Stop die bure as daar onwettig gebou word
Jy het gelukkig die ondersteuning van regspraak aan jou kant, soos blyk uit ‘n onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. Hier bevind die Hof dat jy verder kan gaan as net om die munisipaliteit te probeer kry om hul eie bouregulasies en soneringswetgewing af te dwing – jy kan self die Hof direk nader vir ‘n stakingsbevel of ‘n slopingsbevel.
Slopingsbevel toegestaan – ten spyte van die munisipaliteit
- ‘n Nuwe ontwikkeling van kleinhandel- en kantoorruimte het die toegelate dekking substansieel oorskry. Die plaaslike stadsbeplanningskema het voorsien dat nie meer as 60% van die grond toegebou mag word nie, terwyl die ontwikkeling meer as 86% toegebou het. Daar was ook nie voldoende voorsiening vir parkeergebiede nie.
- Die ontwikkelaar het beweer dat die betrokke munisipaliteit die bouplanne goedgekeur het. Die Hof vind dit moeilik om enige werklike samewerking of duidelike terugvoering van die munisipaliteit te kry. Al wat werklik duidelik is, indien die munisipaliteit goedkeuring verleen het, blyk dit dat die munisipaliteit sodanige goedkeuring later teruggetrek het.
- Die Hof bevind dat, selfs indien sodanige goedkeuring verleen is, dit in elk geval tersyde gestel moet word. Die Hof beveel die ontwikkelaar dan om dele van die ontwikkeling te sloop, ten einde dit in pas te bring met die tersaaklike bouregulasies en wetgewing.
Die Appèlhof het ook die reg van belanghebbende partye en bure om self aansoek te doen vir ‘n slopingsbevel, bevestig. Dit is ‘n belangrike wapen in die stryd teen onwettige konstruksiepraktyke, maar dit is nie die optimale posisie nie.
Waar jy persoonlik (in teenstelling met die munisipaliteit) ‘n aansoek vir ‘n slopingsbevel bring, is die beginsels van die privaatreg en die burereg van toepassing. ‘n Hof is onder geen verpligting om ‘n slopingsbevel toe te staan nie en sal altyd ‘n diskresie hieroor hê. ‘n Slopingsbevel is natuurlik ‘n uiterste remedie en die Hof kan heel moontlik ‘n alternatiewe bevel toestaan, insluitende ‘n bevel van skadevergoeding. In hierdie geval lyk dit of die ontwikkelaar sy lot verseël het, deur onverpoosd voort te gaan met die onwettige bouwerk, nadat die onwettigheid van hul optrede aan hulle uitgewys is.
Waar die munisipaliteit aktief toetree en self die aansoek vir sloping bring, is die beginsels van die publiekreg van toepassing. Ons howe het reeds bevind dat dit oor geen diskresie beskik waar geboue onwettig, ingevolge die publiekreg, opgerig is nie. Die Hof moet dan ‘n slopingsbevel toestaan.
Daarom is dit altyd beter om die munisipaliteit te kry om self hul bouregulasies af te dwing en om in die proses die oortreder hof toe te neem.
Die belangrikste is egter om so gou as moontlik in te gryp en op te tree. Kry dus dadelik advies sodra jy bewus raak van enige onwettige konstruksie of stappe om met bouwerk te begin.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.