Direkteure – Wanneer is ‘n direkteur persoonlik aanspreeklik?
“… for the benefit of immunity from liability for its debts, those running the corporation may not use its formal identity to incur obligations recklessly, grossly negligently or fraudulently. If they do, they risk being made personally liable.” (Geneem uit die uitspraak wat hierin bespreek word.)
Dit is veral in moeilike ekonomiese tye dat eisers vind dat hulle nie skulde van 'n maatskappy wat in finansiële nood verkeer, kan verhaal nie. Die skuldeiser weet dikwels dat die direkteure van die betrokke maatskappy wel waardevolle bates in hul eie name besit. Kan jy jou tot hierdie persoonlike bates wend?
Die antwoord lê in die eeue-oue konsep van maatskappye as afsonderlike regsentiteite of "regspersone". ‘n Maatskappy handel in sy eie naam en het sy eie bates en laste. Die beginpunt is dus dat direkteure nie persoonlik aanspreeklik sal wees vir enige skuld van die maatskappy nie. Daar is wel ‘n paar uitsonderings, soos waar –
- Die direkteure in hul persoonlike hoedanigheid ook bykomende borgskap vir die skulde van die maatskappy geteken het, of;
- Die direkteure binne die vangnet van daardie wetsbepalings opgevang word, wat 'n hof die reg gee om direkteure in hul persoonlike hoedanighede, aanspreeklik te verklaar vir die betaling van maatskappyskulde.
As daar nie persoonlike borgskappe is nie, wanneer sal jy in praktyk 'n maatskappyskuld van sy direkteure kan verhaal? Van die ander kant gesien, wanneer loop jy as direkteur die risiko om persoonlik gedagvaar te word vir die skulde van die maatskappy?
Ons kyk na die feite en die uitspraak in 'n onlangse hooggeregshofsaak vir leiding -
Die bedrieglike motorveiling, die maatskappy wat verdwyn het en die direkteur se verweer.
- ‘n Koper het 'n motor op 'n veiling gekoop. Die motor is as 'n 2012-model aan haar voorgehou en dit is ook so aan haar verkoop. Sy het kort daarna ontdek dat die motor in werklikheid 'n 2010-model was.
- Sy het die verkoping gekanselleer en sy het die motor aan die veilingsmaatskappy wat dit aan haar verkoop het, teruggegee. Haar eis vir terugbetaling van die koopprys is nie aan gehoor gegee nie, waarna sy suksesvol was om ‘n verstekvonnis in haar guns teen die maatskappy te verkry.
- Die verkryging van ‘n hofvonnis is natuurlik ‘n goeie begin. Die werklike verhaling en ontvangs van die betaling van ‘n vonnisbedrag is die meer belangrike deel. Met haar vonnis teen die maatskappy het sy haar vasgeloop teen die frustrasie om betaling teen die maatskappy te probeer afdwing. Die maatskappy het intussen van adres verander. Die direkteur het aangedui dat hy as direkteur bedank het en dat hy die maatskappy verkoop het. Die maatskappy sou ook nie meer sake gedoen het nie en deregistrasie was volgens die voormalige direkteur die maatskappy se voorland.
- Hierna het die koper die direkteur in sy persoonlike naam gedagvaar. In die proses het sy die hof versoek om “die korporatiewe sluier te lig”. Die direkteur se verweer was dat hy nie die maatskappy “as ’n front” gebruik het nie.
Kan die hof die korporatiewe sluier lig?
Die hof kan die korporatiewe sluier lig en die direkteure van ‘n maatskappy persoonlik aanspreeklik hou vir ’n maatskappy se skuld, deur te verklaar dat die maatskappy ten opsigte van sekere skulde, nie as ‘n regspersoon beskou moet word nie.
Op watter gronde sal 'n hof so 'n verklaring maak? Die hooggeregshof hanteer ‘n paar gevalle in hierdie saak.
- Waar daar bedrog ter sprake is en die gebruik van 'n maatskappy of die hantering van die sake van 'n maatskappy onbehoorlik is; of
- Waar die inkorporasie, gebruik of handeling wat deur of namens die maatskappy verrig word [die Hof se onderstreping] ’n onaanvaarbare misbruik van die regspersoonlikheid van die maatskappy as ’n afsonderlike entiteit is.
Die direkteur se wanvoorstelling en sy ooglopende verontagsaming van die maatskappy se belange.
- Hier het die hof bevind dat die direkteur die besonderhede van die motorvoertuig aan die koper verdraai het. Hierdie wanvoorstelling was wesenlik en dit het haar beweeg om die voertuig te koop. Die hof vind dat hierdie opsetlike optrede van die direkteur bedrieglik was, alternatiewelik oneerlik was, of op die minste was dit onbehoorlike gedrag teenoor haar.
- As direkteur en eienaar, het hy beslis nie ag geslaan op die beste belange van die maatskappy nie. Sy optrede was in stryd met die belange van die maatskappy en kan as roekeloos en oneerlik beskryf word. Sy optrede het ‘n negatiewe effek op die maatskappy as 'n afsonderlike regsentiteit gehad. Dit op 'n tydstip toe die maatskappy reeds in ‘n uiters swak finansiële situasie was. ‘n Direkteur is geregtig om enige tyd te bedank, maar hy kan nie sy bedanking gebruik as 'n manier om sy vertrouenspligte as 'n maatskappydirekteur te ontduik nie.
- Die hof bevind dat die optrede van die direkteur die koper nadelig geraak het en dat dit neerkom op 'n gewetenlose misbruik van die maatskappy se afsonderlike regspersoonlikheid. Die hof bevind daarom dat die direkteur wel in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word. Die hof maak dan ‘n bevel dat hy persoonlik die koopprys, die rente en die regskostes aan die koper moet terugbetaal.
Provided by Dekker Prokureurs/Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.