Verkopers van eiendom: Hoe, hoekom en wanneer om jou eie Aktebesorger te kies en aan te stel
“Daar is baie op die spel met die oordrag van vaste eiendom. Dit is gewoonlik die grootste enkele bate wat ‘n persoon besit en die transaksie vir die koop of verkoop van ‘n vaste eiendom is waarskynlik die belangrikste kontrak wat deur individue aangegaan word.” (Wetsgenootskap van Suid-Afrika)
Vir die meeste van ons, is ons huis die belangrikste bate wat ons besit. Wanneer die tyd aanbreek om hierdie bate te verkoop, moet ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat ons belange ten volle beskerm word, dat die verkoop spoedig en seepglad verloop, en dat die koopprys sonder onnodige vertragings oorbetaal word.
Die aanstelling van ‘n bekwame aktebesorger is hier van uiterste belang. Kom ons kyk nou na die “Hoekom, Wie, Hoe en Wanneer”.
Waarom het ek ‘n aktebesorger nodig?
Eienaarskap van “onroerende” of “vaste” eiendom (met ander woorde, grond en die permamente strukture daarop, soos geboue) kan slegs van ‘n verkoper na ‘n koper oorgedra word deur ‘n formele registrasieproses in die toepaslike Aktekantoor. Hierdie prosesse en funksies mag slegs gedoen word deur spesialis-prokureurs wat ingeskryf en wat deur die hof toegelaat is om as aktebesorgers te praktiseer.
Wie mag die aktebesorger aanstel en hoe word dit gedoen?
As verkoper is dit jou reg om te besluit watter aktebesorger die oordrag sal hanteer.
Die Koopooreenkoms (dit word ook dikwels ‘n “Aanbod om te Koop” of “Koopkontrak” of iets soortgelyk genoem) sal ‘n spesifieke klousule bevat waar die aktebesorger (of “oordragprokureur”) benoem word. Maak seker dat jy jou gekose prokureur se naam en besonderhede hier invul, en moenie toelaat dat enigiemand anders vir jou voorskryf wie om te gebruik nie!
Jy mag soms te doen kry met ‘n aanbieder/koper wat vir welke rede ookal sy eie prokureur wil aanstel. Die argument is dan dikwels dat, aangesien die koper die oordragkostes (insluitende die aktebesorger se fooie) betaal, die keuse die koper s’n moet wees. Dit is egter die verkoper wat die groter risiko dra. Dit is ook heeltemal aanvaarbaar vir ‘n koper om in elk geval sy eie prokureur aan te stel om die oordrag namens hom te monitor indien hy dit nodig ag.
As verkoper behoort jy hierdie reg van jou uit te oefen. Dit is immers jou huis wat ter sprake is, so die keuse is joune en joune alleen.
Hoe om die regte aktebesorger te kies
Hierdie is ‘n belangrike besluit. Jy moet iemand aanstel wat jy vertrou om die proses op ‘n hoogs professionele wyse te hanteer -
- Spoed is belangrik (“tyd is geld”!). Hoewel ‘n sekere mate van vertraging dikwels onontbeerlik is (as gevolg van formaliteite en rompslomp kenmerkend van die oordragproses), sal ‘n pro-aktiewe en toegewyde aktebesorger die vertragings tot ‘n minimum beperk.
- Kommunikasie: Vorderingsverslae moet gereeld en tydig uitgestuur word, sodat die partye op hoogte kan bly met die stappe in die proses.
- Noukeurigheid is uiters belangrik. Aktebesorging is ‘n gespesialiseerde veld, wat noukeurige nakoming van ‘n legio reëls en regulasies vereis. Elke verkoopstransaksie is uniek, met spesifieke voorwaardes en bepalings wat van toepassing is en waaraan uitvoering gegee moet word.
- Kubersekuriteit het ook ‘n belangrike oorweging in vandag se tyd geword, in besonder met betrekking to die integriteit van e-posse. Jy sal natuurlik jou deel ook moet nakom. (Jy moet byvoorbeeld nooit ‘n e-pos wat oënskynlik van jou prokureur af kom om jou van “hul nuwe bankbesonderhede te adviseer”, sonder meer aanvaar nie). Jy sal egter rustiger kan slaap indien jy weet dat jou gekose prokureursfirma die nodige sekuriteitsprotokolle in plek het om te verseker dat die koopprys inderdaad in jou rekening gaan eindig.
- Jy soek hier onkreukbare integriteit - jy en almal wat by die oordragproses betrokke is, het baie op die spel.
Op watter stadium moet ek my prokureur by die verkoopproses betrek?
Verkieslik sal jy jou prokureur vanuit die staanspoor by die proses betrek. Wanneer jy aanvanklik besluit om te verkoop, kan jou prokureur vir jou waardevolle advies gee oor hoe om te werk te gaan, of dit nodig is om deur ‘n agentskap te werk, wat die beste manier is om jou eiendom te bemark, hoe om sekere slaggate te vermy, en so aan.
Wanneer dit by die ooreenkoms self kom, is daar heelwat wat verkeerd kan gaan indien die kontrak nie professioneel voorberei is nie. ‘n Koopkontrak moet duidelik, bondig en regtens afdwingbaar wees. Dit moet ook so opgestel word dat dit jou belange beskerm. Indien ‘n aanbod of ‘n ooreenkoms aan jou voorgelê word wat deur iemand anders voorberei is, is dit dus ‘n goeie idee om eers saam met jou prokureur daardeur te gaan voordat jy tot enigiets instem of enigiets onderteken!
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.