Immigrante, Besoekers En Ouers Van Minderjarige Kinders: Nuwe Reëls Vir Reisigers, Nuwe Risiko’s
Wat is die risiko as jy nie aan die regulasies voldoen nie?
Die Regulasies is ingewikkeld en deurspek met grys areas. Dit word ook dikwels op kort kennisgewing gewysig. Indien jy in Suid-Afrika is of beplan om binnekort hier besoek af te lê met ‘n visum of ‘n permit (die meeste permitte onder die ou stelsel word nou visums genoem), moet jy eers vasstel wat die huidige posisie is. Let veral daarop dat sekere besoekers nou as “ongewens” verklaar kan word en dat hulle verbied kan word om Suid-Afrika te besoek. Let ook op die nuwe reëls wat op kinders van toepassing is.
Drastiese veranderinge
Van die drastiese veranderinge waarvan jy moet kennis neem is die volgende:-
- Indien jou visum verleng moet word, moet jy ten minste 60 dae voordat die huidige visum verval, vir die verlenging aansoek doen (voorheen was dit 30 dae).
- Indien jou visum verval het, kon jy voorheen net ‘n boetebedrag betaal wanneer jy die land verlaat het. Dit het nou weggeval. Nou loop jy die gevaar om as ‘n “ongewenste” besoeker verklaar te word, wat inhou dat jy ook verbied word om vir bepaalde tye weer in Suid-Afrika besoek af te lê:–
- 1 jaar indien jou besoek die toegelate tyd met 30 dae of minder oorskry het;
- 2 jaar indien jy vir ‘n tweede keer in 24 maande die toegelate tyd oorskry het;
- 5 jaar indien jy jou toegelate besoek met 30 dae of meer oorskry.
Indien dit met jou gebeur, beveel ons aan dat jy sonder versuim met die appèlprosedure begin.
- Jy moet in jou land van oorsprong aansoek doen vir binnekoms-, deurreis- of visums vir tydelike verblyf.
- Daar mag dalk ‘n verandering ontstaan in die aard van jou besoek in Suid-Afrika en jou besoekersvisum of visum vir mediese behandeling moet dalk verander word na ‘n visum vir tydelike verblyf in Suid-Afrika. Daar word dan van jou verwag om die land te verlaat (met slegs beperkte uitsonderings) en in die land van jou oorsprong aansoek te doen vir so ‘n verandering in jou visum.
- Die reëls met betrekking tot werk, sake, intra-maatskappy werksvisums en korporatiewe visums het ook verander. Visums vir besoekers met uitsonderlike vaardighede en kwotawerk word nou vervang met visums vir mense met kritiese vaardighede.
- Mense wat aansoek doen vir visums as ‘n gade of wat aansoek doen vir permanente verblyf as ‘n gade, moet kan bewys dat hulle al vir langer as twee jaar in ‘n vaste verhouding met mekaar is.
- Aansoekers vir visums of vir permanente verblyf as ‘n lewensmaat moet die volgende doen:-
- Bewyse indien, insluitend ‘n notariële ooreenkoms, ‘n voorgeskrewe beëdigde verklaring en dokumentasie om finansiële ondersteuning te wys, asook ‘n verklaring met die strekking dat die partye al langer as twee jaar ‘n paartjie is en dat hul in hierdie tyd in ‘n eksklusiewe lewensverhouding met mekaar verbind was;
- Elkeen sal ‘n aparte onderhoud met die beampte of beamptes moet voer wat ten doel het om die egtheid van die verhouding vas te stel en te bevestig.
- Kinders: Nuwe reëls sal vanaf 1 Oktober van toepassing wees, wanneer iemand op reis wil gaan met kinders en/of met minderjariges wat sonder hul ouers saamreis. Kinders moet hul paspoorte sowel as hul volledige geboortesertifikate by hul hê. Indien slegs een ouer of slegs ‘n verantwoordelike volwassene, soos ‘n familielid, onderwyser of spanafrigter saam met die kind reis, is daar verdere dokumentasie wat benodig word, na gelang van die geval. Afgesien van ‘n beëdigde verklaring van die afwesige ouer is daar ook ander dokumentasie wat benodig word, insluitende die volledige geboortesertifikaat van die reisende kind. Verkry advies voordat jy jou reisplanne finaliseer en doen betyds aansoek vir die volledige geboortesertifikate. In die verlede was drie maande gewoonlik voldoende tyd om toe te laat vir so ‘n aansoek, maar dit is duidelik dat Binnelandse Sake reeds toegeval word met aansoeke, wat die verwerkingsperiode gaan verleng.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.