Die risiko met familielenings: 'n Les van R540 000
“How sharper than a serpent's tooth it is to have a thankless child!” (Shakespeare)
“In tye van nood, staan famile mekaar by” - dit is nog altyd deel van die menslike kultuur dat familielede mekaar ondersteun en bystaan. Ons beveel aan dat wanneer jy geld uitleen, jy steeds die wetlike formaliteite moet nakom, al is dit tussen familielede. 'n Onlangse beslissing van die hooggeregshof wys hoe dinge skeef kan loop, as dit nie gedoen word nie.
Ouers verloor die bedrag van R540 000
- ’n Vrou was besig met ‘n egskeidingsgeding. Die huwelikspartye het ooreengekom dat sy haar gade se 50%-aandeel in hul huis kon uitkoop. Sy het geld nodig gehad en sy het die bedrag van R540 000 by haar ouers geleen sodat sy haar gade se 50% van hul woning kon uitkoop en betaal.
- Volgens die ouers moes sy die leningsbedrag in tyd weer aan hulle terugbetaal. Dit het nie gebeur nie en die ouers het uiteindelik hul dogter vir die betaling van die lening gedagvaar.
- Die dogter het erken dat sy haar ouers gevra het om die geld aan haar te "leen".
Die hof bevind egter dat die ouers nie verder daarin kon slaag om op ‘n oorwig van waarskynlikhede die werklike bepalings van die leningsooreenkoms en ook die toepaslike bepalings in geval van verbreking van die leningsooreenkoms kon aantoon nie. Die onus rus op hulle. Die ouers kon nie “die wesenlike bepalings en voorwaardes waarop ooreengekom is, insluitend die bedrag van die lening en die datum van terugbetaling” bewys nie. Die hof bevind dat die ouers ook nie daarin geslaag het om die animus contrahendi te bewys nie, dit is die ernstige bedoeling tussen die partye om met mekaar te kontrakteer nie.
-
Die ouers se eis van R540 000 vir die terugbetaling van die leningsbedrag is met koste van die hand gewys.
Vyf redes waarom 'n skriftelike kontrak nodig is, al is die bande tussen die familie en die gesinslede hoe sterk.
’n Mens kan net wonder hoeveel families en gesinne na so ‘n ondervinding gewens het dat hulle eerder maar net hul ooreenkomste duidelik op skrif gestel het.
Dit is nie net 'n kwessie van vertroue nie. Oorweeg die volgende scenario's -
- Sonder 'n skriftelike kontrak, sal jy nie weet of almal in ooreenstemming is dat dit wel ‘n lening is nie. Daar is ook nie duidelikheid oor wanneer, hoeveel en hoe vinnig die lening terugbetaal moet word nie. Die partye kan in alle onskuld twee totaal verskillende weergawes hê van wat hulle dink hulle met mekaar ooreengekom het. Dit is net regverdig teenoor die familielede om alles op skrif te stel; dan is daar geen ruimte vir onsekerheid nie.
- Selfs die mees gehegte families en gesinne gaan deur moeilike tye. Dit is dalk onwaarskynlik, maar dit gebeur. Ons hofverslae bevat heelwat sake wat oor onvoorsiene en bitter familiedispute handel.
- Dit is ‘n aaklige gedagte, maar ons moet daarvoor voorsiening maak. Wat moet gebeur as een van die partye sterf voordat die skuld terugbetaal is? Nou het jy nie meer met 'n ouer, 'n grootouer of 'n kind te doen nie, maar met die eksekuteur van hul boedel. Die eksekuteur sal die leningsooreenkoms benodig om uitvoering te kan gee aan die leningsvoorwaardes en om uiteindelik die boedel te kan afhandel.
- As 'n egskeiding ter sprake kom, is 'n lening tussen die gesin of die familie ‘n bate (of ‘n las) soos enige ander in die partye se onderskeie boedels. Die partye moet dan oortuigende bewys daarvan kan voorlê.
- Dieselfde belangrike oorwegings is van toepassing met 'n derde party, soos die belastinggaarder of 'n skuldeiser.
Ter opsomming: Stel 'n duidelike, skriftelike kontrak tussen die partye op. Die partye se volle besonderhede, die bedrag van die lening, die ooreengekome datum (of datums) en die bepalings oor hoe en wanneer die lening terugbetaal gaan word, moet duidelik daarin uiteengesit wees. As dit ‘n aansienlike bedrag geld is wat uitgeleen word, moet julle eerder professionele advies verkry om al die nodige punte aan te spreek en duidelik te boekstaaf.
Hou ook die bepalings van die Nasionale Kredietwet in gedagte.
Dit lyk dalk vreemd in die konteks van 'n familie of ‘n gesin, maar die leningsooreenkoms sal onafdwingbaar wees as jy nie ingevolge die Nasionale Kredietwet (NCA) as 'n “kredietverskaffer” geregistreer het nie. In sommige gevalle is dit nie nodig nie, aangesien dit nie van toepassing is in gevalle waar familielede van mekaar afhanklik is nie. As 'n algemene reël moet "armlengte" leningsooreenkomste wel voldoen aan die bepalings van die Nasionale Kredietwet. Hier is grys areas ter sprake, so kry eerder toegepaste advies vir julle spesifieke geval.
Provided by Dekker Prokureurs/Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.