“Jy word afgedank” teenoor “Nee, ek bedank” – wie is reg?
Een van jou werknemers moet van ernstige wangedrag aangekla word en jy begin met ‘n dissiplinêre verhoor. Ten einde te voorkom dat hy afgedank word, spring die werknemer jou voor en bedank dan self met onmiddellike effek.
Kan jy met die dissiplinêre proses aangaan? Tot onlangs was die gesag van die Arbeidshof dat die bedanking die diensverhouding tot ‘n einde gebring het. Die werknemer en die werkgewer se paaie het geskei en die werknemer is nou buite bereik van die werkgewer.
Die Arbeidshof het hierdie situasie weereens oorweeg en het nou in die guns van die werkgewer beslis.
Soek daardie gaping
- Die uitvoerende direkteur en hoofkurator van ‘n kunsmuseum is deur sy werkgewer gevra om skriftelik op bewerings van ernstige wangedrag teen hom te reageer.
- Hierna het hy aangedui dat hy sonder ‘n kennisgewingstydperk en met onmiddellike effek bedank. Hy het die Arbeidshof genader om sy bedanking te erken en om te verklaar dat die werkgewer nie meer jurisdiksie gehad het om met enige dissiplinêre stappe teen hom aan te gaan nie.
- Die Arbeidshof het hierdie aansoek geweier en die hof bevind dat –
- Die diensooreenkoms kom eers tot ‘n einde wanneer die bedanking aan die einde van die ooreengekome kennisgewingsperiode in werking tree (in hierdie geval was dit vier weke).
- Dit is net die werkgewer wat kan besluit om ‘n bedanking met onmiddellike effek te aanvaar of nie. Die werkgewer kan daarop aandring dat die ooreengekome kenisgewingstydperk gewerk moet word, besluit om die ooreenkoms te kanselleer en skadeveroeding te eis, ‘n ander ooreenkoms met die werknemer aan te gaan of afstand doen van die regte wat in de oorspronklike ooreenkoms vervat is.
- In hierdie spesifieke geval het die werkgewer nie die werknemer se aanbod om onmiddellik te bedank, aanvaar nie. Die werkgewer was dus geregtig om binne die raamwerk van die oorspronklike diensooreenkoms met die dissiplinêre proses aan te gaan.
Hierdie skuiwergat is dus toegemaak. Die dissiplinêre proses kan dus voortgaan en indien ernstige wangedrag bevind word, bestaan die sterk moontlikheid van ontslag.
Hoe moet die wekgewer dit benader?
Indien jy as werkgewer van voorneme is om aan te gaan met dissiplinêre stappe, moet jy dit aan die werknemer duidelik maak dat sy aanbod of poging om met onmiddellike effek te bedank, nie aanvaar word nie. Aan die einde van die kennisgewingstydperk gaan die diensooreenkoms wel tot ‘n einde kom. As jy dus wil voortgaan met die dissiplinêre proses moet jy dadelik die nodige stappe neem. Verkry kundige regsadvies van ‘n arbeidsregkenner om jou met die prosesse en bepalings en slaggate van ons arbeidsreg te help.
Provided by Simpson Inc
© DotNews. All Rights Reserved.