Koop jou eerste huis – jy benodig ‘n aksieplan
“Buy land – they’ve stopped making it” (Mark Twain)
Jy het besluit dat dit tyd is om jou eerste woning te koop. Dit is opwindend! Dit is ‘n groot stap om jou eerste woning te koop en daarin te bly. As jy die regte keuse maak, kan dit een van die beste beleggings van jou lewe wees.
Hou die volgende in gedagte -
In die eerste plek moet jy weet hoeveel kontant jy nodig gaan hê
Maak ‘n lys van al die kostes en uitgawes wat jy nodig gaan hê (daar is ‘n oorvloed van webwerwe beskikbaar waarop jy die kostes van oordrag en die kostes van verbandregistrasies kan vasstel. Google dit en kies een wat vir jou sinvol lyk) –
-
Deposito: Tensy jy in ‘n posisie is om die hele koopprys in kontant te betaal, gaan jy ‘n verbandlening benodig. Dalk kwalifiseer jy vir ‘n 100% verband, maar jy gaan waarskynlik moet reg wees om ‘n kontantdeposito van tussen 5% en 10% te betaal. As jy ‘n groter deposito kan betaal, is dit tot jou voordeel met ‘n kleiner verbandbedrag.
-
Verbandregistrasiekostes: Die bank se verbandprokureurs gaan die verband in die Aktekantoor moet registreer en jy gaan hulle kostes moet betaal. Die bank sal ook normaalweg ‘n aanvanklike fooi op die lening hef.
-
Oordragskostes: Dit is standaard vir die Koper om die oordragskostes te betaal, al is dit gebruiklik vir die Verkoper om die oordragsprokureurs aan te stel.
- Hereregte: Dit is ‘n belasting wat SARS van jou verhaal vir die voorreg om eienaar te word van jou eiendom. As jy by ‘n ontwikkelaar koop is daar gewooonlik BTW by die koopprys ingesluit en is daar nie verdere Hereregte betaalbaar nie. Hereregte is ingevolge ‘n glyskaal betaalbaar en is betaalbaar sodra die koopprys meer as R900 000 beloop.
- Verwante kostes: Maak ‘n lys – verhuisingskostes, vervoerkostes, aanvanklike veranderings wat jy by die nuwe huis gaan aanbring, dink ook aan ligte en gordyne/blindings en die installering van jou televisiekabels en internet verbindings om ‘n paar te noem. Maak maar die lys, dit is verbasend hoe vinnig hierdie kostes oploop.
Wat is die prysklas waarna jy kyk?
Jy het nou die bedrag wat jy benodig vir eenmalige kostes van die transaksie en om jou intrek te maak. Jy moet ook jou lopende en herhalende kostes in berekening bring, want dit gaan bepaal wat jy oor die langtermyn vir jou woning kan bekostig en kan betaal.
-
Herhalende en maandelikse kostes: Maak voorsiening vir munisipale belastings, heffings, huiseienaarsversekering, water, elektrisiteit en so aan. Jy moet ook voorsiening maak vir herhalende onderhoudskostes, vir jou woning en jou tuin, oor die kort- en langtermyn.
- Verbandpaaiemente: Dit is uiters belangrik. Gaan jy tevrede wees met die lewenstyl wat jy kan bekostig nadat jy voorsiening gemaak het vir die betaling van jou huisverband en ander verpligte uitgawes. Wanneer jy aansoek doen vir ‘n verband moet jy by verskeie banke navraag doen om die beste rentekoers te verseker. Jy moet seker wees dat jy ten alle tye jou maandelikse verbandpaaiement gaan kan betaal, selfs wanneer rentekoerse gaan styg. Verkry goedkeuring vir jou verbandbedrag voordat jy ‘n aanbod maak. Met vandag se beperkende bepalings vir kredietverskaffers, maak dit jou lewe net makliker as jy voor die tyd weet wat die verbandbedrag is wat jy kan bekostig en waarvoor jy kwalifiseer. Dit sal jou ook help wanneer jy in finale onderhandeling oor ‘n eiendom tree as jy dan al kan aandui dat jou finansies reeds agtermekaar is.
