Dagga – Hoe wettig is dit nou?
Ons sien reeds teenstrydige uiteensettings oor die gevolge van die onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof oor die persoonlike gebruik van dagga en wat dit in die praktyk beteken.
Of jy met die uitspraak saamstem of nie, of jy al persoonlik met kannabis / marijuana / weed / dagga kennis gemaak het of van voorneme is om dit binnekort te doen of nie, behoort ons almal bewus te wees van die gevolge van die uitspraak.
Hier is 'n paar punte om by stil te staan:-
- Wees eerder versigtig: Die Parlement het twee jaar om die betrokke wette te verander om hul grondwetlike gebreke aan te spreek. Totdat dit gebeur, gaan hier nog baie grys gebiede wees. Dan is dit altyd beter om versigtig te wees. Jy wil nie die een wees wat ‘n toetssaak moet deurloop en finansier nie, veral as jou werk of jou skoon rekord in die gedrang kom nie.
- Dit bly ‘n beperkte uitspraak: Die hof het definitief nie die gebruik van "dagga" voor die voet gewettig nie. Die hof het wel bepaal dat dit nie meer ‘n misdryf vir ’n volwasse persoon sal wees –
- Om dagga in sy of haar private ruimte en vir persoonlike gebruik te besit of te gebruik nie; en
- Om dagga in ‘n private ruimte en vir sy of haar persoonlike gebruik te kweek nie.
- Om dagga in sy of haar private ruimte en vir persoonlike gebruik te besit of te gebruik nie; en
Dit beteken dat as jy dagga wil koop of aan iemand anders wil verskaf, selfs in ‘n privaat omgewing, jy steeds op risiko is om vervolg te word en gestraf te word. Dieselfde geld vir enige besit of gebruik deur ‘n minderjarige persoon (jonger as 18 jaar).
- Die risiko van inhegtenisneming: Die hof stel die volgende geval voor. 'n Polisiebeampte tref dagga by ‘n persoon aan en vermoed dat dit nie vir persoonlike gebruik bedoel is nie. Die beampte sal die persoon kan ondervra om hom of haar tevrede te stel dat die dagga wel vir persoonlike gebruik is. As die polisiebeampte die verduideliking aangehoor het en die verduideliking nie bevredigend vind nie, sal die beampte die persoon in hegtenis kan neem. Daarna sal dit die hof se taak wees om te beslis of die persoon die dagga vir persoonlike gebruik besit of nie. Dieselfde oorwegings sal van toepassing wees rondom die verbouing van dagga.
Daar is nog geen duidelikheid oor wat as 'n private plek of private ruimte beskou sal word nie. Die hof meld wel in die verbygaan dat daar ander plekke as 'n persoon se huis of ‘n private woning sal wees, waar die reg op privaatheid steeds van toepassing sal wees.
Hier is dus steeds ooglopende risiko’s. Jy kan steeds onder arres geplaas word indien die polisiebeampte van mening is dat die hoeveelheid dagga wat jy in jou besit het (of verbou), meer is as wat jy redelikerwys persoonlik kan gebruik. Dieselfde kan gebeur in ‘n plek wat jy as ‘n private ruimte beskou, terwyl die beampte van mening is dat dit nie ‘n private ruimte is nie.
- Bestuur onder die invloed: Ons wet bepaal dat niemand op 'n openbare pad mag bestuur nie ... of 'n voertuig bestuur of die bestuurdersitplek van 'n motorvoertuig mag beset waarvan die enjin aan die gang is ... terwyl die bestuurder onder die invloed van bedwelmende drank of 'n dwelm met ‘n narkotiese effek is nie. Dit is natuurlik ‘n bykomende bekommernis as dit kom by forensiese toetse as jy gearresteer is. Wie wil nou in 'n polisiesel aangehou word, terwyl die beamptes inderhaas reëlings moet tref vir sodanige forensiese toetse?
- Die werksplek: Die hof se beslissing is slegs van toepassing op private plekke of private ruimtes. Dit lyk dus onwaarskynlik dat werknemers ooit met gebruik of besit in 'n gewone kantoorsituasie kan wegkom. Wat van 'n werknemer wat vir werk aanmeld terwyl hy nog steeds onder die invloed is? Dit is ooglopend 'n baie slegte idee. Werknemers het 'n algemene plig om hul take en werksfunksies behoorlik te verrig. As jy dit nie doen nie, stel jy jou op die minste bloot aan 'n dissiplinêre waarskuwing. Vir enigiemand in ‘n posisie waar totale soberheid ononderhandelbaar is, is hier uiteraad baie meer as net 'n waarskuwing op die spel. Hier dink ons aan swaar masjienoperateurs, mediese personeel soos chirurge en narkotiseurs, vlieëniers (en ander vlugverwante- en navigasiepersoneel), skeepskapteins, bus-en vragmotorbestuurders om maar net ‘n paar van die ooglopende posisies aan te raak.
Werkgewers: ‘n Laaste nota
Het julle ‘n nugterheidsbeleid in plek? ‘n Beleid wat behoorlik opgestel is, behoort enige onduidelikheid en dispute oor die werkgewer se vereistes uit die weg te ruim. In die lig van hierdie nuutste uitspraak, doen ons aan die hand dat dit juis nou ‘n goeie tyd is om jou prokureur te versoek om die werk se nugterheidsbeleid deur te gaan, op te dateer en dan te implementeer.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.