Gaan jy in 2016 jou nuwe besigheid begin? 3 stappe om jou aan die gang te kry
Op ekonomiese front het ons die jaar 2015 stormagtig afgesluit; en dit lyk of onstuimige waters ook in 2016 vir ons wag. In besigheid help dit altyd om dapper te wees, maar mens moet ook realisties bly oor die werklike vooruitsigte.
As jy ‘n briljante besigheidsidee het en dit nog altyd jou droom was om jou werkgewer vaarwel toe te roep, kan 2016 jou groot jaar wees.
Begin met die volgende drie stappe -
- Is jy geskik vir die opwinding, laat nagte, risiko, opbrengste, hoogtepunte en laagtepunte wat deel is van entrepreneurskap? Vind uit deur self jou persoonlikheidsprofiel uit ‘n sielkundige hoek te bepaal. Doen die “Entrepreneurial Personality Profile” toets op “Psychology Today” se webwerf tehttp://psychologytoday.tests.psychtests.com/take_test.php?idRegTest=3204.
- Het jy die toets geslaag? Fantasties. Nou vir sinvolle en praktiese riglyne. Besoek Business Partners se webwerf vir “Starting a business: Ten simple rules for a successful start-up” tehttp://www.businesspartners.co.za/starting-a-business/. (Reël 10 is veral belangrik en beklemtoon dat jy jou besigheid se uitdagings moet geniet.)
- Steeds op koers? Oorweeg nou die mees geskikte handelsvorm of -entiteit vir die besigheid waarin jy sake gaan doen. Dit kan die lewe vir jou maklik maak as jy vanuit die staanspoor in die geskikte entiteit sake doen. Anders begin jy in een vorm en moet later teen groot onkostes oorskakel. Dink maar aan die veelvuldige regs- en belastingimplikasies. Wil jy regtig weer die burokratiese perde by SARS en by Telkom en by jou bank en desnoods ook by jou verskaffers en kliënte opsaal om jou besigheid in ‘n ander entiteit te verander?
In Suid Afrika is daar vier opsies om van te kies –
- Alleeneienaar. Hier is net een eienaar – jy is die besigheid.
- ‘n Vennootskap met 2 tot 20 eienaars.
- ‘n Private maatskappy (“Edms Bpk”) met die moontlikheid van baie eienaars in die vorm van geregistreerde aandeelhouers. Beslote korporasies (BK’s) bestaan nog, maar geen nuwe korporasies word meer geregistreer nie.
- ‘n Besigheidstrust hou ook in dat daar verskeie rolspelers in die besigheid kan wees.
Daar is ook gespesialiseerde tipes maatskappye – dink aan ingelyfde professionele maatskappye wat deur dokters, ingenieurs, ouditeure en prokureurs gebruik word asook nie winsgewende entiteite en liefdadigheidsorganisasies. Om dinge eenvoudig te hou, bespreek ons vir eers net die vier tipes wat hierbo vermeld word.
Ons sal in toekomstige uitgawes in meer besonderhede na elkeen van hierdie vier besigheidsvorme kyk. Intussen is dit belangrik om te besef dat jy professionele leiding benodig ten einde die mees gepaste vorm te identifiseer. Daar is verskillende regs- en belastingimplikasies wat by elkeen van die vier oorweeg moet word. Wees dus bedag hierop en verkry professionele advies om seker te maak dat jy dit uit die staanspoor reg doen.
Hierdie is die eerste artikel in ons reeks “Kies die gepaste regsentiteit vir jou besigheid”. In ons volgende nuusbrief sal ons in meer diepte kyk na Alleeneienaarskap.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.