Wat is die resultaat? Jy het jou begroting en jy weet wat die verbandbedrag is waarvoor jy kwalifiseer. Nou oor na die volgende stap.
Waar is my huis?
Hier is baie vrae wat jy moet beantwoord.
-
Ligging, ligging, ligging: Op watter omliggende areas gaan jy konsentreer? Waar wil jy woon? Watter lewenstyl is op hierdie stadium van jou lewe gepas vir jou? Watter geriewe wil jy naby jou woning hê? Doen navorsing oor die gebied. Wat is die gemiddelde koopprys vir die omgewing? Is dit in pas met jou begroting? Het die omgewing ‘n geskiedenis van positiewe groei in huispryse en is die vooruitsig dat dit so sal voortgaan? Hoe lyk die misdaadvlakke in die omgewing?
-
Soekfunksies: Jy het jou prysklas en jy het die gebiede wat vir jou reg lyk. Nou moet jy daardie huis gaan soek. Lekker! Die meeste navorsing word aanlyn gedoen, maar jy kies natuurlik die metode waarmee jy gemaklik is.
- Eiendom in ‘n gemeenskapskema: Jy moet seker maak oor die Reëls en Regulasies wat op jou as eienaar van toepassing gaan wees. Maak seker dat die Huiseienaarsvereniging of Regspersoon se finansies in orde is en dat die belangrike onderhoudswerk oor die jare gedoen is. Vra vir die geouditeerde finansiële state en bestuurstate. Kry duidelikheid op skrif oor enige spesiale heffings of enige ander groot uitgawes wat aangegaan moet word of wat in die pyplyn is.
- Planne, afwykings en die res: Vra vir afskrifte van alle goedgekeurde bouplanne (kyk of daar enige afwykings van die planne was of dalk onwettige strukture opgerig is), doen navraag oor en kyk self vir enige gebreke soos dakke wat lek, probleme met fondasies ensovoorts. Oorweeg dit eerder om ‘n professionele verslag aan te vra, tensy jy self in geheel in staat is om self die toestand van die huis vas te stel. Twee stelle oë is altyd beter as een, veral as dit deur ‘n kenner gedoen word.
Benader die transaksie as die mees belangrike finansiële besluit wat jy in jou lewe gaan maak. Dit is waarskynlik die geval.
Jy gaan ‘n aanbod maak. Die regsposisie
Jy is nou gereed om ‘n aanbod op die huis van jou keuse te maak. Daar is opwinding in die lug. Gaan die verkoper jou aanbod so aanvaar? Of dalk ‘n teenaanbod maak? Jy kan nou nie meer wag nie. Die Koopooreenkoms word aan jou voorgehou, die pen word aan jou uitgehou – ‘Teken net hier, ons sal die res doen.”
Hou net vas!
Hoekom enige kanse neem. Voordat jy teken, moet jy eers die Koopooreenkoms saam met jou eie prokureur deurgaan. Laat jou eie prokureur die nodige soeke by die Aktekantoor doen en die bestaande titelakte en die voorwaardes daarop deurgaan. Is daar enige beperkende voorwaardes op die titelakte waardeur jou eienaarskap ingeperk word? Is daar serwitute waardeur ander mense sekere regte oor jou eiendom verkry? So kan mens aangaan.
Met die verkoop van eiendom moet alles op skif wees. Mondelinge ondernemings en bevestigings wat aan jou gemaak word, moet beslis op skrif gestel word en deur beide partye onderteken word en moet as addendums tot die koopooreenkoms gevoeg word. Gee dit aan jou prokureur deur en maak seker dat dit op skrif deel word van die koopooreenkoms.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.