Werkgewers – oorweeg julle dit om Covid 19 inentings verpligtend te maak?
“Employers should find a reasonable resolution that accommodates all parties where employees refuse to be vaccinated for medical and constitutional grounds” (Ministry of Employment and Labour)
Die Covid 19 pandemie is regoor die wêreld nog in volle swang. Dit het tot gevolg dat besighede toenemend probeer om botsende belange te balanseer. Aan die een kant is ons verplig om toe te sien dat die publiek, kliënte en werknemers in veiligheid kan handel en werk. Aan die ander kant het mense verskillende sienings en opvattings oor die aanvaarbaarheid van die inentings. Mense het ook die grondwetlike reg op liggaamlike en sielkundige integriteit en om hul eie keuses te maak oor inentings gegrond op hul eie sienings, opvattings en geloof.
Hier is duidelik botsende regte en verpligtinge ter sprake. Werkgewers wil weet of hul personeel ingeënt moet word om die publiek, kliënte en ander werknemers te beskerm. Kan mens so ver gaan as om daarop aan te dring dat werknemers wel ingeënt moet word, of beweeg ons dan in die gevaarlike rigting van onbillike arbeidspraktyke?
Die Minister se “Gewysigde Gekonsolideerde Aanwysing”
(“Amended Consolidated Direction on Occupational Health and Safety Measures in Certain Workplaces”)
Op 11 Junie 2021 het die Minister van Indiensneming en Arbeid hierdie Gewysigde Gekonsolideerde Aanwysing onder die Nasionale Rampbestuur se Regulasies afgekondig om hierdie vrae aan te spreek.
Die Aanwysing is lank en ingewikkeld. Dit beskryf die minimum maatreëls wat gedurende die pandemie in die werksplek nagekom moet word, so kry professionele raad oor jul spesifieke vereistes. In wese is dit ‘n amptelike gids vir werkgewers wat inentings by hul werksplek verpligtend wil maak of gedeeltelik verpligtend wil maak. Die volgende moet as ‘n minimum nagekom word.
- Doen ‘n risikobepaling
Hierdie risikobepaling (die teikendatum hiervoor was 2 Julie 2021) het ten doel om die volgende vas te stel (a) of inentings verpligtend gemaak sou word in die lig van die werksplek se “operasionele vereistes” en indien wel dan (b) wie van die personeel sou dan verplig word om ingeënt te word. Die belangrike faktore hier is die risiko van oordraagbaarheid en infeksie van werknemers deur hul werk en die risiko van ernstige Covid 19 of dood as gevolg van hul ouderdom of bestaande komorbiditeite.
Ander faktore by die oorweging van verpligte inenting is die moontlikheid dat werknemers van die huis af kan funksioneer (steeds verkieslik onder die aangepaste Vlak 1), die aard van die besigheid en werk, of voldoende afstand tussen personeel en besoekers moontlik is, of voldoende lugvloei moontlik is, die lys gaan so aan en is omvattend.
Die datum van 2 Julie is lankal verby en die meeste werkgewers het dit gemis. Wat staan jou as werkgewer nou te doen? Die konsensus is dat werkgewers steeds so gou moontlik hieraan moet voldoen.
- Ontwikkel jou plan vir inentings en beskermende maatreëls
Werkgewers moet hul deur die risikobepaling laat lei. Die plan moet aandui watter beskermende maatreëls in plek is en watter maatreëls julle rondom verpligte inenting wil instel.
- Risikobepaling, die plan en konsultasie
Die werkgewer moet vanuit die staanspoor eers met die werknemers se verteenwoordigende vakbond of gesondheids- en veiligheidskommittee of ander verteenwoordigers konsulteer. Hierby inbegrepe is die kwessies van kommunikasie, opleiding en die verskaffing van inligting. Daar is natuurlik heelwat voorbehoude en besware wat op wetenskaplike gronde berus; wat nog van al die fopnuus rondom Covid-19, die pandemie en inentings. Dit is dus tot voordeel van die werkgewer om hul werknemers in te lig oor hul regte, om te help met die onderskeid tussen werklike nuus en fopnuus, om werknemers se vrese en voorbehoude in ag te neem en aan te spreek, om die voordele van jul plan aan almal te verduidelik en om na konsensus hieroor te streef.
- Maak die plan beskikbaar
Die plan moet beskikbaar wees vir alle werknemers en hul verteenwoordigers hierbo in punt 3 gelys asook die inspekteurs ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid.
- Ander vereistes en faktore van belang
Die werkgewer kan die volgende oorweeg, indien van toepassing. Hierdie is nie ‘n volledige lys nie. Reël vir vervoer van die werksplek na die naaste inentingsentrum, gee verlof vir inenting of reël vir inenting gedurende werksure, siekteverlof vir werknemers wat nagevolge ontwikkel van die inenting, berading en inligtingsessies deur deskundiges oor die voordele van inentings. Daar is ook voorgeskrewe prosedures in gevalle waar werknemers mediese of etiese besware teen die inenting het. Indien dit moontlik is, mag dit dalk nodig wees om ‘n werknemer binne die organisasie rond te skuif om die beswaar teen inenting te hanteer.
Elke werksplek is egter anders …
WAAR KAN DIE WERKGEWER DIE STREEP TREK?
Daar is spekulasie dat verpligte inentings binnekort ‘n realiteit gaan wees, in die algemeen of ten minste in sekere sektore van die ekonomie. Ons sien reeds in die media dat sekere groot werkgewers beleide gaan instel om inentings onder hul werknemers verpligtend te maak. Dit nadat hul regsadvies hieroor verkry het. Sal ons howe aflegging van werknemers ondersteun wat weier om ingeënt te word? Ons lees van ‘n regter in die Hooggeregshof wat vir die gesondheid van hofgangers slegs mense in die hof sal toelaat indien hulle kan bewys dat hul ingeënt is of dat hul negatief toets vir Covid 19.
Ons moet beklemtoon dat elke situasie, elke werksplek en elke werknemer anders gaan wees. Met die moontlike omvangryke nagevolge wat uit ‘n arbeidsoogpunt ter sprake is, kan ons hier net beklemtoon dat die werkgewer hier met uiterste omsigtigheid te werk moet gaan. Verkry asseblief die nodige professionele insette en advies.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.