het om dit te verklaar toe sy die perseel betree het. Sy kon nie bewys van betaling voorlê nie. Volgens haar het sy verwag om ‘n waarskuwing te kry vir ‘n eerste oortreding.
- Sy is na ‘n dissiplinêre ondersoek deur die supermark ontslaan. Sy het haar ontslag na die KVBA verwys waar sy sonder sukses aangevoer dat ontslag nie die geskikte straf was nie. Hierna het sy dit na die Arbeidshof verwys, wat haar ontslag wel tersyde gestel het.
- Die supermarkgroep het hierdie bevinding na die Arbeidsappèlhof verwys. Hierdie Hof bevind dat die werknemer nie juis ‘n goeie en betroubare getuie was nie. Tog bevind die Hof dat die ontslag wel onbillik was. Die Hof sê dan dat ‘n enkele oortreding, tensy die waarde van die items baie hoog was, nie tot ‘n billike ontslag kan lei nie. Die Hof bevind dat ‘n finale skriftelike waarskuwing ‘n meer gepaste sanksie sou wees.
Ter afsluiting
Die toepassing van ‘n beleid van geen verdraagsaamheid sal onder sekere omstandighede aanvaarbaar wees. Die ontslag van werknemers is altyd ‘n ingrypende sanksie en dit moet vir die spesifieke omstandighede geskik wees.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.