Die Winkel Met Die Gladde Vloer: Verpligtinge En Skadevergoeding
In beginsel sal jy wel oor ‘n eis beskik, indien jy kan aantoon dat die winkel en sy werknemers nalatig was. So ‘n saak is onlangs in die Hoogste Hof van Appèl beslis. Hier het die klant gegly en geval op die gladde vloeroppervlak, nadat ‘n skoonmaker die vloer tydens ‘n besige tyd, met ‘n mop skoongemaak het. Daar was wel ‘n duidelike waarskuwingsteken, maar hierdie teken was ‘n ent weg van waar die klant gegly en haar beserings opgedoen het.
Ons howe het al deurlopend bevind dat daar op alle winkeleienaars ‘n verpligting rus om seker te maak dat die winkel ‘n veilige perseel vir sy klante sal wees. Die winkeleienaar moet dus alle redelike stappe neem om enige gevaar of risiko vir die gebruikers van die winkel te verwyder of ten minste tot die minimum te beperk. In hierdie geval is beslis dat die skoonmaker nalatig was omdat hy nie toegesien het dat die vloer droog en veilig was, nadat dit met die mop skoongemaak is nie.
Die besoeker se eis vir skadevergoeding
Indien jy in ‘n winkel beseer word, moet jy advies neem oor ‘n moontlike eis vir skadevergoeding, waar jy van mening is dat die winkeleienaar en sy werknemers nalatig was.
Winkeleienaars – die oorsiglys
- Indien jy met ‘n onafhanklike skoonmaakdiens kontrakteer, vra jou regsadviseur om die bepalings van die kontrak deur te gaan, voordat jy dit teken. In hierdie geval het die winkeleienaar probeer om die verantwoordelikheid na die skoonmaakdiens te verskuif. Die winkeleienaar kon egter nie oortuigende bewys lewer dat die skoonmaakdiens ‘n onafhanklike kontrakteur was nie.
- Maak seker dat jy voldoende versekeringsdekking vir so ‘n gebeurlikheid en vir so ‘n eis het.
- Kyk weer na die winkel se voorgeskrewe prosedures en skoonmaak roetine. Hoe word daar skoongemaak wanneer produkte op die vloer val en breek? Hoe word die roetine skoonmaak van die winkel hanteer, wat hier direk tot die ongeluk en die klant se beserings aanleiding gegee het.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.