Die Geval Van Die Geskokte Fietsryer – Nog Meer Risiko Vir Verskaffers
‘n “Geen skuld” beginsel skep nou selfs groter aanspreeklikheid
Om saam te vat; die WVB skep aanspreeklikheid vir enige vorm of vlak van skade aan ‘n persoon of eiendom wat voortspruit uit foutiewe of onveilige produkte.
Wat hier van belang is, is dat daar geen vorm van nalatigheid aan jou kant bewys hoef te word nie. Aanspreeklikheid word nou op ‘n “geen skuld” basis oftewel op strenge aanspreeklikheid toegedeel. Daar is wel ‘n paar verwere wat ter verdediging aangevoer kan word, maar dit bly beperk.
‘n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof bevestig dat daar nou baie meer risiko op jou rus. Jou aanspreeklikheid is nie beperk tot die verbruiker van die produk nie, maar jy kan ook teenoor onskuldige omstanders en dies meer aanspreeklik gehou word.
‘n Gebrande en geskokte fietsryer dagvaar Eskom
- ‘n Lewendige kraglyn het laag oor ‘n voetpad gehang. ‘n Ongelukkige fietsryer het teen die hangende draad vasgery.
- Die fietsryer het erge elektriese skokke opgedoen in so ‘n mate dat sy klere aan sy lyf aan die brand geraak het. Hy is gered deur die vinnige optrede van sy vriende wat saam met hom gery het. Hulle kon hom van die elektriese kabel af wegtrek, die vlamme blus en hom weer bybring nadat hy in geheel opgehou het om asem te haal.
- Die fietsryer was ernstig beseer. Hy het vir Eskom vir sy aansienlike skade gedagvaar en hy baseer sy eis op die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming.
Is jou aanspreeklikheid slegs teenoor “verbruikers” of teenoor almal?
- Eskom het erken dat dit verantwoordelik was vir die oprigting en instandhouding van die kraglyn. Eskom was verder die produsent en die verspreider van die elektrisiteit. Eskom het egter aanspreeklikheid ontken en voer aan dat die fietsryer nie in hierdie geval ‘n verbruiker of gebruiker van elektrisiteit was nie. Eskom het aangevoer dat die WVB slegs “verbruikers” van produkte beskerm en niemand anders nie.
- Die Hof het egter die bewoording, gees en bedoeling van die Wet op Verbruikersbeskerming nagegaan en ontleed en het tot die gevolg gekom dat dit nie die geval is nie. Die Hof bevind dat jy nie ‘n verbruiker in die kontraktuele sin van die woord hoef te wees om ‘n eis te hê nie. ‘n Derde party soos ‘n onskuldige buitestaander sal ook beskerm word. Die fietsryer was dus daarop geregtig dat Eskom hom vir sy bewese skade moes vergoed.
Bestuur jou risiko
- Neem regsadvies oor die omvang van jou blootstelling, gaan jou verskaffingskontrakte, verbruikersinstruksies en waarskuwings na en versterk jou gehaltebeheer prosedures.
- Maak seker dat jou versekering vir produkaanspreeklikheid ook eise van die Wet op Verbruikersbeskerming dek. Onthou dat jy strenge aanspreeklikheid teenoor verbruikers sowel as onskuldige derde partye kan opdoen.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.