Twaalf vrae wat jy moet vra voordat jy daardie koopkontrak onderteken
“Kennis is mag.” So lui die ou spreekwoord.
Waneer jy eiendom koop of verkoop, is dit te laat om vrae te vra nadat jy reeds die Koopkontrak onderteken het (dikwels ook bekend as “die Koopooreenkoms” of "die Verkoopooreenkoms" of "die Aanbod om te koop").
Kennis is mag, veral wanneer dit kom by enige proses met beduidende regsgevolge. Hier is 'n paar van die belangrike vrae wat jy moet vra, voordat jy jou tot enigiets verbind -
- Wat beteken die bepalings en voorwaardes in die koopkontrak op ‘n praktiese vlak?
- Word my regte voldoende deur die bepalings en voorwaardes in die kontrak beskerm en word my risiko's tot die minimum beperk?
- Watter kostes sal ek moet betaal, en wanneer moet ek dit betaal?
- Is daar enige voorwaardes in die Titelakte of plaaslike munisipale verordeninge en/of soneringsbeperkings wat my (as die koper en toekomstige eienaar) kan beïnvloed?
- Het ek (as die koper en toekomstige eienaar) afskrifte van al die planne? Is alle aanbouings en veranderinge aan die struktuur deur die plaaslike owerheid goedgekeur?
- Watter gebreke het die verkoper in die Verpligte Openbaarmakingsvorm geopenbaar? Is 'n huisinspeksieverslag die moeite werd? Maak die koopkontrak voorsiening vir die koper om so ‘n inspeksieverslag op eie koste aan te vra? Wat is die regsposisie rondom voetstoots-klousules en patente en latente gebreke? Is die Wet op Verbruikersbeskerming op die eiendomstransaksie van toepassing?
- Het ek as die koper die praktiese aspekte van die woning nagegaan? Is daar goeie internettoegang en is daar betroubare vesel beskikbaar? Hoe lyk die misdaadvlakke en sekuriteit in die omgewing? Is dit maklik om by die skole uit te kom? Is die woning geskik om van die huis af te werk? Is daar ‘n gedeelte van die woning wat uitverhuur kan word of kan die hele woning uitverhuur word as dit my plan is? Is daar enige toebehore wat saam met die verkoper gaan en wat ek as koper moet vervang?
- Is daar huurders (of ander bewoners) in die eiendom? Indien wel, wat is hul status en wat sê ons koopkontrak oor wanneer hulle die eiendom moet ontruim?
- Wanneer neem die koper besit en okkupasie? (Ons moet ook onderskei tussen besit en okkupasie, twee verskillende regsbegrippe.)
- Watter reëlings is getref oor die datum van oordrag en oor die betaling van okkupasierente, eiendomsbelastings, heffings, munisipale diensteheffings en so aan?
- In 'n gemeenskapskema: As koper wil jy weet aan watter Reëls en Regulasies sal jy in die skema gebonde wees; is daar enige gevaar dat 'n spesiale heffing binnekort gehef gaan word; wys die finansiële state van die Huiseienaarsvereniging of die Regspersoon dat dit goed bestuur word en dat die finansies gesond is?
- Het ek as die verkoper die transportbesorger (oordragprokureurs) van my keuse aangestel?
‘n Laaste, belangrike punt – of jy die eiendom koop of verkoop, baie van jou geld en jou toekomstige welvaart is hier op die spel. Kry professionele advies voordat jy jouself tot enigiets verbind!
Provided by Dekker Prokureurs/Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.